My deelname aan die sitting was dus uit die staanspoor met ʼn steeksheid beslaan, maar ek moes naderhand in die aansig van die Namibiërs se ondempbare vriendelikheid vermurwe.
ʼn Mens kan in ʼn stad soos Pretoria en in ʼn land soos Suid-Afrika so verstrengel raak in probleme en die daaglikse stryd, dat ʼn mens vergeet van ʼn gemeenskap in hierdie wye plek, wat ʼn rustigheid oor hulle het wat ons hulle maar gerus kan nadoen. Dit is ʼn land waar die taal gemaklik in mense se monde sit, waar hy ewe veel behoort aan almal wat hom wil praat, waar onderwysers nog toegewyd genoeg is om oor Afrikaans in Afrikaans te konfereer, waar ʼn koerant en Afrikaanse radiostasies nog moeite doen om keurige Afrikaans aan die gemeenskap te bied. Maar boweal is Afrikaans hier ongehaas. Hy is duidelik afgeteken, met helder sillabes en kragtige konsonante, terwyl daar die hele tyd onder sy musiek duidelik en onmiskenbaar ook ʼn Duitse ritme pols. ʼn Taal wat sy eie, unieke plek in sy eie, unieke omgewing gekry het.
Daarom: My opregte dank aan die Namibiërs. Sommer vir alles. Vir die berge en die lug en die bome en die skurwe veld wat so oop lê onder die helder Afrikason. En vir Afrikaans, en die lêplek wat hy onder julle karos het. Ek sal weer kom kuier. En ek weet ek sal weer tuis wees hier.
VivA-groete
Sophia