Ek het my lewe lank gedink joernaliste kom selwers met die koppe van hulle berigte vorendag. Maar hulle het min sê daaroor – dis tradisioneel die werk van ʼn subredakteur (of “sub”).
Subredakteurs is die onbesonge helde van die koerantwêreld.
Menige leser weet nie eens wat ʼn subredakteur is nie. Ongeveer 80% van my vriende dink dat die woord “subredakteur” maar ʼn sinoniem vir “adjunkredakteur” is – die tweede-in-bevel by ʼn koerant. Die ander 20% dink dat die subredakteur die proefleser of taalversorger van die koerant is. Hoewel dit nader aan die waarheid is, doen ʼn subredakteur veel meer as taalversorging; dis eintlik maar ʼn relatief klein deeltjie van sy/haar werk.
Nadat ʼn inhoudsredakteur besluit het hoeveel ruimte in ʼn koerant aan ʼn storie afgestaan word, laai die uitlegredakteur die joernalis se berig op die koerantstelsel. Nou begin die subredakteur se werk.
![]() |
|
| Rapport, 13 Desember 2015 |
H/sy moet die berig langer of korter maak om in te pas in die toegestaande spasie. Die teks moet gekontroleer word vir feitefoute, of vir formulerings wat die koerant dalk in ʼn lastersaak kan laat beland. Die algemene leesbaarheid van die teks moet gekontroleer word: Staan die belangrikste inligting eerste, lees die storie maklik, maak alles sin? Dikwels moet die subredakteur ook berigte uit ander nuusbronne vertaal. En, les bes, skryf h/sy die kop van die berig.
Vanmelewe se dae is die berig daarna nog deur ʼn senior subredakteur gekontroleer, daarna deur die hoofsubredakteur (ook die “nasien-“ of “hersienredakteur” genoem). Daarna is die blaaie weer deur die subredakteurs geproeflees.
Deesdae word dieselfde proses gevolg, maar tyd speel ʼn baie groter rol omdat nuus gouer op die koerante se webwerwe moet verskyn. Vandag is daar meer werk en minder subredakteurs.
Mense wil nuus vinnig lees. En dis juis dié mense wat die vinnigste kla oor die kwaliteit van taalgebruik in hedendaagse (e-)koerante ...
Die Afrikaanse koerantwese ken formidabele subredakteurs soos Tripel-J Scholtz, (die berugte) LW Hiemstra, Dalene Müller en Johan Spies.
In die pas verskene Die Burger 100: Sy mense en hul stories (Jonathan Ball Uitgewers) vertel Bun Booyens en Aldi Schoeman die verhaal van die redakteur wat die paalplakkaat “Geweeg en te lig gevind” afgeteken het. Daardie nag lê hy en pieker of dit nie dalk eerder “bevind” moes gewees het nie. Hy bel Hiemstra terstond en dié mor slapend dat dit inderdaad “bevind” moes wees. Die volgende dag wys die redakteur vir Hiemstra dat dit volgens die Nederlandse Bybel wel “gevind” (gevonden) is, waarop Hiemstra antwoord: “Nou toe nou. Om te dink die Bybel maak ook foute.”
Hierdie rubriek word in nederige erkentlikheid opgedra aan al die subredakteurs van Beeld en ander koerante, en insonderheid aan die knap en kreatiewe Marius Visser (gereelde sub van hierdie rubriek) wat aan die einde van die maand oorskuif na Huisgenoot. Dankie vir julle harde werk!
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 29 Julie 2017 verskyn.

