Ek sit dus in selfopgelegde ballingskap op die sewende verdieping van ʼn aftandse woonstelblok in een of ander dorpie aan die Sipriese kus. Ek moet fokus en navors en skryf, maar ek laat my gedwee deur alles om my heen aflei. Dan staar ek uit oor die Middellandse See, dan loer ek gou op Facebook, dan waai ek vir ʼn poedel wat onder in die straat verby pronk, dan skryf ek gou ʼn rubriek vir Beeld.
Die Griekse alfabet fassineer my ineens besonder. Drie uur later het ek Wikipedia in Afrikaans, Engels én Nederlands snuif gelees. Van die alfa tot die omega, al 24 letters.
Rondom 800 VHJ het die Grieke die alfabet van die Fenisiërs (nie die klomp gondolaryers nie; Fenisië was die Griekse naam vir Kanaän) onder oë geneem en besluit om ʼn paar aanpassings te maak, soos byvoorbeeld om klinkers deel van die alfabet te maak. Dit was besonder vindingryk; die Griekse alfabet is die oudste alfabet met klinkers. Voor hulle moes almal maar sien kom klaar met net medeklinkers – soos die Hebreeuse alfabet vandag nog klinkerloos is.
Aanvanklik het die Grieke van regs na links geskryf, maar nee, dit was ook nie innoverend genoeg nie. Op ʼn stadium het hulle boestrofedonies geskryf (afwisselend per reël van links na regs, boonop met die letters omgedraaid – die hemele help ons!). Eers veel later – hier rondom 100 VHJ – het hulle besluit om maar eenvormig van links na regs te skryf.
As jy ʼn bietjie die Griekse alfabet onder die knie het, word dinge ineens besonder herkenbaar in die strate van Siprus. So is ΕΞΟΔΟΣ = EXODOS = Eksodus, oftewel “Exit”!
Afrikaans is ook deurspek van woorde en uitdrukkings met Griekse alfabetletters. ʼn Alfawyfie is die voorloperwyfie in ʼn trop, want die eerste letter van die Griekse alfabet is alfa (α). Die betaweergawe van programmatuur is die tweede (of voorfinale) weergawe, want beta (β) is die tweede letter van die Griekse alfabet. ʼn Driehoekige stuk land in ʼn riviermond is ʼn delta – na die beeltenis van die hoofletter delta (Δ).
Ure later verstaan ek steeds geen jota van my eie ingewikkelde kongresopsomming nie. Maar ten minste weet ek dat die neënde letter van die Griekse alfabet jota (ι) is.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 24 Junie 2017 verskyn.
