Dikwels word mense in verskillende dele van ’n taalgebied gevra om hierdie fabel voor te lees. Want deur na die verskillende voorlesings te luister, kry ’n mens dan ’n goeie idee van hoe die verskillende dialekte en variëteite klink van die taal of tale wat in dié betrokke streek of streke gepraat word.
Vergelyk byvoorbeeld hierdie projek van die Franse. Deur te klik op die vlaggies op die kaart kan ons na meer as honderd verskillende tongvalle luister.
Hier is nog 'n voorbeeld: 'n Kaart met voorlesings van “Die noordewind en die son” in verskillende tale van die wêreld.
Hoe interessant en kosbaar sou so ’n spraakatlas van Afrikaans nie wees nie!
Wel, nou kry ons eindelik ons eie Noordewindkorpus. En hiervoor het ons jou hulp nodig.
Afrikaans.com wou weet: Hoe lyk Afrikaans in JOU dorp: “Van dorp tot dorp proe, ruik en voel Afrikaans verskillend ...”
By die Virtuele Instituut vir Afrikaans wil ons weet: Hoe klink Afrikaans? Daar waar jy is: van Agulhas in die suide tot in die verste uithoek van Limpopo; van Alexanderbaai in die weste tot by Kosibaai in die Ooste; van Nieu-Seeland en Australië tot in die verre noorde van Kanada; en in elke ander land in die wye wêreld tussenin, oral waar Afrikaans vandag gepraat word.
Hoe klink jóú Afrikaans?
Kom kyk. Kom luister. En voeg jou unieke tongval by deur ook jóú voorlesing op te neem en op te laai van die Afrikaanse verwerking van “Noordewind en Son”, wat al Afrikaans se spraakklanke bevat.
Dis maklik. Dis vinnig.
Lees die instruksies en verewig jou stem.
Bou saam met ons vir Afrikaans sy eie spraakatlas.