Vraag Een blyk sonder antwoord te wees. Die Amerikaanse fraseoloog Fred R Shapiro het dié vraag beskryf as “the most prominent etymological riddle of our time”, terwyl die New York Times-rubrikant William Safire al met Larry King daaroor gepraat het en nege rubrieke daaroor geskryf het. Niemand weet nie.
Vraag Twee is interessanter. Facebookvriende laat waai met ʼn paar vertalings:
- die hele boksendais: Dié uitdrukking kom uit die Engelse “box and dice” – ʼn australisme wat so goed as onbekend in Engeland en Amerika is. Die “box and dice” verwys na die houertjie en dobbelstene waarmee straatspeletjies dikwels gespeel word. Jy het niks anders nodig as jou “box and dice” nie, die hele boksendais (of boksemdais).
- die hele kaboedel (of keboedel of keboel of kaboel): Oënskynlik lyk dié ook op die Engelse caboodle, maar in wese het dit Nederlandse wortels. Reeds in Middelnederlands kry ons bodel wat later boedel (“roerende goed”) geword het. Op sy beurt is boedel die oorsprong van allerlei woorde soos warboel, janboel en beesteboel. Verder terug hou dit verband met die Proto-Germaanse *bōdō- wat “gebou” beteken het, en wat ons vandag nog in die Engels abode
- die hele katot (of ketoet of toet of toetie): ʼn Klomp mense ken die uitdrukking, maar die woordeboeke swyg. Volgens die HAT is ʼn katot óf ʼn silindervormige blikhouer waarin water of kos oor ʼn oop vuur gekook word, óf ʼn soort hoedjie. Dalk eet jy die hele katot kaboemielies op, maar dit lyk my ongesond en onwaarskynlik. Tot my verrassing dui die WAT aan dat katot (of ketot) ook as byvoeglike naamwoord gebruik kan word: “ʼn Vrou wat deftig aangetrek is, is ketot of aan haar lyf gevat”. Volgens die WAT is dit moontlik 'n vervorming van die agternaam van ʼn ene Catoggio, ʼn gesiene Italiaanse edelman wie se enigste dogter met ʼn nooi De Villiers in die neëntiende eeu hier aan die Kaap kom staan trou het. Maar dié gesiene Paarlse familie verboers toe rap-rap en word (spottenderwys?) die Kators-De Villiers’s. Ook hier lyk dus ʼn doodloopstraat te wees.
- met huitjie en muitjie: Ewemin weet ons waar hierdie uitdrukking vandaan kom. Die waarskynlikste verklaring is dat dit te make had met twee ou maataanduidings: hoed en mud (soos in ʼn mudsak). Met huitjie en muitjie beteken “dis alles, in alle mate”. Nes al die vrolike honde en hulle ouers in die park.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 03 Junie 2017 verskyn.
