ʼn Afrikaanse pyplyn: Dr Theuns Eloff aan die woord

Geplaas deur Sophia Kapp Woensdag, 27 Mei 2020
Gepubliseer in VivA;

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het op 21 Mei 2020 Taalportaal en Taalonderrigportaal bekendgestel. Ons het die dag gekies omdat dit Unesco se Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit vir Dialoog en Ontwikkeling is, en ons het beplan om ʼn makietie in Pretoria te hou om die geleentheid te vier, maar die koronapandemie heet ons planne in die wiele gery. Die virtuele bekendstelling was egter net so ʼn groot sukses, en ons het deelnemers van oral oor die wêreld gehad wat die sessie meegemaak het.

Die sprekers wat by die geleentheid sou optree, het ingestem om steeds met ons hulle kennis en wysheid te deel. Dr Theuns Eloff van die Dagbreek Trust en die Trust vir Afrikaanse Onderwys was ons gasspreker. Ons het hom gevra om oor drie sake te praat, en ons deel graag weer sy insigte hier.

1. Watter uitdagings staar Afrikaans in die onderwys in die gesig?

Dr Theuns het hier drie uitdagings uitgelig:

  • Enkeltalige Afrikaanse skole is onder druk om dubbelmedium te word, en dit is bewys dat dubbelmediumskole maar eintlik uiteindelik verengels.
  • Kleuterskole verengels, wat beteken dat kinders wat eintlik Afrikaans moet begin skoolgaan, verengels. Die eienaars van hierdie kleuterskole, veral in die stede, meen dat hulle nie genoeg inskrywings gaan hê as hulle die kleuterskole Afrikaans hou nie, en kort voor lank verengels die hele skooltjie.
  • Universiteite verengels. Dit is net die NWU se Potchefstroomkampus en die Universiteit van Stellenbosch wat nog volledige grade in Afrikaans aanbied.

2. Wat doen die TAO om hierdie uitdagings die hoof te bied?

Die TAO se oogmerk is om die pyplyn vir Afrikaanse onderwys in stand te hou. Dit kom daarop neer dat ʼn leerder van kleuterskool af tot op tersiêre vlak in Afrikaans opgelei moet kan word, want as hierdie pyplyn iewers breek of lek, verloor ons sprekers aan Engels. Die TAO het twee strategieë om hierdie oogmerk te bereik:

  • Help skole en universiteite wat reeds Afrikaans is om Afrikaans te bly. Dit word gedoen deur seker te maak dat Afrikaanse skole se getalle sodanig is dat provinsiale onderwysdepartemente nie rede het om druk op skole te plaas om dubbelmedium te word nie, en om die gehalte van onderrig in hierdie skole so goed te maak dat ouers dit as voordelig beskou om hulle kinders by dié skole in te skryf.
  • Help om privaat inrigtings te skep wat enkeltalig-Afrikaans is. Hieruit het die Afrikaanse Onderwysnetwerk en die MOS-inisiatief gevloei wat skoolonderrig in medium Afrikaans ondersteun en versterk. Die TAO ondersteun ook Akademia en Sol-Tech, wat reeds hulle spore as Afrikaanse opleidingsentra verdien het.

3. Hoekom het die TAO by VivA betrokke geraak?

VivA het spesifiek ten doel om Afrikaans se hoë funksies (d.i. navorsing) uit te brei. ʼn Taal sterf gewoonlik "van bo af" – as hy van sy hoë funksies ontneem word (soos navorsing op universiteitsvlak), verloor hy vinnig sy ander funksies ook, en eindig hy gewoonlik as ʼn spreektaal wat nog net onder gesinslede by die huis gepraat word. VivA se oogmerke om Afrikaans se grammatika te beskryf en om navorsing oor Afrikaans te akkommodeer en aan te moedig, pas netjies in by die TAO se visie om die hele pyplyn vir Afrikaans in stand te hou.

VivA is baie dankbaar vir hierdie ondersteuning, en sien uit daarna om saam met die TAO aan die volgende fase van die projek te werk, naamlik die uitbou van hierdie navorsing en die beskikbaarstelling van die inhoud aan die hele taalgemeenskap.

Dr Theuns se hele toespraak is op YouTube beskikbaar. Klik hier om daarna te kyk.

In die volgende blog plaas ons prof Gerhard van Huyssteen, die projekleier vir Taalportaal en Taalonderrigportaal, se bespreking van VivA se navorsingsprojek, en die verduideliking van hoe VivA hierdie pyplyn-idee ondersteun.

VivA-groete

Sophia

Lees 3757 tye Laaste modifikasie op Saterdag, 25 Julie 2020 07:37