- Jy is die eindredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Wat is die WAT, en wat doen ʼn eindredakteur van so ʼn woordeboek?
Die WAT is ʼn omvattende woordeboek. Hierdie soort woordeboek verskil van standaardwoordeboeke in die opsig dat dit ʼn veel uitvoeriger makrostruktuur en mikrostruktuur het, m.a.w. baie meer woorde word opgeneem en die artikels wat van sulke woorde gemaak word, is veel langer omdat meer inligting verskaf word. In so ʼn woordeboek word nie slegs standaardtaal opgeneem nie, maar ook verskillende variëteite van ʼn taal. Sulke woordeboeke bestaan gewoonlik uit meer as een deel. In die WAT se geval het daar al sestien dele die lig gesien. Van die letter “s” en woorde wat daarmee begin alleen, het daar drie dele verskyn. Elke deel is omtrent 600 bladsye lank.
Die eindredakteur kontroleer die werk wat deur die mederedakteurs gelewer word en is verantwoordelik daarvoor dat ʼn woordeboekdeel op die beplande tyd verskyn.
- Hoe lank gelede het die WAT tot stand gekom? Hoekom is dit nog nie klaar nie?
Die WAT is vanjaar reeds 95 jaar oud. In die beginjare was daar een redakteur wat veral materiaal versamel het. Die projek het eers in die vyftigerjare van die vorige eeu momentum gekry toe P.C. Schoonees die hoofredakteur geword het. Omdat Afrikaans in sy wydste omvang in so ʼn woordeboek opgeneem word, verg dit ʼn langer tyd om klaar te maak as ʼn standaardwoordeboek (wat ook handwoordeboek genoem word). Die WAT werk ook met “werklike taalmateriaal” wat verkry is uit verskillende Afrikaanse tydskrifte, koerante en boeke. Ons materiaal uit sulke bronne beslaan meer as drie miljoen indekskaartjies. Die redaksionele stelsel is voor die jaar 2000 hersien sodat vinniger vordering gemaak kan word. Tans werk die redaksie volgens ʼn tienjaarplan. Dit behels dat die WAT teen 2028 tot by z voltooi sal wees.
- Deel 16 van die WAT het onlangs verskyn. Watter deel van die alfabet dek dit, en kan jy ʼn paar voorbeelde aanhaal van nuwighede of eienaardighede wat in hierdie deel verskyn?
Die jongste deel strek van SRP (die afkorting vir sekuriteitereguleringspaneel) tot Szonditoets (vernoem na die Hongaarse psigiater en psigoanalis Léopold Szondi, is hierdie toets ’n projektiewe en nieverbale persoonlikheidstoets waarin ’n respondent foto’s van persone met psigiatriese versteurings waartoe hy of sy aangetrokke voel, moet kies, waardeur bepaal word of die persoon tot persoonlikheidsafwykings neig en of sy of haar persoonlikheidsamestelling soortgelyk is aan die persone met psigiatriese versteurings sʼn. ’n Goeie kwota nuwe woorde is opgeneem in die hoofdeel, bv staatskaping en swaaistaat en Covid, Covid-19, grendeltyd, inperking en koronavirus is in die Addendum opgeneem. Daar is verder woorde soos stieftande vir “kunsgebit”, stofjas vir “donkie” en streelperseel vir “masseersalon”. Gevalle van kontaminasie wat opgeneem is, is swerkater, wat saamgestel is uit swernoot en blikskater, en superdoor, saamgestel uit superintendent en kokkedoor.
Die WAT se korpus is in hierdie deel ook uitgebrei om te verseker dat meer Kaapse Afrikaanse lemmas, betekenisonderskeidings en uitdrukkings ingesluit word. Dit het aanleiding gegee tot ’n lys van meer van 1 500 lemmas, betekenisonderskeidings en uitdrukkings van A tot Z uit Kaapse Afrikaans, waarvan reeds sowat 100 by Deel 16 ingesluit is. Dit sluit unieke Kaapse Afrikaanse lemmas in soos satmaak, skwassie, smokkie, soema, sturvy en swirlkous en uitdrukkings soos sterkgevreet trek of sterk lekkers eet, asook Moslemafrikaanse items soos shukran, soenat en salaah maak.
- Waar en hoe kry gebruikers toegang tot die WAT?
Die WAT kan geskakel word by 021-8873113, of daar kan geskryf word aan die hoofredakteur, Buro van die WAT, posbus 245, Stellenbosch, 7599. Die WAT se webblad is by www.wat.co.za. Die Aanlyn WAT is by www.woordeboek.co.za.
Gebruikers kan natuurlik ook gebruik maak van ʼn uitstekende pakket wat deur VivA aangebied word, waarvan die WAT deel vorm.
- Hoe kan VivA se gebruikers die WAT se werk ondersteun?
Skakel gerus met VivA, koop woordeboekdele, teken in op die Aanlyn WAT, ondersteun die “borg ʼn woord”-inisiatief. Verder is taalmateriaal wat tipies aan ʼn bepaalde omgewing of streek is, altyd welkom by ons. Stuur gerus sulke woorde of uitdrukkings eie aan jou omgewing vir ons aan. Enige ander taalmateriaal is ook welkom.
VivA sê van ons kant af baie geluk, en baie dankie, aan die span by die WAT. Kyk gerus in ons winkel indien jy via ons app op die WAT wil inteken. So kry jy nie net toegang tot hierdie uiters waardevolle bron nie, jy lewer ook 'n beduidende bydrae tot sy groei.
VivA-groete
Sophia