In Kaapstad is dit in hoofsaak ’n kwessie van die mooi klank, het die woordvoerder gesê. Daar is geen beginsels of beleid wat naamgewing betref nie.
Uit Bellville kom ’n ander geluid. Daar word weg net gebruik as dit na ’n ander dorp lei – soos Durbanvilleweg, Strandweg en Voortrekkerweg, wat die voorstede verbind.
Die meeste ander is bloot strate, hulle lei van een straat na ’n ander.
Dié wat doodloop, word soms weides genoem, byvoorbeeld Groeneweide. Dis Nederlands van oorsprong. ’n Onbelangrike doodloopstraat waar koeie wei of kinders speel.
Bellville se woordvoerder meen die benaming laan moet net gebruik word waar dit pas – waar daar ’n laning is. Moontlik het Bellville se lanings vroeër almal werklik lanings gehad. Maar dié benaming moet nie verder veralledaags word nie.
So sal daar ’n omskrywing wees vir elke soort deurgang: die singels met hul begin- en eindpunt in dieselfde straat, die nou stegies tussen die hoë geboue deur, die rylane, die paaie, weë en strate.
Maar Seepunt het net welluidende avenues, ’n menigte roads – selfs ’n Main Drive Road – en die patetiese Surf Road.
