Net toe ek dog dat ek my Afrikaanse identiteitskrisis besweer het, toe word ek weer onderdompel in my se kolonialistiese verledetydswortels. Ag, ek gaan nie derms uitryg nie, maar dit bly tog vreemderig (selfs vervreemdend?) om ʼn vergadering in die Here XVII-saal in die ou VOC-gebou in Amsterdam by te woon. Gelyktydig bekend én onbekend; bemind én onbemind. Gaan ons Afrikaanses ooit regtig êrens tuis voel? Of bly ons maar vir altyd die Vryburger- en Slawekinders van die Wêreld?
Die Nederlanders in my se dampkringetjie is en bly gelukkig nog verras met en vermaak deur ons Afrikaanse woorde. My vriende het onlangs “zee-egel” (“sea-urchins”) in Japan geëet, vertel hulle. Ons lê almal gierend van die lag op die grond toe ons besef ʼn “egel” in Nederlands is ʼn “krimpvarkie” in Afrikaans. Krimpvarkie! Jy lag jouself tog te pletter vir dié woord?! Boonop is onse “seekastaiing” (vir “sea-urchin”) dalk selfs ʼn meer akkurate beskrywing as hulle “seekrimpvarkie”.
In ʼn onlangserige boekie presenteer die bekende Neerlandika en skrywer Nelleke Noordervliet ʼn duisend Nederlandse vergeetwoorde om te koester – woorde uit vervloë dae wat dreig om in die vergeethoek van die taal te gaan loop lê. Met hierdie boekie breek sy ʼn lansie vir sulke woorde en moedig sy mense aan om die woorde te gebruik, te koester en te herhaal.
Opvallend hoeveel van dié woorde gewoon alledaagse Afrikaans is: dikwels, skerts, kuier, snaaks; jolig, kwansuis, kermisbed, jolyt; onderlangs en navorsing – Nederlandse woorde met ʼn oubollige gevoelswaarde. Verrassend is dit nie, gegewe dat ons tale al meer as 350 jaar op verskillende trajekte loop.
Ook Stella Bergsma en Sylvia Witteman stof weekliks in de Volkskrant die leksikon van ontereg vergete woorde af. Hierdie week kom woorde soos “goedertierenheid”, “barmhartig” en “lankmoedig” aan bod; nie net woorde wat verdwyn nie, maar ook die waardes saam met hulle ...
Die Hollanders is bekend en berug daarvoor dat hulle nie skaam of bang is om woorde uit Engels te gaan loop leen nie. By hulle kan die business manager gewoon die marketing campaign online laat start. Lekker maklik, laat ons nie tyd (en veral geld) mors met lullige nuutskeppinkies nie.
Maar ʼn klompie Nederlanders vind dié neiging drie keer niks nie! Frens Bakker en kollegas het die boek Op-en-top Nederlands saamgestel – ʼn lys van 7 000 Engelse woorde wat algemeen in Nederlands gebruik word, met daarnaas ongeveer 15 000 Nederlandser woorde.
Hulle grootste winswoord? Toep, wat hulle met álle erkenning trots aan Afrikaans ontleen!
Ek bloos bloedrooi en gaan kruip – soos ʼn krimpvarkie – in die raadsaal van die Here XVII weg ...
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 17 Junie 2017 verskyn.
