Ag, ‘ma-hulle’ is Afrikaanser as koeksisters

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Dinsdag, 07 Maart 2017
Gepubliseer in VivA;

“Ag no man, don’t worry, we’ll sommer stop and eat there with my mom and them.” Ek probeer telefonies om plaaslike reisreëlings met ʼn Amerikaanse gas te bevestig.

En dan is daar stilte aan die ander kant van die verbinding …

“Bob, you still there?”

“Uhm, yes, Gerhard, can you please repeat that?” My naam word uitgespreek soos ʼn duifma wat kos vir haar kleintjies voer.

Ek besef skielik dat daar só ontsettend veel verkeerd met my eerste sin was dat gʼn aap daar ʼn neut van sal verstaan nie. Was dit die “ag” of die “sommer”? Of dalk “stop and eat”? Waarskynlik “my mom and them” as direkte vertaling van “my ma-hulle”.

Want dié ma-hulle-konstruksie is so eg en eie Afrikaans soos wat kan kom. Afrikanser as bobotie en koesisters en melktert. Dis ook een van die konstruksies wat taalkundiges van oor die wêreld al meer as ʼn eeu lank boei. Reeds in 1899 het Hesseling daar uitgebreid oor geskryf in sy boek Het Afrikaansch, en in 1905 het Du Toit in sy Gentse doktorale proefskrif “ma hulle” (só geskryf) met “ma-goet” en “froumensgoet” (wat “vrou” beteken) vergelyk. En tot vandag toe probeer almal uitpluis waar dié konstruksies vandaan kom.

Die Kaapse gemeenskap aan die einde van die sewentiende eeu was ʼn Babel van mense en tale. Daar was die oorspronklike Khoisprekers wat al in die sestiende eeu kennis gemaak het met Skeepsnederlands en -Portugees. Daar was Hollanders wat meestal vir lang periodes nie meer kontak met kontinentale Nederlands gehad het nie. Die slawe uit Maleisië het ʼn unieke mengsel van Maleis en Portugees gepraat, en die slawe uit Wes-Afrika verbreide vorme van onder andere Ewe en Papiamentu.

Wat had die klomp gemeen? Almal het die een of ander vorm van die hulle- en goed-konstruksies in hulle onderskeie tale gehad. Om nou maar kortweg en growwerig met die taaldata om te gaan:

  • In Kaapse Khoi sou da-//îgu die vertaling kon wees van “pa-hulle”. Let op daardie -gu aan die einde van die woord.
  • In Nama sou hulle dadá-hâgu vir “pa-hulle” kon sê, terwyl xugu “goed of dinge” sou beteken het.
  • Die Hollanders had nie so ʼn segswyse nie, maar het natuurlik al vir baie jare van scheepsgoed (“dinge op ʼn skip”) gepraat. En natuurlik was die byvoeglike naamwoord goed (ook uitgespreek as “goe”) deel van hulle woordeskat. In Fries vind ons wel die segswyse mem-en-hjar (“ma en hulle”) en mem-en-dei (“ma en dié”), maar daar was indertyd weinig Friese aan die Kaap.
  • In Maleis-Portugees het tanta dong gewoon “tante-hulle” beteken.
  • In Ewe was wo die vertaling van “mens-hulle”, en in Papiamentu was cas.nan gebruik vir “huis-hulle”.

Daar was dus gewoon ʼn unieke taalsituasie aan die Kaap: ʼn Klomp verskillende mense het op dieselfde talige manier aan die kollektiwiteitskonsep uitdrukking gegee – al het dit verskillend geklink. En eeue later sien ons nog hierdie voetspore in Afrikaans, sonder dat ons regtig-egtig op hierdie stadium weet watter een die oudste is.

En daarin lê ook die mooi van Afrikaans in Afrika: Selfs my Engelse vriende hier ken en gebruik “ag” en “sommer” en “mom and them”. Anders as die arme Amerikaanse Bob …

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 04 Maart 2017 verskyn.

Lees 2909 tye Laaste modifikasie op Dinsdag, 07 Maart 2017 07:12