“Wannie, dit is lekker om hier by jou te kuier. Al die dose is opgepak. Hier is amper nie meer meubels nie. Julle verhuis binnekort.
Gerhard, ons verhuis binnekort na ’n kleiner huisie in Potchefstroom. Dit was nogal vir ons moeilik om die ruim huis te ontruim, maar ons beplan om meer te reis. Ek wil nie die groot huis meer onderhou nie. En gewoon: Ons gaan in ’n nuwe fase van ons lewe in, waarin ons letterlik net die deur wil toetrek en wil ry.
Jy was ’n man wat ’n mens die afgelope jare … As jy vir Wannie gesoek het, dan kry jy hom op kantoor. Of op kantoor of in Antwerpen. Beplan jy om nou ’n bietjie meer vakansie te gaan hou, of beplan jy om steeds te werk?
Gerhard, ek gaan baie beslis aanhou werk. Ek het nou pas hierdie week gehoor dat hulle my ’n aanstelling gegee het as ’n buitengewone professor by die navorsingseenheid, waaroor ek nogal bly is, want ek het nog ’n klomp publikasies in die pyplyn en ek wil graag hê dat dit hier klaarkom, by die instansie waar ek die laaste ses-en-twintig en ’n halwe jaar van my lewe gewerk het. Dit is vir my belangrik. Ek gaan aan met die tweede deel van Die Storie van Afrikaans, wat in die loop van hierdie jaar uitkom. Ek werk aan die afronding. En dan is daar nog so ’n boek of twee ...
[…]
Maar hoekom ons eintlik vandag hier is, is om te gesels oor die eerste deel van dié spiksplinternuwe boek wat einde November 2017 by Protea Boekhuis verskyn het: Die Storie van Afrikaans. Uit Europa en van Afrika. Geskryf deur Wannie Carstens en Edith Raidt. Boaan, op die buiteblad, staan daar: Biografie van ’n taal. Nou, dit is soos die Hollanders sal sê, een dikke pil van meer as 600 bladsye. En dit is net Deel 1. So, Wannie, in hierdie eerste deel van ons gesprek wil ek vra: Hoe het dit gekom dat Wannie Carstens in 2017 ’n boek oor die geskiedenis van Afrikaans publiseer? Wat is die agtergrond hiervan? Wat was die aanloop daartoe in jou eie loopbaan en in jou eie belangstellings dat jy hier, op jou aftrede, ’n boek skryf oor die geskiedenis van Afrikaans?
Gerhard, dis ’n goeie vraag. Jy weet, my loopbaan het in 1977 begin, toe ek ’n jong dosent was aan die Universiteit van Stellenbosch. Toe het ek maar algemene kursusse gegee. Maar uiteindelik het my belangstelling in taalgeskiedenis werklik posgevat toe ek in 1980 by die Universiteit van Kaapstad begin het. Daar was ek bevoorreg om saam met prof. Roy Pheiffer te werk. Professor Roy Pheiffer was in die filologiese skool van J. du P. Scholtz, prof. Edith Raidt, D.B. Bosman … Daardie mense. En ek het nogal vinnig aanklank gevind daarby. Dit was vir my wonderlik om in die tradisie van Scholtz te werk. Scholtz se aura het gehang oor die Departement. Hy was daar. En Roy Pheiffer het sy PhD by hom gedoen. Ek is kort voor lank aangesê taalgeskiedenis is my vakgebied. En dit was een van die onderwerpe wat ek gegee het."
[…]”
Hoeveel tale is daar in die wêreld? Wanneer is ’n taal ’n taal, en wanneer is dit ’n dialek? Waar kom Afrikaans vandaan? Nederlands is gevorm uit ’n magdom dialekte, waarvan die Hollandse dialek om politieke en ekonomiese redes die belangrikste dialek geword het. Is Afrikaans maar net nog ’n dialek wat verder suid gebruik word? Wat is die teorieë rondom die ontstaan van Afrikaans? Watter kombinasie van faktore het tot Afrikaans gelei? Watter pad loop ’n taal van niks, van ’n gedagte, of iets wat toevallig ontstaan het, totdat hy die dag standaardtaal is. Waarheen is Afrikaans op pad?
Moenie hierdie onderhoud met prof. Wannie Carstens in VivA Afrikaans-joernaal misloop nie. Klik op die skakel hier onder, en luister.