Breek jy ʼn been op die verhoog in Afrikaans?

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Dinsdag, 05 September 2017
Gepubliseer in VivA;

Vra iemand op Facebook: “Weet iemand van ʼn lekker Afrikaanse ekwivalent vir ‘break a leg’?”

In die teaterwêreld – of dit nou drama, ballet of opera is – is daar wêreldwyd ʼn tradisie dat jy nooit ʼn akteur of sanger goeie wense voor ʼn vertoning mag toewens nie. Dit is ʼn yslike taboe om vir Bobby van Jaarsveld “Sterkte!” te skree, terwyl jy jou onderklere op die verhoog gooi. Moenie dit doen nie.

Die Engelse “break a leg” se herkoms is volledig onbekend, hoewel daar genoeg teorieë is om ʼn hele boek oor te skryf.

(Trouens, daar is talle boeke oor die interessante verskynsel van bygelowe; as ʼn vertrekpunt beveel ek Anton Prinsloo se Bygelowe en waar hulle vandaan kom (Pharos) sterk aan.)

Een van die teorieë is dat die Grieke nie hande in die teater geklap het nie, maar met hulle voete op die grond gestamp het om hulle bewondering te bewys. As hulle hard genoeg gestamp het, sou hulle dan hulle bene gebreek het. ʼn Variant hiervan is die elizabethaanse tradisie waar gehoorlede met hulle stoele gestamp het om uiting aan hulle adulasies te gee. As dit wild geraak het, het die stoele se pote gebreek. Deur vir ʼn akteur “breek ʼn been” te sê, wens jy hom/haar eintlik die waardering van die gehoor toe.

Dit klink vir my alles maar ʼn bietjie onbeskaafd, oordadig en onwaarskynlik.

Meer denkbaar is die geloof in die Griekse mitologie dat bose natuurgeeste, soos nikse en elwe, daarop uit was om mense se planne in die war te stuur of verwoesting te saai. As ʼn niks of elf jou iets hoor sê het, het hy probeer om die teenoorgestelde te laat gebeur. Deur ʼn akteur teëspoed toe te wens, sou dit hopelik die teenoorgestelde effek hê.

Taalkundig gesproke maak die volgende teorie vir my die meeste sin. In Hebreeus sê ʼn mens “hazlacha uwracha” (הצלחה וברכה) om iemand sukses en seën (letterlik vertaal) toe te wens; die Jiddisje uitspraakvariant hiervan is “hatslokhe u brokhe”. Vervolgens het die Duitsers ʼn volksetimologiese interpretasie hieraan gegee: “Hals- und Beinbruch”, letterlik vertaal as “nek- en beenbreuk”, word vandag nog in Duits as heilwens gebruik. Hoe dit dan in Engels beland het, weet nugter ... Dit is wel opmerkenswaardig dat Edna Ferber, outeur van die oudste Engelse teaterverwysing na “break a leg” waarvan ons weet, van Duits-Joodse komaf was. Het sy dus moontlikies die Duitse uitdrukking klakkeloos in Engels vertaal?

Intussen sê hulle in Italiaans "in die mond van die wolf", in Russies "nog dons, nog vere", in Frans "k*k", ensovoorts. Wat gemaak in Afrikaans? Het ons ʼn eie segswyse, of moet ons maar volstaan met “breek ʼn been”?

Ek kry nêrens in geskrewe korpusse (of selfs op Google) bewyse dat “breek ʼn been” as Afrikaanse seënwens gebruik word nie. Nêrens!

Toe skiet die woord “tjoekoes” my skielik te binne – ʼn woord wat ek uit my verre studentedae onthou. (Ja, ek het my ook ʼn keer of wat op die verhoog begewe, maar nie met veel gebreekte stoelpote van die gehoor of resensente nie.) Geen woordeboek weet van die woord nie, maar op Twitter wemel dit van #tjoekoes. Teaterman Kosie Smit twiet byvoorbeeld: “@bobbyvjaarsveld @AsJySing who ho en dan open julle môre aand met @AfrIsGroot #tjoekoes! Dit gaan great wees!”

En “tjoekoes” se herkoms dan? Die Australiërs se ekwivalent van “break a leg” is “chookas”! Wie weet, dalk het ons bloekoms én tjoekoes by hulle loop kry ...

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 02 September 2017 verskyn.

Lees 2254 tye Laaste modifikasie op Saterdag, 09 September 2017 04:49