Hierdie lys bevat ʼn paar sulke strikke. Stuur gerus vir ons wenke as jy nog sulkes teëkom sodat ons dit in ons databasis kan opneem en kan help om die verwarring op te los.
| besondere x besonderse |
Die HAT en WAT dui aan dat ʼn mens albei woorde mag gebruik vir "spesiale". "Besondere" het egter ʼn bykomende betekenis van "bepaalde", wat "besonderse" nie het nie. Eselsbrug: "Besonderse" (met die s) is die een wat net "spesiale" kan beteken.'
|
|
| bly x gelukkig |
Albei die woorde is in Engels "happy", maar "bly" is in Afrikaans ʼn kortstondige gemoedstoestand, terwyl "gelukkig" ʼn langdurige syn is (Engels: "state of being").
|
|
| gesin x familie | In Engels is daar die woord "family" waarmee ʼn mens na beide huismense en bloedverwante verwys. In Afrikaans is daar onderskeidelik "gesin" en "familie" vir die twee begrippe. |
|
| guur x onguur | "Guur" en "onguur" is sinonieme waar dit na enigiets anders as mense verwys. Mense kan net "onguur" wees. |
|
| halwe x helfte |
ʼn "Helfte" is een van twee gelyke dele, ʼn "halwe" is iets waarvan daar net 50% oor is. Dit klink na dieselfde ding, maar dit is nie. Dit dui wel dieselfde hoeveelheid aan, maar die verhouding tot die geheel verskil.
|
|
| hulp x help |
In Engels is "help" ʼn selfstandige naamwoord en ʼn werkwoord. In Afrikaans is "help" die werkwoord en "hulp" die selfstandige naamwoord.
|
|
| ken x weet | In Engels gebruik ons "know" om aan te dui dat jy van iets bewus is (dit "weet") en dat jy kennis onder die knie het (dit "ken"). Dui ook vir tweedetaalleerders aan dat "ken" in Afrikaans altyd oorganklik is. Jy ken altyd iemand of iets, jy kan nie net ken nie. "Weet" is oorganklik of onoorganklik. |
|
| klere x kleure |
Hierdie een verwar selfs moedertaalsprekers. Die toekenning wat leerders vir sport- en ander prestasies kry, is "kleure". Dit kom van ʼn tradisie by Oxford en Cambridge waar ʼn uitblinker ʼn lint aan sy/haar baadjie vasgesteek het en dan die universiteit se "colours" (skakerings van blou) gedra het.
|
|
| lid x lidmaat |
Jy is ʼn "lid" van ʼn organisasie, maar ʼn "lidmaat" van ʼn kerk. Die verwarring ontstaan omdat jou betrokkenheid by enige liggaam, vereniging of organisasie as "lidmaatskap" bekend staan en baie organisasies na konsepte soos "lidmaatskapgelde" of "lidmaatskapvoorwaardes" verwys.
|
|
| ly x lei |
Hierdie bekende homofoon verwar nie net tweedetaalsprekers nie. Jy "ly" as jy as gevolg van ʼn siekte of ʼn ander uitdaging swaarkry. As jy die voortou neem, "lei" jy. Eselsbrug: Lyding is nie iets wat in ʼn agtermiddag oor is nie, dis ʼn lang proses. Dit kry die "lang y".
|
|
| present x persent |
ʼn "Present" is iets wat jy "presenteer" (nee, dis nie anglisisties nie, dit kom uit Nederlands); dis met ander woorde ʼn geskenk. "Persent" is die eenheid waarmee persentasie uitgedruk word.
|
|
| sommige x som x soms |
Die Engelse "some" en die Afrikaanse woorde loop soms deurmekaar. "Sommige" is "ʼn paar van" en is in Engels "some". "Som" is "berekening" of "totaal" en die ekwivalent van die Engelse "sum". "Soms" beteken "elke nou en dan" en is die ekwivalent van die Engelse "sometimes".
|
|
| proe x smaak |
In Engels is daar een woord "taste", en in baie kontekste is "proe" en "smaak" in Afrikaans sinonieme. Maar net "proe" kan die aktiewe handeling wees, terwyl "smaak" en "proe" albei gebruik kan word om die sintuiglike waarneming ná die proe-handeling te beskryf. Dis hoekom jy nooit "smaak" as die opdrag in ʼn bevelsin kan gebruik nie. Die selfstandige naamwoord is in Afrikaans altyd "smaak".
|
|
| sinloos x sinneloos |
Weer een waarmee moedertaalsprekers ook kleitrap. Die "sin" in "sinloos" verwys na betekenis of inhoud, en "sinloos" is dus leeg, betekenisloos, doelloos. Die "sinne" in "sinneloos" verwys na kognisie, verstand en/of begrip, en "sinneloos" beteken dus dwaas, belaglik, waansinnig, ondeurdag, redeloos of onverstaanbaar.
|
|
VivA-groete
Sophia