Tog kan die behoefte om meer Afrikaanse boeke, dramas, kortverhaalbundels en digbundels – veral ouer tekste uit die 1800’s of vroeë 1900’s – in digitale formate te kan stoor en bekom, nie ontken word nie. Dít wat reeds vir Afrikaans gedoen is, kan egter ook nie ontken word nie – en dit boonop dikwels vrywillig of op ʼn broodlynbegroting.
Die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Letterkunde (DBAL) is ʼn omvattende bibliografie wat in 2015 tot stand gebring is en ten doel het om ʼn deursoekbare lys van al die beskikbare Afrikaanse letterkunde (insluitend romans, poësie, dramas, kortverhale, asook tekste oor letterkunde, soos resensies en akademiese artikels) vir gebruikers meer toeganklik te maak. Nie net is DBAL ʼn gratis hulpbron beskikbaar vir gebruik deur die breër publiek, hetsy nasionaal óf internasionaal nie, maar dit is ’n allesomvattende inventaris van alles wat die Afrikaanse letterkunde het om te bied. Ten spyte van die feit dat hierdie mandaat ʼn enorme taak is – veral teen die trant waarop nuwe publikasies in Afrikaans verskyn – bevat DBAL tans meer as 17 000 inskrywings waarvan ’n allemintige 30% reeds in PDF-formaat op die platform beskikbaar is vir gebruikers om af te laai.
VivA werk saam met verskeie instansies, soos die Noordwes-Universiteit se argief en biblioteek, die Erfenisstigting, die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Pretoria se biblioteke, Afrikaanse Taalraad, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, SADiLaR se verskeie nodes, asook vele ander instansies wat projekte van stapel stuur of ondersteun om Afrikaanse letterkundepublikasies waarvan die kopiereg verval het, te digitiseer en beskikbaar te stel op DBAL en die taalkunde-eweknie, die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT). Daarby het VivA verskeie niefiksietekste wat tussen 1675 en 1925 in vroeë vorme van Afrikaans gepubliseer is, gedigitiseer en in die digitale pakhuis, naamlik Historiese Afrikaanse Bronne, waar dit deur enigeen wat die behoefte daaraan het, gebruik kan word, geplaas. Die huidige samewerking tussen instansies om Afrikaanse tekste, en verál historiese Afrikaanse tekste te digitiseer, verloop stadig, hoofsaaklik omdat begrotings beperk is en die proses veeleisend is, maar dit beteken nie dat daar niks op hierdie gebied gebeur nie. Hierdie tekste is dalk ’n ou hond, maar dit kan beslis nuwe spore maak!
Tekste waarvan die kopiereg nog nie verval het nie, kan egter nie sonder meer net geskandeer en beskikbaar gestel word vir verspreiding en gebruik in die publieke domein nie. Kopieregwetgewing verhoed die verspreiding en herpublikasie van tekste, nie net letterkunde nie, maar ook akademiese en niefiksietekste, sonder die goedkeuring van die uitgewer en/of outeur. Hierdie wetgewing is in plek om onder meer te verhoed dat ʼn persoon of instansie finansieel uit die pennevrug van ander baat, sonder om die nodige erkenning en winsdeling aan die oorspronklike outeur of die uitgewer te bied. Om te skryf is immers die skrywer se lewensbrood – dit sorg vir kos op die tafel en ʼn dak oor die kop. Dit vat aan die sak van die skrywer wat as beroep pen op papier sit en ʼn bestaan moet maak uit die verkope van sy/haar pennevrug.
Ten spyte hiervan het meer as 25 skrywers hul kortverhale, gedigte of grepe uit romans aan VivA geskenk, omdat hulle ʼn bydrae wil lewer tot die bevordering van lees in Afrikaans. Hierdie skryfwerk is gratis op VivA se aanlyn lees-en-luisterbiblioteek en -app beskikbaar. Verskeie bekendes het ook hul versamelings en lewenswerke aan DBAL, VivA, universiteite en ander instansies in hul testament bemaak of geskenk, met die doel dat hierdie tekste gedigitiseer kan word en ʼn bydrae moet lewer tot die bevordering, bewaring en volhoubaarheid van Afrikaans in die digitale era. Dit is egter nie net skrywers wat digitisering in Afrikaans goedgesind is wanneer dit verantwoordelik en met die nodige respek en erkenning behartig word nie, maar ook die families van bekendes wat dikwels, na die afsterwe van hul geliefde, werke ter bevordering van Afrikaans in digitale kontekste skenk.
Die digitale toekoms van Afrikaans word nie slegs tot die virtuele bekombaarheid van letterkunde beperk nie, maar sluit ook ander fasette van Afrikaans se erfenis in. In hierdie verband werk VivA gereeld saam met radiostasies, soos RSG en ander Afrikaanse mediavorme om te verseker dat hierdie instansies se Afrikaanse inhoud geken word in die ontwikkeling van Afrikaanse taaltegnologieë en ingesluit word by projekte en inisiatiewe wat die voortbestaan van Afrikaans op meerdere gebiede bevorder. Verwys onder meer na die volgende publikasies wat reeds die aard en omvang van enkele digitiseringsprojekte uiteensit:
- 'n Oorsig oor enkele digitiseringsprojekte in Afrikaans: 'n Vertrekpunt vir Afrikaans se digitale toekoms
- Die DBAT as bemagtigingsinstrument vir die Afrikaanse taalkunde: rol en moontlikhede
- Die digitalisering van NALN se knipselversameling: Wannie Carstens lewer kommentaar
- Die ontwikkeling van ’n BATL – ’n vorderingsverslag
- Lewende, gesaghebbende digitale biblioteek vir Afrikaanse letterkunde
- Bekendes maak planne vir Afrikaanse aanlyn argief
- NALN word 50! Mylpaal en LitNet Akademies-NALN aanlyn katalogus
- Die digitalisering van NALN se knipselversameling: jongste verslag
VivA se 120 produkte en dienste bewys dat Afrikaans in ’n digitale era kan en sal funksioneer. Afrikaans se digitale voetspoor is reeds indrukwekkend, veral in vergelyking met ander Afrikatale. Dit beteken egter nie dat daar volstaan moet word met die vordering wat tot dusver gemaak is nie. Daar kan en behoort meer vir die bevordering van Afrikaans gedoen te word.
Die toekoms en die verlede behoort tegelykertyd aangepak te word. Dit wil sê dat daar nie uitsluitlik gefokus kan word op die Afrikaanse letterkunde van die verlede nie, alhoewel daar vir seker ʼn mate van dringendheid aan hierdie tekste se digitisering gekoppel word, maar dat prominensie ook aan die toekoms van digitale publikasies in Afrikaans verleen moet word. Daarom het VivA ons eie uitgewery in Maart 2023 bekend gestel. Die noodsaaklikheid van digitale publikasies en virtuele uitgewers lê VivA-Uitgewers na aan die hart. Sodoende word verseker dat Afrikaanse letterkunde in die toekoms nie in die vergetelheid sal raak nie, terwyl elke skrywer se belange steeds beskerm en op die hart gedra word.
Afrikaanse fiksie, dramas, poësie en niefiksietekste sal wel vir volgende geslagte in die toekoms meer toeganklik wees, omdat dit vanuit die staanspoor in digitale formate en op digitale platforms beskikbaar sal wees. ʼn Rits Afrikaanse organisasies is daagliks besig om saam te span om die digitisering en bewaring van Afrikaans se erfenis – insluitend Afrikaans se literêre erfenis – te koördineer, onderneem en volhoubaar vorentoe te neem.
VivA-groete
Roné Wierenga