Maar dis getransformeerd op maniere wat vir my saak maak. Op die oog af is daar nie skeiding tussen bruin, swart en wit nie – almal drink deurmekruis koffie en lag saam. Niks g'n se eenkant groepies nie. En as daar onderstrominge en kwaaigeite is, is dit omdat mense oor ander goed as velkleur kwaai en dwars is.
As iemand ʼn prys moet kry, of sy/haar sê moet sê, of 'n werk moet doen, geskied dit sonder aansien des velkleurs. Kan jy dit doen? Wil jy dit doen? Doen dit dan!
Ek hoop meer (Afrikaanse) organisasies kan in die toekoms só lyk en só werk.
Die afgelope agt jaar het die formidabele Japie Gouws aan stuur van sake by die ATKV gestaan. Hy's ʼn syfertjiesman, ʼn sakepersoon wat veronderstel is om meer te weet van debiteure en krediteure as die spelling van dié twee woorde. Maar hierin lê juis sy krag: Hy is sakeman én taalman: ʼn saketaalman eerder as ʼn taalsakeman; ʼn leier wat die Afrikaanse landskap verstaan en bestuur soos dit van 'n sensitiewe strateeg verwag kan word.
Persoonlik het ek direkte ervaring van sy sakeneus gehad. Met die totstandkoming van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het hy ʼn deurslaggewende rol gespeel – nie net om alle rolspelers om tafels te kry nie, maar ook om kritiese en kritieke vrae te stel: Waar is die risikoplan? Hoe gaan VivA volhoubaar wees? Wie besit die intellektuelegoedereregte? Wie gaan die ouditeure wees? Het jy die King III-verslag gelees?
Ek het maar in my bakkebaard gegrom en ʼn weerbarstige krul van voorkop af weggevee. Maar in die proses het ek baie by dié saketaalman geleer. Dat taal- en kultuursake nie net met passie en entoesiasme bestuur moet word nie, maar ook met ʼn deeglike sakebegronding.
Wanneer afskeid geneem word van ʼn af- en/of uittredende persoon, klink dit dikwels soos ʼn begrafnisbrief. Ons praat in die verlede tyd en onthou die goeie. Ons kies om nie die kwaadoomblikke te onthou nie. En dis goed so.
Mag Japie ook onthou word as 'n leier wat bygedra het om 'n Trots Suid-Afrikaanse organisasie soos die ATKV die nuwe millennium in te neem. Ek kan maar net hoop dat ek eendag sommige van die ietse wat ek by hom geleer het ook suksesvol kan implementeer.
Op Japie se lewendebegrafnisbrief pryk sy nou reeds ikoniese rieldansfoto waar hy ingenome en ingetoë glimlaggend middellugs sweef.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 27 Mei 2017 verskyn.
