Op megafter se spoor

Geplaas deur Jana Luther Maandag, 27 Maart 2017
Gepubliseer in VivA;

“Ken en/of gebruik julle die woord megafter?”

So steek Rita van Rooyen ’n week of wat gelede in die groep Argaïese Afrikaanse Uitdrukkings is Cool by Facebookers kers op. “Die g word uitgespreek soos die g in gholfstok,” sê sy (en voeg dan, met respek, ’n stukkie bog by: “Ek twyfel of daar werklik so ’n woord in Afrikaans of Engels bestaan, al gebruik of ken mense dit.” Bog, ja, want as mense – let op die meervoud – ’n bepaalde woord of taalbousel ken, die woord of bousel gebruik en betekenis daaraan heg, bestaan dit tog duidelik; selfs al hét geen woordeboek nog daaraan erkenning verleen deur dit op te neem nie.)

 

Terug na megafter, dus. Wat is ’n megafter?

’n Soektog in die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT) se nuutste uitgawe van 2015 lewer niks op nie. Ook nie ’n voltekssoektog in die groot, omvattende Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT) se 14 dele (van A tot by skooier) nie. Van Pharos se aanlyn woordeboekversameling keer ’n mens ewe onverrigter sake terug. Afrikaanse woordeboeke weet duidelik nie alles nie.

Oor megafter is die leksikograaf se vernaamste bron, dus, hier, die spraakmakende gemeenskap self – moedertaalsprekers van Afrikaans; hulle wat die makers is van die taal wat woordeboekmakers probeer boekstaaf:

Megafter laat Org Potgieter dink aan katoeter. Aha. “Dis ’n ‘thingamajig’," sê Berie Rommel. Marita du Raan Klein twyfel nie: “Ek ken dit goed. Dit is enige stuk gereedskap as jy nie aan die regte naam kan dink nie.” Wanda Landman Venter beaam dit: “[G]ebruik dit al jare[;] as jy nie die woord ken van ’n item wat jy gebruik [nie,] dan pas megafter perfek!”

Kommentaar bly kom: Een van die WAT se mederedakteurs, Hanelle Fourie Blair, laat weet sy ken en gebruik ook soms megafter, ja. Nes ’n klomp ander mense. Nanette Tredoux onthou uit haar universiteitsdae “megoudies en megafters”, wat sy met dinges, watsenaam en dingemalêrie gelykstel. (Dit skiet my te binne dat my pa soms dié woord gebruik het: “Wat vir ’n dingemalêrie is dit?”) Andrea Pretorius ken ook dingemalelletjie. In die loop van die gesprek kry megafter ook ’n deeltjie vooraan by: giefte-megafter.

Pierre Bruwer vat saam: “Almal weet wat ’n megafter is” (en ’n megafter kan natuurlik enigiets wees!).

Waarom staan megafter – ’n woord is dit wel deeglik; dit sien ons tog – dan in geen woordeboek nie? Susan Groenewald Prins gee hierop die antwoord: “Gebruik dit al lank, maar het dit nog nooit probeer spel nie.” En Rita self: “Dis ook die eerste keer dat ek dit geskryf sien.”

Die megafter-gesprekslyn op Facebook bied ’n mooi illustrasie van die intydse wisselwerking wat die internet en die sosiale media tussen woordeboekmakers en taalgebruikers bewerkstellig. Naas korpusse van geskrewe taalgebruik is forums soos hierdie een – veral ook vir die vindbaarheid van gesproke taal – vir praktiserende leksikograwe van groot nut, en deesdae eintlik onmisbaar. Afrikaans is ’n lewende taal wat enersyds ou woorde kwytraak en andersyds steeds nuwe woorde baar. Daarom is geen leksikograaf se werk ooit afgehandel nie. 

Die megafter-vraag nooi die woordeboekmaker uit om weer ’n slag te kyk na dié groep woorde wat in die taalkunde pantonieme heet – dié woordgroep waartoe dingemalêrie, dinges, giefte-megafter, katoeter, megafter, megoudie en watsenaam behoort: woorde wat ’n mens in informele geselstaal soms gebruik om te verwys na ’n ding wat nog nie ’n naam het nie, waarvan jy die naam nie ken nie, of waarvan jy die naam vergeet het. Sulke woorde word pantonieme genoem. In Engels heet ’n pantoniem ’n “placeholder name”, en in Nederlands ’n “plekbekledende naam”.

’n Paar voorbeelde van sulke plekbekleër-woorde in Engels is contraption, gadget, gizmo, thingamabob, thingamajig, thingummy, whatchamacallit en whatsit. Daar is talle meer, waarskynlik ook in Afrikaans. Blaai ek deur korpusse van geskrewe Afrikaans, wil-wil dit egter vir my lyk of baie Afrikaansgebuikers die Engelse gadget bo sy Afrikaanse eweknieë verkies, veral wanneer die (giefte-)megafter ter sprake, tegnologies slim is. Vanweë sy hoë gebruiksfrekwensie, onder meer in die media, is gadget dan ook reeds in die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem as leenwoord uit Engels.  

’n Vinnige soektog in die HAT en die WAT lewer ter aanvulling van die reeds genoemde voorbeelde, ook nog die volgende pantonieme op: anderding (HAT, WAT), andergoed (WAT), dingesie (HAT, WAT), gedoente (HAT, WAT), hoe’s-die-goed (WAT), hoe-se-naam (WAT), kontrapsie (WAT), kontrepsie (HAT, WAT), kontrotter (WAT) en watsegoedsegeid (HAT).

Hoewel die juiste herkoms van megafter vir my steeds duister is (en die Taalkommissie dalk oor die spelling sal wil nadink), word die nuttigheidswaarde van pantonieme deur korpussoektogte bevestig: “Dinges” is so ’n lekker woord, veral as mens vergeetagtig raak,” skryf ene Perdebytjie in sy/haar blog op LitNet. En dit lyk of die meeste gebruikers dit met Perdebytjie eens is:

“Hierdie ou woordjie[s] kom soms handig te pas.”

 

Hierdie artikel het oorspronklik op die HAT se blog verskyn.

Lees 5815 tye Laaste modifikasie op Sondag, 02 April 2017 00:29

kommentaar

  • Kommentaarskakel
    G Olwagen
    G Olwagen
    Sondag, 12 April 2020 17:48

    Jana, hou die megafter nie verband met McGyver van die TV nie? Hy was mos die ou met allerhande prakseersels wat iets soos 'n stuk bloudraad en 'n muntstuk kon gebruik vir 'n apparaat wat dan feitlik enigiets kon laat werk. Mense se onthou is nie altyd suiwer nie en sekeres dink dalk aan 'n ander woord as hulle reken hul oupa het dit ook gebruik. Ek het dit nie geken tot diep in die TV-era nie -- as ek weer reg onthou.
    G Ollie Olwagen