En mense was goed. Nabymense wat aan die dakloses blyplek gegee het. Restauranteienaars wat kos uitgedeel het. Kerke wat sale beskikbaar gestel het, veeartse wat diere versorg het, al het hulle eie huise afgebrand. Brandweermanne wat opgedaag het met hulle toerusting in plastieksakke. Gesinne wat brandweermanne tussen skofte gehuisves het. Radiostasies wat fondse ingesamel het. Banke wat uitgehaal en gewys het. ʼn Hekelgroep wat wol en hekelpenne ingesamel het vir mense wat niks anders het om te doen as wanhoop nie. Mense was goed.
Maar toe ... toe kom die berigte: Moenie goed stuur nie, vragmotors met noodvoorraad word gekaap. Moenie jammer wees nie, die ramp is die gevolg van brandstigting. Moenie help nie, jou geld word gebruik om kospakkies vir mense te gee wie se huise nie afgebrand het nie. Moenie deelneem nie, die regering het dan nog niks gedoen nie. Moenie betrokke raak nie, die mense wat in dié streek bly, verdien nie jou ondersteuning nie.
Die woord “fopnuus” is in VivA se databasis opgeneem as die vertaling vir die Engelse “fake news”. Daar is twee soorte fake news: foutiewe inligting wat versprei word om lesers doelbewus te mislei, en satiriese nuus wat ten doel het om ʼn werklike situasie onder mense se aandag te bring en hulle daaroor te laat besin.
Toe die inskrywing verlede jaar ingekom het, was ek opgewonde oor die woord. Dit was oulik, beskrywend, dit val lekker op die tong, en almal gaan dadelik verstaan wat dit is. “Fop” is dan so ʼn lekker woord, met ondertone van poetsbakkery en grapmakery. Ná die afgelope twee weke het my ingenomenheid met die term beduidend getaan.
Daar is niks snaaks, satiries, lighartig of eers aanvaarbaar aan fopnuus nie. Dit is onderduims. Gemeen. Onverantwoordelik. Oneties. Giftig. Dit beskadig mense. Dit beledig hulle. En dit maak mense wat reeds alles verloor het, nog ʼn keer tot slagoffer.
Ek wil die inskrywing verander en dit noem “rommelnuus”. Of “warnuus” of “karsinogene nuus” of “gifnuus” of “vreemdemenseskryfhierdiesoorttwaknuus”. Of ʼn mens kan dit sommer net noem wat dit is: str*nt.
Met spesiale VivA-groete aan my landgenote in die grys streke. Mag julle bos gou weer groen wees.
Sophia