Gooi net wyd om blink, vet idiome te vang

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag, 11 Maart 2017
Gepubliseer in VivA;

As jy hipper as ʼn hipster wil wees, moet jy idiome gebruik. Dis anno 2017 baie “in”. Trendy, soos hulle sê. En wie die oudste idioom kan gebruik, is die hipste.

So sluip ek anderdag Protea Boekwinkel in Hatfield binne – met donkerbril en keps. (Had ek ʼn baard en ruitjieshemp, kon ek selfs soos ʼn hipster lyk.) Ek slúip binne, want vandat ek her en der verkondig dat ek deesdae net e-boeke koop, voel ek in enige boekwinkel soos ʼn kraai met pouvere.

Twee en ʼn half uur later durf ek met ʼn swaar gelaaide ventertjie die laatmiddagspitsverkeer aan. Vir verkeersleesstof kies ek ʼn kosbaarheid van ʼn boek: DF Malherbe se Afrikaanse Spreekwoorde en Verwante Vorme – eerste uitgawe, eerste druk, teen die weggooiprys van R250. Die boek is sonder jaartal, maar Malherbe het die voorwoord in Desember 1924 onderteken, en voor in die boek het die eerste eienaar “Januarie 1927” geskryf.

Een ding val onmiddellik op: Ontsettend baie van die inskrywings wat as hy as idiome of spreekwoorde lys, is vir my só alledaags dat ek nie eens daaraan as idiome dink nie. “Teen jou beterwete”, “om pad te gee” (d.i. om te koes), “onvanpas”, “onderduims”, “lendelam”, “nagmerrie”, “lekker wees” (d.i. effens aangeklam), “dit bly onder ons meisies”, en les bes, “basta!”. Volgens Malherbe is dié uitroep baie bekend in die Boland, maar “in die binneland, byname in die Vrystaat, so goed as onbekend.” (Siestog, toentertyd was die arme Vrystaters al nie vreeslik trendy nie.)

Hy verduidelik die meeste van die spreekwoorde aan die hand van hulle Nederlandse wortels, of hoe dit van Nederlands verskil.

Ene waaroor ek nog altyd gewonder het, is “iemand in die pad steek”. Volgens Malherbe is dit ʼn verafrikaansing van die Nederlandse een meisje in een klooster steken, waar daardie “steek” eintlik “bring” beteken. Vandag sou ons liewer sê: Jy bring ʼn meisie na ʼn klooster toe. In 1844 skryf die bekende Nederlandse taalkundige ANE Changuion reeds dat om “iemand in die wapad te steek” eg Afrikaans is, net soos om iemand “vir ʼn dop te steek” (dus letterlik “om vir iemand ʼn drankie te bring”). As jy iemand in die (wa)pad steek, bring jy hom/haar dus na die pad, sodat hulle op hulle eie kan vortgaan. Dink ook aan “iemand in die skande steek”, waardeur jy dus ʼn skade aan iemand bring.

Die spore van die vernederlandsingsperiode in Afrikaans se geskiedenis lê vandag nog diep.

Dae later steek die openingsin van Malherbe se voorwoord nog vas in my kop. Dis ʼn bekende en invloedryke aanhaling, maar gewis steeds trendy genoeg om teen die mure van avant-gardistiese hipsterkroeë geverf te moet word:

“Wie op die terrein van ʼn volk se spreekwoordeskat werksaam is, moet by alle waters drink: by die wye see van die lewende volkspraak, by riviere en spruite, by die fonteine en syferplekke van die volk se verre verlede, sowel as by enige ander stroom of bron wat die wydvertakte wetenskap tot sy beskikking stel.”

Wie was dit nou weer wat gesê het ʼn mens lees net die openingsin van ʼn boek, dan weet jy waaroor die res van die boek handel?

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 11 Maart 2017 verskyn.

Lees 3578 tye Laaste modifikasie op Sondag, 12 Maart 2017 05:59