By verskeie geleenthede, vooraf, word die opname van leenwoorde in Afrikaanse naslaanbronne eers deeglik oorweeg, onder meer deur gereeld die gebruiksfrekwensie en verspreiding van dié woorde in korpusse van hedendaagse, geskrewe Afrikaans na te gaan. Wanneer ons venue en smoothie, en soortgelyke woorde (ook uit ander tale, nie net uit Engels nie) in ons bronne van lewende, veranderende taalgebruik insluit, sê ons: Ondanks verskeie pogings, dikwels oor etlike jare heen, kon niemand nog met ’n bevredigende vertaling of ’n geslaagde nuwe woord vorendag kom vir die saak wat benoem moet word nie. Gladdejantjie (vir smoothie) en toep (vir app), hoewel albei ook in die HAT (en gladdejantjie in die AWS) ingesluit is, het eenvoudig nie op dieselfde, vinnige, deurslaggewende manier by gebruikers inslag gevind as hommeltuig onlangs vir drone nie, byvoorbeeld, of viertrek, jare gelede, vir die Engelse 4x4 nie. Net soos beeldradio (vir TV) en komper (vir rekenaar) toentertyd nie die pyp kon rook nie, terwyl moltrein dit wel reggekry het.
Op die HAT se dophoulys is daar nog baie sulke woorde.
Nuwe neigings
Een van dié wat die afgelope week weer ’n kerfie boontoe geskuif het, is trend.
Media24 se vrouetydskrif Sarie se “trend van die maand” is matcha-groentee (nog 'n woord om dop te hou), terwyl Huisgenoot se redakteur, Yvonne Beyers, in haar brief van 3 Augustus vra: “Wat trend op Twitter; watter nuwe foto’s is daar op Instagram?” In die Augustus-uitgawe van Tuis vertel Amanda van Wyngaardt wel ook van die “nuutste tendense” in binnenshuise versiering, maar kyk ’n mens na die trefslae van trend in Afrikaanse papier- en digitale media, begin dit tog lyk of die verspreiding en frekwensie van dié leenwoord uit Engels stadig maar seker aan die klim is na waar ons dit, dalk een van die dae, ernstig vir opname in Afrikaanse woordeboeke moet oorweeg.
Ek stip die stygende gebruik van trend al van verlede jaar af aan met sitate wat ek uit koerante en tydskrifte versamel, byvoorbeeld:
- “Die grootste kleur-trend vanjaar is soliede kleur pleks van wisselende skakerings” (uit Idees, Junie 2016, wat in dieselfde uitgawe ook na die “trend-voorspeller” Li Edelkoort verwys het);
- “Wagheeba January, Kuier se mode-en-skoonheidskoördineerder, het besluit om haar lyf proefkonyn te hou en [’n] nuwe trend uit te toets” (Maart 2016);
- “Hoe voel dit om op die internet te trend danksy ’n hare-advertensie met ’n liefdestema (Sarie, Maart 2016; Sarie gebruik die woord al geruime tyd, hiernaas gekursiveer, maar dikwels ook romein gedruk);
- “Etniese ontwerpe is hoogmode en dit lyk of die trend lank met ons gaan wees (Tuis, Julie 2016); en so meer.
Wat is jou mening?
Sou die Afrikaanse naamwoord, tendens, ewe goed in Sarie se “trend van die maand”-opskrif gepas het? (Ons het ook neiging.) Of stem jy daarvoor dat die Engelse trend, as nodige, nuttige leenwoord, naas tendens, ’n plekkie in jou HAT kry?
En hoe gemaak met die werkwoord, veral met verwysing na plasings op Twitter? Is daar vir gebruik in hierdie konteks ’n ander Afrikaanse werkwoord (nie frase nie) wat presies dieselfde betekenis kan dra as die Engelse trend in Yvonne se vraag: “Wat trend op Twitter?”
Vleiskos
Nog ’n leenwoord uit Engels, wat in die spreektaal glad nie nuut is nie, maar wat ek eers van onlangs af ook taamlik gereeld in die gedrukte media gewaar, is mince (naas Afrikaans se maalvleis). Onder ’n resep vir uie-dhaltjies (ja, eindelik staan die naam van dié Kaapse lekkerny van kekerertjiemeel ook in die AWS), kry Kuier se lesers dié week ’n ewe watertandresep vir oondgeroosterde frikkadelle met beesmince.
Voordat iemand kapsie maak, herkou eers die volgende:
In plaas van kotelette (waarvan VivA se omvattende Afrikaanse korpus 11 trefslae oplewer), eet ons van kleintyd af reeds tjops (wat 570 keer in die VivA-korpus voorkom). Baie Afrikaansgebruikers verkies ook steak (571 vindslae) bo biefstuk (272). In die geskrewe standaardvorm van Afrikaans (en in die AWS én in die HAT) word die geleende Engelse steak en die verafrikaanste tjop al dekades lank erken as (die meer gebruiklike) sinonieme van biefstuk en kotelet.
Volg mince (soos in kerrie-en-mince-vetkoeke) dalk in hulle spore? En, indien wel, watter besware is daarteen in te bring?
Kom sê gerus jou sê onderaan hierdie blog.
En skryf jou eie, oorspronklike nuutskeppings in. By Varsgebek!
