En dan is daar Steve Hofmeyr en sy volgelinge wat Bouwer as ʼn volksverraaier uitkryt. Of soos Christi de Chattilon onderaan een van die video’s dit stel: Bouwer is ʼn “arme Joodse skoothondjie”, want “Apartheid is die resultaat van die Jode net soos meeste slegte dinge en nou moet ek jammer daaroor sê. No way.”
ʼn Deel van dié kritici hark dan ook graag Bouwer se taalgebruik nader om hom as onbelangrik af te maak. J.V.N. Lambrechts skryf byvoorbeeld op 11 Julie 2017 op Netwerk24: “Sy swak taalgebruik getuig allermins van respek vir sy volk”.
![]() |
|
| Bouwer Bosch |
Só ʼn argument is ʼn pragvoorbeeld van ʼn ad vocem-aanval.
Die taalkundige Gretchen McCulloch het dié term in ʼn onlangse Lingthusiasmpodsending geskep om te verwys na die fenomeen waar ʼn spreker se taalgebruik eerder as sy/haar argument in ʼn debat aangevat word.
ʼn Bekende sofisme (of drogrede) in die logika is die sogenaamde argumentum ad hominem: Die spreker se karakter of motiewe, eerder as die argument, word aangeval. Jy speel die man, nie die bal nie. Van die kommentators op Bouwer se video’s maak hom byvoorbeeld af as ʼn swak sanger of akteur, en daarom hou sy argumente nie vir hulle steek nie.
Die argumentum ad vocem is ʼn soortgelyke drogrede: Ek hou nie van jou taalgebruik nie, en daarom is jou argumente ongeldig.
Die teenpool hiervan (John Locke se argumentum ad verecundiam) is ewe sofisties: Omdat jy ʼn belangrike persoon is (argumentum pro homine), of omdat jy iets in hoogdrawende, onverstaanbare taal sê (argumentum pro voce), móét jou argument waar wees.
Omdat ek ʼn paar Latynse terme in hierdie rubriek ingeklits (en selfs geskep) het, moet dit wat ek skryf waar wees ...
As I.E. Pretorius op 08 Julie 2017 op Netwerk24 egter vra: “Wat het geword van wel ter tale wees? Hoekom meng veral Afrikaanssprekendes hul taal so?”, kan ek nie help om tog heimlik saam te stem nie.
Kyk, ek is nou die lááste ene om iets oor taalvermenging (ʼn soort diglossie) te sê. In informele gesprekke met vriende is my taal ook maar deurspek van Engelse stopwoorde. In teorie is dit ʼn natuurlike eienskap van informele gesproke taal in ʼn veeltalige konteks.
Maar as jy ʼn openbare figuur soos ʼn sanger, akteur of skrywer is wat jou geld in en met Afrikaans verdien, is dit te veel gevra om tydens jou verskyning op openbare verhoë ten minste te probeer om beter ter tale te wees? ʼn Welgeplaaste (of geglipte) anderstalige woord hier en daar behoort jou nie kwalik geneem te word nie – niemand praat in boeketaal nie.
Maar beskans jouself teen ad hominem- en ad vocem-aanvalle deur ten minste jou taal goed te beheers.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 22 Julie 2017 verskyn.

