Vir die meeste mense is die blote naam “Shakespeare” genoeg om hulle hartkloppings te besorg. Daardie uitmergelende somermiddae ná langpouse in ʼn klaskamer wat ruik na sweet en apatie terwyl ʼn desperate onderwyser vergeefs probeer om die ontoeganklike Engels en volksvreemde beelde uit te lê, is waarskynlik onuitwisbaar in ons almal se geheue ingeëts.
ʼn Paar dapperes het dalk met Engels op universiteit aangeploeter, maar selfs daar het The Shakespeare Anthology vir die meeste ʼn geslote boek gebly. Letterlik. As dit nie vir Coles Notes was nie, het goed ʼn driekwart van alle Engelsstudente sweerlik nooit ʼn graadsertifikaat ontvang nie. So hier en daar is daar natuurlik altyd ʼn pliggie wat wou liries raak oor The Bard, maar só ʼn bleeksiel is gou eenkant toe geskuif en was vir ewig sy of haar plek in die koel groepie kwyt.
Die ironie is dat meer as net ʼn paar van Shakespeare se sêgoed vandag ingeburgerde idiome en uitdrukkings in Engels is. Dit maak nou nie saak hóé vrot jou Brits is nie, jy moes al van “good riddance” (Troilus and Cressida), “cold comfort” (The Taming of the Shrew) en “the Devil incarnate” (Titus Andronicus) gehoor het. Selfs al praat jy net van “for goodness’ sake” (Henry VIII) of jy vertel ʼn “knock-knock”-grappie (Macbeth), het jy Shakespeare aangehaal.
En soos dit nou maar met enige onsterflike skryfwerk gebeur, migreer sulke skatte oor tyd- en taalgrense heen, en kan ons vandag ons steeds daaraan verwonder en daarin verlustig. So ongelooflik as wat dit vir jou mag klink, en so onvoorsien as wat dit vir ou meneer William S self sou gewees het, is daar van Shakespeare se sestiende-eeuse uitdrukkings wat ewe gemaklik in die moderne Afrikaanse spreektaal voortleef.
Ondenkbaar? Kyk dan gou hierna:
As jy al ooit by ʼn geselligheid die “ys moes breek” (The Taming of the Shrew), het jy Shakespeare aangehaal. As jy met “ingehoue asem” (The Merchant of Venice) moes staan en toekyk hoe jou gaste jou by die einste geselligheid “uit huis en haard eet” (Henry IV Part II), het jy Shakespeare aangehaal.
As jy moes toegee “die liefde is blind” (The Merchant of Venice) en jy “voor jou geestesoog” (Hamlet) gesien het hoe “jaloesie, die groenoogmonster” (Othello) jou van binne verteer, het jy Shakespeare aangehaal.
As jy ná die tragedie “jou hart op jou mou gedra het” (Othello) en in jou “hart der harte” (Hamlet) geweet het “eind goed, alles goed” (All's Well That Ends Well), het jy Shakespeare aangehaal.
En as jy uiteindelik ʼn geliefde gevind het met ʼn “hart van goud” (Henry V) is dit “hoog tyd” (Comedy of Errors) dat jy erkenning gee aan Shakespeare wat jy so aanhaal.
En al glo jy my steeds nie, en al was Shakespeare “vir jou Grieks” (Julius Ceasar), kan ons bly wees die man is al vier eeue lank dood, anders het hy ons nou almal gedagvaar vir plagiaat!
Ja, Shakespeare is dood. Lank lewe Shakespeare!
VivA-groete
Sophia