Let op: Dis die skoolkurrikulum wat verander het, nie Afrikaans nie. Iewers het ʼn onderwyser of amptenaar besluit dat die blokformaat meer wenslik vir die skoolkurrikulum is, en van toe af dink almal die Mede en die Perse het een of ander wet oor Afrikaans gemaak.
Laat ons maar eerlik wees: Soos ʼn swaeltjie nie ʼn somer maak nie, so maak ʼn komma nie ʼn taal nie. Dié briefkomma is niks anders as ʼn geïnstitusionaliseerde konvensie nie.
|
| "Mejuffrou" De Jager - meer as veertig jaar later |
Om ondersteunende bewyse vir Ilna se hipotese te kry, vaar ek ons universiteitsbiblioteek binne. Die oudste brieweboek waarop ek my hande kan lê, dateer uit 1937 en die jongste normatiewe bron uit 2017 – ʼn tydperk van 80 jaar. In die ouer bronne is die boodskap glashelder: Gebruik kommas aan die einde van die aanhef- en slotreël in ʼn brief. In die 1970’s begin die voorskrifte wissel: Sommige outeurs sê by die blokformaat mag nie kommas gebruik word nie, ander gebruik rustig die komma van oudsher. Teen die 1980’s is die briefkomma so goed as uitgestorwe, en sedert die 1989-uitgawe van die bekende Norme vir Afrikaans is die kommalose brief die standaard.
In 2017, vir die eerste keer in Standaardafrikaans se geskiedenis, kry ons ʼn geformaliseerde reël oor dié kwessie in die AWS. Reël 13.44 draai geen doekies hierom nie: “Die komma word nie ná die aanhef en groet in ʼn brief of e-pos gebruik nie. Indien die aanhef of die groet egter op dieselfde reël as die res van die boodskap geplaas word, word dit met ʼn komma van die res van die teks geskei. ”
In hedendaagse Afrikaans sou die aanhef dus “Geagte Mx” (!) en die slot “Die uwe” moes wees – sonder geen niks se gekomma nêrens nie. Maar in ʼn WhatsApp-boodskap sou die einste assistenthoofbestuurder seker kon skryf:
“Hallo’tjies Elza, Jy lyk biki swanger, jong‼!
Afskud, nè! Lekker daggie, Shazaan” – met alle kommas van dien.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 14 September 2018 verskyn.

