Volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans het ons die woord “terreur” uit Nederlands geërf. Die Nederlanders het die woord en die konsep by die Franse gekry, toe daar van 1793 tot 1794 ʼn skrikbewind in dié land gevoer is om almal uit te wis wat moontlik ʼn vyand van die rewolusie kon wees, en almal stil te maak wat moontlik iets kon sê wat dit laat klink asof rewolusie nie ʼn goeie idee is nie. Die Franse het die woord uit Latyn gekry: “terrere”, wat beteken om te “laat bewe”. Ons sien duidelik ook die verband met die Engelse “terror”, wat ekstreme vrees aandui.
Volgens die HAT (sesde uitgawe) is terrorisme “skrikaanjaging/intimidasie deur dade van geweld”. Vir ons wat getuies was van die aanvalle op pendeltreine in Moembaai, ʼn woonbuurt in Beiroet, ʼn Russiese passasiersvliegtuig, ʼn treinstasie in Ankara, ʼn universiteitskampus in Kenia, ʼn museum in Tunisië, ʼn sportstadion in Parys, moltreine in Londen, ʼn skool in Pakistan, kleuters in Beslan, vakansiegangers in Bali en kantoorwerkers in Manhattan, is dit nie nuut nie. Ons weet hoe dit lyk en ons weet wat dit doen. En dis nie meer ver nie, en ons is nie meer onbetrokke nie. In ons migrerende, krimpende wêreld ken ons almal iemand wat moontlik direk deur die aanvalle geraak is. Dis hoe nou ons betrokke is.
Ek het nie raad vir ons wat geskrik het nie; en het nie raad vir ʼn wêreld wat so funksioneer nie. Ek het nie raad gehad vir ʼn bestel waar twee moondhede slote in ʼn moddernat mielieland grawe en maande lank oor en weer op mekaar skiet totdat een óf moedeloos óf bankrot raak nie. Ek het ook nie raad vir mense wat soos boorwurms en termiete ʼn samelewing ondergrawe en aanvalle op huisvrouens in ʼn mark en kinders loods nie.
Ek verstaan dit nie en ek wil dit nie verstaan nie. Maar ek weet wel hoekom dit gebeur. Nie oor ʼn beginsel of ʼn geloof of ʼn opvatting of ʼn lewenswyse nie, dis seker. Dit gaan oor mag. Oor hebsug en gierigheid. Oor baasskap. Oor wie die reg het om voor te skryf en room te skep. Oor toegang tot hulpbronne, oor die instandhouding of uitbou of afdwing van ʼn bestel waardeur die terroris oor slagoffers beheer kry.
En dit sien ek elke dag, nie net op die nuus waar noodpersoneel tussen wrakstukke en rook skarrel om stukkende mense weer aanmekaar gelap te kry nie, maar op Facebook, op Twitter, in ons eie parlement, in skole, in sportliggame, in korporatiewe vergaderings, waar mense sonder om te dink mekaar sal verwoes. Nie alle terroriste dra balaklawas nie.
My hart is vandag seer vir die Belge, want dis hulle wat hierdie keer moet optel en skoonmaak ná die verwoesting. Dis hulle wat hulle kinders moet troos en gerusstel terwyl hulle weet die wêreld is nie veilig nie. Maar my hart is eintlik seer vir elkeen van ons, wat in ʼn wêreld moet leef waar ons uitgelewer is aan boelies en swendelaars, aan narsissistiese beheervrate en gewetenlose uitbuiters, geweldenaars en afpersers, wat gryp en breek en verskeur en lekker kry as mense bloei. Mag ons iewers vandaan ʼn manier kry om mekaar te troos. Mag dit vir die slagoffers moontlik word om, met die hulp en ondersteuning van die stil meerderheid, te sê: genoeg. Ons gaan nie langer vir jou bewe nie.