Niehoofwerkwoorde word ook “medewerkwoorde” genoem. Dit kan een na die ander uitgeryg[i] word en ná die subjek (oftewel onderwerp)[ii] gaan staan, totdat net een werkwoord, die hoofwerkwoord, oorbly. Kyk na die volgende voorbeeld waar “sal”, “moet” en “begin” een na die ander uitgeryg word, totdat net die hoofwerkwoord “plant” oorbly. Dit wat uitgeryg is, is ons niehoofwerkwoorde of medewerkwoorde.

Daar is twee soorte niehoofwerkwoorde (medewerkwoorde), naamlik hulpwerkwoorde en skakelwerkwoorde.
Hulpwerkwoorde word saam met hoofwerkwoorde in ’n sin gebruik, en dit lig die hoofwerkwoord op ’n aantal maniere toe.
- Dit kombineer met ’n hoofwerkwoord in die verledetydsvorm om aan te dui dat die gebeure in die verlede plaasgevind het (bv. “Hulle het roomys geëet”). Ons noem dit ’n hulpwerkwoord van tyd.
- Dit kombineer met ’n hoofwerkwoord om aan te dui hóé die gebeure in die sin plaasvind (bv. “Hulle mag roomys eet”). Hier word die hulpwerkwoord mag gebruik om te wys dat die groep mense toestemming het om roomys te eet. Toestemming dui op ’n moontlikheid. Daarom noem ons hierdie soort hulpwerkwoord ’n hulpwerkwoord van wyse of modaliteit.
- Dit kombineer met die [ge-]-vorm van die hoofwerkwoord om die lydende vorm van die sin te vorm (bv. “Roomys word deur hulle geëet”). Ons noem dit ’n hulpwerkwoord van (lydende) vorm of ’n omskrywingswerkwoord.
Soos jy sal aflei, is daar slegs een werkwoord (naamlik “het”) by die hulpwerkwoord van tyd gelys; nie ook “sal” (en “gaan”) nie. Waarom sou dit wees? In VivA se Afrikaansgrammatika gaan ons van die standpunt uit dat “sal” (en “gaan”) binne die konteks van toekomsverwysing op ’n ongerealiseerde stand van sake dui, soos in “Dit sal ’n beter jaar wees as verlede jaar”. Daarom sal ons dié gebruik van “sal” (en “gaan”) as modale hulpwerkwoorde of hulpwerkwoorde van wyse reken. Wanneer “sal” ook enigeen van die onderstaande betekenisse uitdruk, sal ons dit as ’n hulpwerkwoord van modaliteit/wyse reken:
- ‘onder dwang wees; verplig word; noodsaaklikheid’: “Jy sal nou dadelik daarmee ophou.”
- ‘’n versekering; vaste belofte’: “Ek sal sorg dat jou ma betyds is vir die troue.”
- ‘bereid of gewillig wees om die genoemde of gespesifiseerde te doen’: “Ek sal die lyste vir jou deurgaan, as jy te besig is.”
- ‘’n vorm van aanvaarding, ’n mens kan aanneem dat’: “Teen hierdie tyd sal hy nie meer daar wees nie.”
- ‘karakteriserend’: “Hy sal ure lank na die see sit en kyk.”
- ‘dramatiserend’: “Toe sal sy eers agterkom hy terg maar net.”
Nog ’n interessante vraag wat ek al gekry het, is: Wat is die verskil tussen hulpwerkwoorde en bywoorde, indien albei saam met die hoofwerkwoord gebruik word? Die eerste antwoord is sekerlik dat hulpwerkwoorde en hoofwerkwoorde gesamentlik die predikator (of gesegde op skoolvlak) vorm. Jy sal nooit skryf dat die predikator (of gesegde) van die sin “sing hard” is nie, maar wel “het gesing”. Hulpwerkwoorde werk ook sáám met hoofwerkwoorde. Die hulpwerkwoord “word” werk byvoorbeeld saam met die verledetydsvorm van ’n hoofwerkwoord om die lydende vorm (passiefkonstruksie) in die teenwoordige tyd voor te stel. Bywoorde, daarenteen, spesifiseer eerder die werkwoord deur iets te sê oor die tyd wanneer, die plek waar en die wyse waarop die handeling wat deur die werkwoord uitgedruk word, uitgevoer word (bv. Die atleet hardloop vinnig), of dit vul die werkwoord aan deur iets te sê oor die tyd wanneer, die plek waar en die wyse waarop die handeling wat deur die werkwoord uitgedruk word, uitgevoer word (soos in “Hy plaas die boeke daar” teenoor die onvolledige *“Hy plaas die boeke”).
Skakelwerkwoorde word van hulpwerkwoorde op grond van die volgende eienskappe onderskei:
- Skakelwerkwoorde lyk op die oog af soos hoofwerkwoorde, máár word saam met ’n hoofwerkwoord gebruik.
- Hulle dien altyd as ’n skakel tussen ’n hoofwerkwoord en ’n ander niehoofwerkwoord, byvoorbeeld “Die kampioen moet kan aanhou oefen”, waar “aanhou” ’n skakel is tussen die hoofwerkwoord “oefen” en die ander niehoofwerkwoorde “moet” en “kan”.
- Skakelwerkwoorde kan, in teenstelling met hulpwerkwoorde, as hoofwerkwoorde gebruik word, byvoorbeeld die skakelwerkwoord “aanhou” in “Die kampioen moet kan aanhou oefen” is die hoofwerkwoord in die sin “Die kampioen moet kan aanhou”.
- Sommige skakelwerkwoorde kan ook “ge-” in die verlede tyd kry (sien die “Iets om te onthou”-blokkie), in teenstelling met hulpwerkwoorde wat glad nie “ge-” in die verlede tyd mag kry nie.
- Betekenisgewys sê skakelwerkwoorde (i) iets oor die begin/voortgang/afsluiting van ’n handeling (bv. “Hulle gaan werk in die stad”). (ii) Dit kan ook aandui hoe die handeling van die werkwoord ervaar word (bv. “Hy sien haar op die sypaadjie loop”). (iii) Dit kan vir ons wys dat ’n handeling veroorsaak word (bv. “Hulle het mooi meubels laat maak”). (iv) Dit kan die rigting waarin ’n entiteit beweeg, aandui (bv. “Hulle het ’n koeldrank loop drink”).
Daar is twee soorte skakelwerkwoorde. Direkte skakelwerkwoorde, soos “laat”, “begin”, “aanhou”, “bly”, “ophou”, “gaan”, “kom”, “help” en “leer” vorm ’n eenheid met die hoofwerkwoord sonder die gebruik van “en”.
| Iets om te onthou: verletydsvorm
Wanneer “het” saam met direkte skakelwerkwoorde gebruik word, gebeur dit dat sommige direkte skakelwerkwoorde met of sonder “ge-/-ge-” gebruik word (2017-AWS: reël 19.8).
Die direkte skakelwerkwoorde “begin”, “bly”, “gaan”, “kom” en “laat” kry weer nie die voorvoegsel “ge-” in die verlede tyd nie (2017-AWS: reël 19.8 se opmerking).
|
Indirekte skakelwerkwoorde kan net “sit”, “loop”, “lê” of “staan” wees. In teenstelling met direkte skakelwerkwoorde kán indirekte skakelwerkwoorde indirek met die hoofwerkwoord verbind. Met ander woorde, hulle kán met “en” met die hoofwerkwoord verbind, byvoorbeeld “Daniël staan [en] drink ’n glas water”.
Nou, daar word vir leerders op skoolvlak gesê dat “staan” en “drink” in die voorbeeld hier bo twee handelinge voorstel wat gelyk gebeur en dat ons die verlede tyd in so ’n geval as “Daniël het ’n glas water gestaan en drink” moet aandui. Eintlik is dit nie heeltemal taalkundig korrek nie.
- Daar is nie sprake van twee handeling wat gelyk plaasvind nie. Dit gaan nie daaroor dat Daniël terselfdertyd staan én iets drink nie.
- Ons het eerder ’n simplekse (enkelvoudige) sin waarin ons ’n selfstandige werkwoord het (“drink”) en waar ’n ander werkwoord (“staan”) iets oor die selfstandige werkwoord sê, naamlik dat Daniël besig is om water te drink.
- Die twee werkwoorde dra daarom saam één betekenis oor. Ons kan albei werkwoorde met een prentjie voorstel.

- Dink ook aan die voorbeeld “Hulle staan en versprei leuens”. Ook hier gaan dit nie daaroor dat die persoon staan en iets versprei nie. Dit gaan eerder daaroor dat ons ’n selfstandige werkwoord (“versprei”) het en dat ’n ander werkwoord (“staan”) iets oor hierdie selfstandige werkwoord sê, naamlik dat die verspreiding van die nuus voortduur. Ons kan selfs redeneer dat “staan”, buiten vir die betekenis ‘voortduur’, ook op die persoon se ontevredenheid
- Omdat “staan en drink” en “staan en versprei” ’n eenheid vorm, kan ons nie sê dat die “en” wat hulle verbind ’n voegwoord is nie. Omdat “en” ’n woord is wat altyd tussen ’n indirekte skakelwerkwoord en selfstandige werkwoord sal staan, is dit ’n skakelpartikel.
- Al hierdie sinne is voorbeelde van enkelvoudige sinne (oftewel simplekse sinne), waar daar slegs een selfstandige werkwoord, ’n soort hoofwerkwoord, is.
Noudat jy verstaan wat die verhouding van werkwoorde soos “sit” en “staan” tot selfstandige werkwoorde is, kan jy voortgaan om die onderstaande blokkie te lees.
| Iets om te onthou: Verlede tyd
Indirekte skakelwerkwoorde, soos “loop” in “Sy loop en soek na haar hoed” kan met of sonder “ge-” in die verlede tyd gebruik word, byvoorbeeld “Sy het na haar hoed loop en soek” of “Sy het na haar hoed geloop en soek” (2017-AWS: reël 19.8). |
Vir meer inligting oor niehoofwerkwoorde kan die ouer blog “Wetenswaardighede oor die werkwoord III: Niehoofwerkwoorde” gerus gelees word.
Vriendelike groete
Nadine Fouché-Karsten
Bronnelys
Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2017. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 11de herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.
Botha, J.P. 1967. Die onderskeid tussen hoof- en medewerkwoorde. Taalfasette, 21:32-40. https://collections.nwu.ac.za/dbtw-wpd/textbases/bibliografie-afrikaans/documents-dbat/taalfasette_1967_32-40.pdf
Botha, J.P. 1987. Afrikaanse sintaktis vir voorgraadse studente. Isando: Lexicon Uitgewers.
Brink, N. & Erasmus, C. 2021. Niehoofwerkwoorde. Taalonderrigportaal. Virtuele Instituut vir Afrikaans. https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Woordsoorte%2FWerkwoord%2FAAG_Woordsoort_V_Soorte_Niehoof.html Datum van toegang: 26 Maart 2025.
Conradie, J. 2020. Taalportaal. “Word order in the clause”. https://taalportaal.org/taalportaal/topic/pid/topic-20200127090353240 Datum van toegang: 31 Mrt. 2025.
Fouché-Karsten, N. (@Taalonderwysersforum). 2024, 22 Aug. Toekomsverwysende gebruike van “sal”. https://www.facebook.com/groups/633524727876648/search/?q=modale%20hulpwerkwoord Datum van toegang: 1 Apr. 2025.
Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). 2023. Sintaksisterminologie vir die Algemene Afrikaanse Grammatika. Weergawe 1.3. https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/klaskamerhulpmiddels/item/1404-sintaksisoorsigdokument Datum van toegang: 1 Apr. 2025.
Taalversorging
Annamarie Steenekamp
Eindnote
[i] Vir meer inligting oor hierdie uitrygproses kan Botha (1967) se artikel “Die onderskeid tussen hoof- en medewerkwoorde” gerus geraadpleeg word. Hierdie inligting word ook later in sy boek Afrikaanse sintaksis vir voorgraadse studente (Botha, 1987) vervat.
[ii] Volgens Conradie (2020) word hierdie posisie in Engels “verb-second” genoem en afgekort as “V2”, omdat die subjek die eerste sinsposisie inneem. Die posisie wat deur die res van die werkwoorde ingeneem word, word “verb-final” genoem en afgekort as “VF”. In VivA se Afrikaansgrammatika word alternatiewe terme vir hierdie twee posisies gebruik, onderskeidelik “spil” (vir die werkwoord direk ná die subjek in die eerste werkwoordgleuf) en “kompleks” (vir die res van die werkwoorde wat aan die einde van die sin voorkom).

