Corrigenda merk tereg op dat die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) slegs te alle tye erken. Haar interpretasie van die grammatikatoetser se aanbeveling is helaas nie 100% korrek nie, aangesien die voorstel lui dat daar “moontlik” ʼn fout kan wees. Die grammatikatoetser doen dus niks anders nie as om haar aandag te vestig op ʼn verskynsel waar meerdere stelwyses korrek sou kon wees. Klop dit met die werklikheid?
- As ʼn mens in groot versamelings geredigeerde tekste na frekwensies gaan soek, blyk dit dat te alle tye in 72,6% van alle gevalle voorkom, ten alle tye 26,9% keer, en ter alle tye 0,5%. Laasgenoemde is weglaatbaar klein, maar as taalkundige kan ek nie ten alle tye se relatief hoë frekwensie ignoreer nie.
- Inderdaad erken sommige woordeboeke (byvoorbeeld Taljaard se gesaghebbende Tweetalige voorsetselwoordeboek) te alle tye naas ten alle tye. Só gesien, is die grammatikatoetser dus júis nonfascisties deur uit te wys dat wisseling moontlik is. Ek gee wel toe dat die grammatikatoetser nie net te alle tye nie, maar ook ten alle tye as ʼn wisselvorm moet merk.
In 2010 was die mees gestelde taalvraag by die Nederlandse Taalunie se taaladviesdiens (soortgelyk aan VivA se taaladviesdiens vir Afrikaans) die vraag oor die korrekte skryfwyse van “te allen tijden”. Dit blyk dus – ook vir ons noordertaalgenote – ʼn moeilike kwessie te wees.
Uitdrukkings met te (soos te dien effekte), ten (soos ten gunste van) en ter (soos ter wille van) is sogenaamde historiese relikte – gefossileerde taalvorme wat deur gebruikers aangeleer word en wat nie deur die eietydse grammatika voorspel kan word nie; handige museumstukkies in die Afrikaanse woordeskat.
Net soos wat fossiele verweer, so verweer hierdie taalelemente ook. In die nuwe AWS (wat volgende maand op die winkelrakke sal verskyn) kry ons byvoorbeeld te gronde gaan naas ten gronde gaan; te geleëner tyd of te gelegener tyd of ter geleëner tyd of ter gelegener tyd; te of ter ruste lê; ten tyde of tye van; ten minste of tenminste; ter syde of tersyde; ter wille van of terwille van.
Dit bly Corrigenda se verantwoordelikheid om hierdie fossieltjies aan te leer en ten minste konsekwent te gebruik. ʼn Grammatikatoetser is bloot ʼn hulpmiddel; dit kan steeds nie by ʼn intelligente gebruiker kers vashou nie.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 10 Junie 2017 verskyn.
