Coenie de Villiers.
Sy eerste kasset, Skoppensboer, het ek gekry toe ek veertien jaar oud was. Tannie Anna Snyman was Schweizer-Reneke se dorpsbiblioteektannie, en benewens dat sy my André P Brink en Etienne Leroux se boeke (toegesmokkel in Konsalikboekomslae) laat lees het, het sy my vertel van dié nuwe, omstrede sanger wie se musiek pas deur die SAUK verban is.
Buite, in die winterson, // Maak ek my oë toe // En dan is ek weer veertien; // Kan ek nog adamsvye proe
Verlede Vrydagaand, meer as dertig jaar later, had ek die voorreg om die bekendstelling van sy 21ste album, Pure Coenie, in Pretoria by te woon. Ag, liewe aarde tog, wat ʼn belewenis! Word die man dan nie oud nie? Raak sy woorde nie op nie? Vergeet hy nooit ʼn noot agter die klavier nie?
Van anderkant die Melkweg // Stuur ek ʼn liedjie vir jou aan // omdat ek nie meer daar is nie, // so ver op reis moes gaan;
Maar dis nie net sy diepsinnige lirieke, sy eieklankige komposisies of virtuose klavierspel wat my die meeste aangryp nie. Coenie is by uitstek ʼn woordsjef. Hy wéét hoe woorde op unieke maniere by mekaar te stapel:
Die katakombes van die stad – // ja, die skadu’s teen die muur // roer en skuif onrustig // voor ʼn steeg se oker vuur
Dis byna onmoontlik om met presiesheid te weet waar en wanneer ʼn mens ʼn sekere woord geleer het. Ek kan egter sonder twyfel sê dat ek vir die eerste keer in my lewe die woorde “firmament”, “karmosyn”, “baggerboot”, “kopersamowar”, “kaddisj” en selfs “doeane en aksyns” by Coenie gehoor het. Ek weet van Paternoster, Kamieskroon en Kommagas slegs deur sy musiek.
Ek sprei my kelkiewynkaros // Waar die horison die môre los // En iewers staan ʼn kokerboom // Kniediep in die geel en droom
En sy bydrae tot Afrikaans se woordeskat? Ek loop bou ʼn klein korpussie van die lirieke van maar slegs 67 van sy liedjies, in totaal amper-amper 12 000 woorde. Hierin kry ek 57 woorde wat nie elders in ʼn groot korpus van 50 miljoen woorde voorkom nie; dus byna een nuwe woord per liedjie!
Laat Coenie se nuutskeppings dié naweek lêplek in jou mond loop vind: moerbeibloed, soldatehemel en pomelomaan; opslagsomer, Winterkaap en randjiesveld; kaneelverkoper, fluweelsnoet en blommejas …
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 22 Junie 2018 verskyn.
