Ek is nie heeltemal seker waar Afrikaanssprekendes se beheptheid met anglisismes vandaan kom nie. Ek weet dit kom van ver af – ek het self daarmee grootgeword en ek moes lyste anglisismes memoriseer sodat dié gruwel nie per ongeluk in my taal nesmaak nie. Jy was erger as ʼn hensopper en meer veragtelik as ʼn volksverraaier as jy iets in ʼn teks sou pleeg wat net na Engels sou ruik.
Dit verstom my dat hierdie houding teenoor anglisismes soveel jare later steeds bestaan. En veral by mense wat nie die moeite doen om na hulle eie taalgebruik om te sien en seker te maak hulle skryfsels is onbesproke nie.
Ter illustrasie: Ek plaas op 12/01/2018 ʼn lysie woorde wat as vertalings kan dien vir "great". Die lysie sien so daaruit: manjifiek, merkwaardig, subliem, groots, uitsonderlik, skouspelagtig, onverbeterlik, onoortreflik, weergaloos, wonderbaar, skitterend, verbluffend, asemrowend, voortreflik, hemels, lieflik, loflik. Ek gee ʼn bron, soos dit ʼn deeglike navorser betaam, om aan te dui dat ek nie die ekwivalente uit my duim gesuig het nie. Die bron is betroubaar: Dis SkryfGoed se Tesourus.
Ek plaas die meem en gaan aan met my werk, salig onder die indruk dat my bydrae tot taalbewusmaking darem ʼn glimlag of twee oor die oggendkoffie sal veroorsaak. Toe ek so ʼn rukkie later gaan kyk, tref die skoot water my in die gesig: "Subliem? Ag nee, sies!" en "Waar de **** kom subliem vandaan? Toemaar, ek weet reeds. Dis [sic] kom van een of ander luie bliksem wat nie een van die ander 10 goeie Afrikaanse altwrnatiewe [sic] ken nie." En so aan en so aan.
Nou kyk, ek is nie ʼn voorstander van lui skryfwerk nie. Die punt van die plasing was juis om mense wat "great" soos ʼn punt in ʼn gesprek gebruik aan te moedig om "altwrnatiewe" vir dié moeë, oorbenutte woord aan te leer. Sewentien van hulle, om die waarheid te sê. Dat mense sou dink "subliem" is ʼn anglisisme, het ek nie vir ʼn oomblik voorsien nie. Dat hulle dit met soveel vrymoedigheid sou verkondig (sonder om navorsing te doen oor die etimologie van die woord), nog minder.
"Subliem" is nie ʼn anglisisme nie. "Sublime" is ʼn Engelse woord, ja, maar dit beteken nie die woord wat ons in Afrikaans het, is as gevolg daarvan ʼn anglisisme nie.
"Subliem" is ʼn ou Nederlandse woord, terug te speur na ʼn teks wat reeds in 1658 gepubliseer is. Die Nederlanders het dit by die Franse gekry, wat dit op hulle beurt by die Romeine gesteel het. Die woord is saamgestel uit die Latyn sub + limen (onder + drumpel).
Wat my dronkslaan, is dat ons bereid is om eerder ʼn woord by die Romeine oor te neem as die Engelse. Dis nie asof die Romeine se menseregterekord minder besproke is as Brittanje sʼn nie. En as dit bloot gaan oor ʼn onwilligheid om die taal van imperialiste te aanvaar, behoort ons ook nie Nederlands te praat nie, want die Here XVII was nie minder onaangenaam as enige ander kolonialiseerder nie, al het hulle pruike gedra. As ons net woorde wil gebruik uit ʼn taal sonder enige bloed op sy werkwoorde, moet ons almal gebaretaal aanleer en ons penne wegbêre.
Maar wat my heeltemal verstom, is dat die oorgrote meerderheid klaers oor anglisismes se klagtes verwoord word in die allergruwelikste Afrikaans – slordig, vol spelfoute, ongeredigeer, ongeslyp, onooglik. Hulle wil kerm oor die geweld wat Engels die taal aandoen, maar begryp nie dat hulle onvermoë om keurig en noukeurig met taal te werk ʼn baie groter bedreiging vir Afrikaans inhou as die woord "subliem" nie.
Dis nie anglisismes wat Afrikaans bedreig nie, dis onkunde. Dis luiheid en taalonbewustheid. Dis mense (en daar was ʼn hele paar van hulle ook) wat tevrede is om "great" te skryf "want almal skryf so" en nie moeite doen om vars, blink, geslypte taal te gebruik as hulle met ander sprekers kommunikeer nie. Dis mense wat dink keurige taalgebruik is outyds en lagwekkend. Dis mense wat dink dis belangriker om "kewl" te klink as om intelligent te klink. Dis ouers wat praat soos wat hulle kinders praat, eerder as om aan te dring dat hulle kinders hulle taalgebruik opwaarts moet aanpas. Dis mense wat net goed wil lees wat op hulle vlak geskryf is en dink alles wat ʼn intellektuele uitdaging is, is belaglik. Dis mense wat van middelmatigheid ʼn deug gemaak het.
Anglisismes is ʼn werklikheid. Ja, dit is slordig. Maar ek dink ons moet dalk so ʼn bietjie stadiger met die vuur en swael as ons woorde uit woordeboeke wil skrap oor hulle moontlike bande met Engels. Laat ons maar eers naslaan en seker maak ons is reg voor ons sommer die Vrede van Vereeniging ongedaan maak net oor "subliem".
Volgende week gesels ek verder oor wat ʼn anglisisme dan nou eintlik is.
VivA-groete
Sophia