In die branders word taal soms vir ʼn wyle stil

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag, 24 Desember 2016
Gepubliseer in VivA;

Jare gelede vra ek my goeie vriendin, die goeie sielkundige Elmarie (ook bekend as Amalanka Chardonnay): “Analiseer jy nie die hele tyd mense in ʼn geselskap nie?”

“Slegs as hulle my betaal, darling, en die meeste mense kan my nie bekostig nie!” Sy lag ka-ka-ka en skink nog ʼn glas wyn.

ʼn Waardevolle les.

Ek vermoed die meeste mense gaan met vakansie en kan gewoon hulle werk lekker op kantoor agterlaat. Die gemiddelde narkotiseur lê waarskynlik nie op die strand en dink “mmm, daai ou is so vet, hy sal drie Dormicums moet kry” nie. En die gewone deursneeaktuaris kan waarskynlik na die Woolies in Kampsbaai gaan sonder om … wel, te doen wat aktuarisse doen. (Ek het geen idee waarmee hulle hulle brood verdien nie. Ek vermoed hulle is eintlik maar net hoogsopgeleide Excelgebruikers. Of so iets.)

Taalmense rus egter nooit nie, ook nie as hulle met/op vakansie is nie.

Dink ʼn bietjie daaroor: Hoeveel van die tyd wat jy wakker is, is jy op die een of ander manier in aanraking met taal? Selfs as jy alleen is, lees jy ʼn storieboek of tydskrif, of kyk jy TV, of luister jy na musiek (dikwels met woorde), of lees jy die etikette op kosverpakkings. Ook in visuele sosiale media soos Instagram of Snapchat kan jy nie wegkom van woorde nie, want teksgrafika is deesdae modieus.

Taalmense is voortdurend in aanraking met hulle werk: Ons sien taalfoute en potensiële woordspelings orals om ons heen; lees boeke op die strand wat geresenseer moet word; hoor die aksente en konstruksies wat die ou langs jou in die branders gebruik. Ons ken nie stilte nie.

Ek is bevoorreg om deel van ʼn Facebookgroep vir Afrikaanse taalpraktisyns te wees. Elke naweek, elke lang naweek, elke vakansie bly dit gons in daai groep met vrae, antwoorde en besprekings deur vertalers en subredakteurs wat môre se koerante en tydskrifte moet laat verskyn. Soos:

  • Skryf ʼn mens “donker sjokolade” of “donkersjokolade”? (Daar was nog nie konsensus nie, maar ek meen dis “donker sjokolade”, net soos “wit sjokolade”.)
  • Praat 'n mens van “in” of “op” ʼn Wi-Fi-netwerk? (Korpusdata laat blyk dat ʼn mens “op” ʼn netwerk is, maar verbind/koppel “aan” ʼn netwerk.)
  • Is dit “zikavirus” of “Zikavirus”? (Die Taalkommissie het voorlopig “Ebolavirus” goedgekeur, en daarom is dit waarskynlik ook “Zikavirus”. Die reël dat gewone name van plante en diere met kleinletters geskryf word (soos “gaboenadder” en “zambezihaai”) blyk nie virusse te geld nie.)

Selwers verlustig ek my in die plesier om hier aan die Noordkus lekker afgesonderd taalkunde te sit en pleeg. Ek worstel met die “hulle/goed”-konstruksie: Hoekom skryf ons “ma-goed” en “ma-hulle”, maar slegs “skottelgoed” en nie “skottelhulle” nie? Waar kom die konstruksie vandaan? En wat doen ons met “emeritus” in Afrikaans? Is dit “emeritus aartsbiskop Desmond Tutu”, of “emeritus-aartsbiskop” of “emeritusaartsbiskop”? Of moet “emeritus” telkens ná die “aartsbiskop” verskyn?

Daar is geen tyd om te emeriteer of sabbateer nie. Taal is in en om my. Maar soms as ek deur ʼn brander duik en met lang hale nóg vorentoe swem, hoor ek vir ʼn oomblik die stilte. Net soms, vir ʼn oomblik …

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 24 Desember 2016 verskyn.

Beeld logo

Lees 2940 tye Laaste modifikasie op Sondag, 01 Januarie 2017 04:51