Want vanaand in haar binnekamer, as sy en Manlief half formeel en deur-die-jare-verwyderd in die bed klim ná nog ʼn suksesvolle aand waar hulle gemaak guitig met dié mengelmoes van mense moes meng, hang haar Makwassieonderrok enkellengte onder haar nagkabaai uit.
“Og, ek kan nie gló Wimpie en Jean het ons na hulle troue toe genooi nie! Hoe gaan ons uit nou weer uit dié ene kom? Ons verskonings raak op.”
Want sien, Anghela se hipgeit en verligtgeit strek net só ver. Dis ʼn gil as sy saam met Wimpie kan gaan shop, of as Jean gratis en op humoristiese wyse huis-en-tuinwenke uitdeel. Watwo sy haar seën oor ʼn “moffietroue” sal uitspreek, want “die Bybel sê immers ...” Lank vergete is hoe sy vroeër vanaand, toe sy deftig en intelligent met die Sandtonse Elite gekoketteer het, ten minste drie keer onbybels was.
Die haan kraai drie maal skaam, want ʼn aap kan nie haar aapgeit wegsteek nie, selfs al dra sy ʼn goue ring.
Terug na die taalkunde: Aangesien spreekwoorde dikwels metafories en beeldend is, kan ʼn mens op die beeld voortborduur om dieper insig in die menslike aard en toestand te kry.
Uiteindelik gaan dit tog nie oor die feit dat jy ʼn aap is nie, nie waar nie? Liewe aarde, die meeste mense in my kenniskring – ekke ingesluit! – is meer aap en minder mens. Ek kom ook van ʼn Makwassieplek af, het ook maar in die Groot Stad gaan studeer. Dat ek ook maar net soos Anghela/Engela niks anders as ʼn aangeklede aap is nie, is gewoon nie weg te redeneer nie.
Maar dit gaan oor die ring, o wee, die ring.
Die aap wat nie wéét sy dra ʼn goue ring, daai aap is ʼn geváárlike ding.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 07 Desember 2018 verskyn.
