Voorbeelde mag dalk trek, maar, ai, woorde wek darem al te lekker. En as sulke woorde kreatief en nuut en onopgetekend is, des te meer. Toonomkrulplesier.
Al gehoor van Varsgebek? Dit is die inisiatief waar die HAT, Taalkommissie, VivA en WAT (met die ondersteuning van Afrikaans.com, ATKV, Atterbury Trust, CTexT, kykNET, Netwerk24 en RSG) woorde idiome en ander sêgoed wat nog nie in woordeboeke opgeteken is nie, insamel.
Sedert Junie het ons byna 1 300 inskrywings van oor die hele land ontvang; dit is ongeveer sewe nuwe Afrikaanse woorde en uitdrukkings per dag! ʼn Paneel van kundiges het die herkuliese taak gehad om uit al dié inskrywings slegs 25 finaliste vir ons jaareindkompetisie te kies. En jy kan nou stem vir jou gunsteling-Varsgebek 2016-inskrywings.
Pryse ter waarde van meer as R20 000 is op die spel – ook vir jou as stemgeregtigde.
Algemene woorde:
Tegniese woorde/vakterme:
Spreuke/spreekwoorde/gesegdes:
Idiome:
Om jou stem uit te bring en die kans te maak om groot pryse los te slaan, gaan na http://varsgebek.org en stem voor die stembus op 13 Desember om 17:00 sluit.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 10 Desember 2016 verskyn.

My ma is 72 jaar oud en ten volle rekenaar-, slimfoon- en tabletgeletterd. Die goedvrou het menig skooltaak van haar kleinkinders met behulp van Wikipedia en Google afgeknutsel, is op die Facebook, en whatsapp gereeld foto’s van haar vroualleen reise deur Suid-Afrika.
Maar sy het helaas ʼn paar goed nog nie onder die knie nie. As ek so na my vriende luister, is dit dieselfde goed waarmee hulle ouer, internettende garde ook worstel.
Een daarvan is emotikons en emoji’s. My ma whatsapp tipies iets soos:
Veilig ry, my kind‼!!‼ ![]()
![]()
![]()
![]()
Gemiddeld sewe minute later en ek kan steeds nie ontsyfer wat sy bedoel nie. Moet ek aandag skenk aan die fauna en flora op die pad tussen Pretoria en Potchefstroom, lekker na musiek luister en nie swaarde kruis met ander padgebruikers nie? Of is dit alles koosnaampies? Apie, Blommie, G(-sleutel), Gerhard? (My naam beteken oorspronklik “sterk spies”.)
Les 1: Emotikons is uit, emoji’s is in. Die verskil is teoreties, maar in beginsel is emotikons teksgebaseerd – soos :( of B) – terwyl emoji’s prentjies is – soos
of
. Soms is ʼn mens gelukkig dat jou programmatuur outomaties emotikons in emoji’s verander, maar nie altyd nie. As jy emotikons móét gebruik (vir SMS, maar dis 2016, mense, ons SMS nie meer nie), dan word die koppeltekenneus weggelaat. Dus :) en nie :-) nie.
Les 2: Emoji’s is soos kerrie as ʼn mens kos maak. (1) Gebruik net genoeg om die kos te geur, sonder om dit te oordonder. (2) Gebruik kerrie altyd komplementerend saam met knoffel, kardemom of komyn. (3) Kerrie is (enigsins) vreemd in hertzoggies of melktert, maar kan ʼn bierbroodjie of muffin verrassend opvrolik. Duidelik so? (Ek laat maar vir eers die gebruik van kaomoji’s en Facebookplakkers uit ons kuberkombuis – dis vir die Groot Kokkedore.)
Les 3: Leer wat emoji’s beteken. Byvoorbeeld:
beteken nie “Ek huil/treur/ween” nie, maar wel “Ek bekwyl my van moegheid”. (Regtig, soek dit maar op!)
beteken nie “Kom ons bid saam” nie, maar eerder “Baie dankie” (of “Namaste”, soos wat elke derde hipster mos deesdae sê).
beteken nie “Sit, ek maak tee” nie, maar wel oorspronklik “Hoe kan ek jou help?”
Vra maar vir jou naaste NG-predikant – hy sal dit verduidelik. Of dalk juis nie …
beteken nie “Ek is smoorkwaad nie”, maar oorspronklik in die Japannees “Ek is triomfantlik!”
![]()
![]()
… “Almal sing saam, Y. M. C. …” Nee, nee, dit beteken onderskeidelik “Dis taboe”, “oukei” en “Ek wil iets sê.”
“Pravin Gordhan word al wéér deur die Valke ondersoek”
Niemand weet eintlik wat dit beteken nie, maar ons vermoed dit is ʼn emoji wat in hokkiekringe gebruik word.
Les 4: Leestekens, veral die slotpunt, is soooo 2014. Plaas liefs ʼn emoji elke nou en dan aan die einde van ʼn sin om jou gevoel uit te druk. Dus, skryf liewers:
Ek was in ʼn ongeluk ![]()
in plaas van:
Ek was in ʼn ongeluk‼! ![]()
![]()
![]()
![]()
![]()
![]()
![]()
![]()
![]()
![]()
Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 03 Desember 2016 verskyn.

Kongresdatum: 28 Junie tot 1 Julie 2017
Plek: Stonehenge in Africa - Parys, Vrystaat
Chiaroscuro in die skilderkuns behels die onthullende spel van lig en skadu. Die een kan nie sonder die ander bestaan nie. Deur die kontras van 'n ligte figuur teen 'n donker agtergrond, en omgekeerd, word daardie figuur op ’n openbarende manier afgeteken. In hierdie beeld lê die kern van die kongrestema opgesluit, naamlik kontrapuntale samehang in en om die Neerlandistiek. Die gesprek is daarop gerig om binne die konteks van die komparatisme die kontraste sterker te belig, maar dus steeds met aandag aan ooreenkomste en gemene delers.
U word hartlik uitgenooi om referaatvoorstelle van ongeveer 250 woorde teen 31 Januarie 2017 voor te lê deur dit in te dien op die kongreswebblad. U word ook uitgenooi om onderwerpe voor te stel vir spesiale tematiese sessies of paneelbesprekings.
Voorgestelde velde en subtemas: Vergelykende taal- en letterkunde; Kontrastiewe taalkunde; Sosiolinguistiek; Historiese taalkunde; Literêre geskiedskrywing; Postkoloniale studies; (De)kolonialisering; Digitisering en digitalisering; Digitale humaniora.
Spesiale nommers van Tydskrif vir Geesteswetenskappe en Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans word aan die kongres gekoppel. Die bedoeling is dat 'n gevorderde weergawe van 'n artikel by die kongres as referaat aangebied word. Deelnemers kan besluit by watter een van die bogenoemde tydskrifte die artikel voorgelê word.
Organiseerders: Phil van Schalkwyk, Adri Breed en Janien Linde
Meer inligting is beskikbaar by http://savn2017.wixsite.com/savn-kongres-2017
Die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is besig om te werk aan die finale manuskrip van 'n nuwe uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). Dié uitgawe sal in 2017 verskyn.
'n Handige bylaag wat in die nuwe AWS gaan verskyn, handel oor riglyne vir die gebruik van die SI-stelsel. Die tabel hier onder sal deel wees van die bylaag. Dit verduidelik sistematies die verskil tussen die lang skaal (wat in Suid-Afrika en Afrikaans gebruik word) en die kort skaal (wat onder andere in die VSA gebruik word).
|
Faktor |
SI-voorvoegsel |
Simbool |
Afrikaanse terme |
Engelse terme |
|
|
Lang skaal |
Lang skaal |
Kort skaal |
|||
|
10-24 |
jokto- |
y |
kwadriljoenste |
quadrillionth |
septillionth |
|
10-21 |
zepto- |
z |
triljardste |
trilliardth |
sextillionth |
|
10-18 |
atto- |
a |
triljoenste |
trillionth |
quintillionth |
|
10-15 |
femto- |
f |
biljardste |
billiardth |
quadrillionth |
|
10-12 |
piko- |
p |
biljoenste |
billionth |
trillionth |
|
10-9 |
nano- |
n |
miljardste |
milliardth |
billionth |
|
10-6 |
mikro- |
m |
miljoenste |
millionth |
millionth |
|
10-3 |
milli- |
m |
duisendste |
thousandth |
thousandth |
|
10-2 |
senti- |
c |
honderdste |
hundredth |
hundredth |
|
10-1 |
desi- |
d |
tiende |
tenth |
tenth |
|
100 |
een |
-- |
-- |
-- |
-- |
|
101 |
deka- |
da |
tien |
ten |
ten |
|
102 |
hekto- |
h |
honderd |
hundred |
hundred |
|
103 |
kilo- |
k |
duisend |
thousand |
thousand |
|
106 |
mega- |
M |
miljoen |
million |
million |
|
109 |
giga- |
G |
miljard |
milliard |
billion |
|
1012 |
tera- |
T |
biljoen |
billion |
trillion |
|
1015 |
peta- |
P |
biljard |
billiard |
quadrillion |
|
1018 |
eksa- |
E |
triljoen |
trillion |
quintillion |
|
1021 |
zetta- |
Z |
triljard |
trilliard |
sextillion |
|
1024 |
jotta- |
Y |
kwadriljoen |
quadrillion |
septillion |
“Ek weet ons gebruik miljoen en biljoen anders as in Engels, maar ek kan nooit onthou hoe nie. Hoe werk dit?” Dié vraag duik in taalkringe op met bykans dieselfde reëlmaat as versoeke in die parlement dat Zuma moet bedank.
Die woord “miljoen” se paadjie is ʼn interessante ene.
Die slim Indiërs het al voor die derde eeu getalname gehad vir getalle ver bo 1 000 000 000. Maar siestog, die Grieke kon net tot 10 000 tel en die Romeine tot 100 000. In Latyn sou 1 000 000 iets wees soos deciec centena milia, oftewel letterlik “tien honderd duisend.” Vir die volkse Italianers was dit te veel van ʼn mondvol en hulle het aan mille (“duisend”) die versterkende agtervoegsel -one gaan vasplak: milleone (deesdae milione) beteken dus letterlik “baie duisend”.
Aan die einde van die agtiende eeu reken die Franse toe dat hulle verder wil tel as ʼn miljoen, en vervang toe die -one met hulle eie versterkende agtervoegsel -ard wat letterlik “hard” beteken. ʼn Miljard is dus as ‘t ware ʼn “harde baie duisend”!
As ons weet dat “miljoen” gevolg word deur “miljard”, dan word die sommetjies makliker.
Die voorvoegsel bi- beteken “twee” (soos in “biseksueel”), tri- beteken “drie” (soos in “trilogie”) en kwadri- beteken “vier” (soos in “kwadmotorfiets”). Nou is dit supermaklik en logies:
1. miljoen = 1 000 000 (ses nulle = 106)
miljard = 1 000 000 000 (drie ekstra nulle = 109)
2. biljoen = 1 000 000 000 000 (1012)
biljard = 1 000 000 000 000 000 (1015)
3. triljoen = 1 000 000 000 000 000 000 (1018)
triljard = 1 000 000 000 000 000 000 000 (1021)
4. kwadriljoen = 1 000 000 000 000 000 000 000 000 (1024)
kwadriljard = 1 000 000 000 000 000 000 000 000 000 (1027)
As jy eers een keer hierdie benamingstelsel snap, is die kind se naam Wit Willem.
In Suid-Afrika word hierdie lang skaal deur wetgewing (Wet 18 van 2006) voorgeskryf. Daar was onlangs ʼn ondersoek of dit verander moet word, maar die vakkundiges en outoriteite se aanbeveling was dat dié stelsel in Suid-Afrika behoue moet bly.
Binne die Media24-stal blyk daar verdeeldheid te wees. In die afgelope week verskyn ʼn brief in Beeld wat melding maak van “staatskuld van R2,2 triljoen”, verwysende na “R2,2 trillion” in Engels. Dit moes dus eintlik R2,2 biljoen in Afrikaans gewees het. Dieselfde brief word in Volksblad gepubliseer, maar gebruik nou “R2 200 miljard”; tegnies korrek, maar wel omslagtig en verwarrend.
Huisgenoot het egter besluit húlle lesers is te dom om hierdie (eenvoudige) stelsel te verstaan: Met ingang 7 April deser volg hulle die Amerikaanse stelsel van miljoen, biljoen, triljoen – sonder miljard, biljard en triljard. Ons dommes moet dus nou dubbeld somme doen: As ek enige ander (Media24-) Afrikaanse publikasie lees, weet ek dat “biljoen” = 1012, maar, wee my, as ek Huisgenoot lees is “biljoen” = 109.
Dalk moet Media24 vir Zuma vra om uitsluitsel oor die saak te gee …
Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 26 November 2016 verskyn.
