“So, wat is die meervoud van meerkat?” vra tannie Vrede toe ons saam met haar kolonie kleinkinders oor die gholfbaan in Skukuza slenter, op pad om ʼn Laeveldontbyt by die klubhuis te gaan eet.
“Meerkaaie,” antwoord ek selfversekerd en skop-skop aan iets wat besonder organies lyk.
“Dan was ek verkeerd en my ou vriendin Saartjie reg. Ek dag nog altyd dis meerkatte.”
En net daar, op Skukuza se agste bof, slaan die Groot Taalkundige Vertwyfeling toe …
Hierdie blog is ’n uitgebreide en verrykte weergawe van ’n rubriek wat op Vrydag 13 April in Beeld verskyn het, en wat jy hier kan lees.
“Belt en kruisbande.” Dit is ’n uitdrukking wat my pa graag gebruik het wanneer hy dubbele voorsorg getref het dat iets gebeur of onthou word. Net so is Afrikaans met sy dubbele nie ’n belt-en-kruisbandetaal. Dikwels is twee nie eens genoeg nie, want hoor ’n mens nie soms: “Julle vertel my ook nooit niks nie!”?
Dit kom voor of ons ’n onbewuste, ingebore drang tot nadruklikheid het wat ons nie suinig met woorde maak nie. Ons maak seker ons word begryp. Dubbelseker.
As ’n mens iets of iemand loof, dan prys en bewonder jy die ding of persoon. Dan keur jy hom of haar goed. As ’n paartjie aan mekaar verloof raak, keur hulle mekaar goed. As twee mense hulle aan mekaar verloof, gee hulle mekaar verlof, goedkeuring, toestemming, verskaf die een die ander plesier.
In Middelnederlands, waaruit Afrikaans ontwikkel het, was beloven en verloven afleidings van loven, wat ‘aanneem’ en ‘goedkeur’ beteken het, en ook ‘om te prys’. Uit die werkwoord beloven is die naamwoord belofte gevorm, ook na die model van gelofte.
Afrikaans kry sy werkwoord loof dus van Middelnederlands. In die Ou(er) Nederlands van omstreeks die jaar 900 was loof lovon, in Oudhoogduits loben, in Oudengels lofian en in Oudnoors lofa. Hierdie woorde is almal van die naamwoord lof afgelei, wat verwant is aan lief en wat en op sy beurt kom van die Oergermaanse luba- of lubō, waarin ook die oorsprong lê van die Engelse love.
As daar in mense se keel ’n lastige krapperigheid is, wat boonop snaaks klink wanneer hulle praat, maak hulle soms verskoning deur te sê: “Ekskuus! Daar’s ’n padda in my keel.” Dan kug hulle eers, of neem ’n slukkie water. Soms, word daar gesê, klink dit of iemand ’n padda ingesluk het.
Die uitdrukking “ ’n padda in die keel hê” – in Nederlands ’n “kikker” – kom waarskynlik van die geluid van iemand se stem, wat in so ’n situasie aan die gekwaak van ’n padda laat dink. Die Engelse hoor hom ook, dié “frog in the throat”. (Vir verhaaltjies op die internet, én in party Afrikaanse spreekwoordeboeke, wat die oorprong van dié padda probeer toedig aan die Middeleeuse gebruik om glo ’n seer keel of verwante aandoenings van die slukderm met paddas en hulle uitskeidings en/of afskeidings te probeer behandel, is daar geen bewys nie, ongelukkig. Dis maar volksetimologie, en nes met stadslegendes moet ’n mens maar nie alles wat jy hoor oor die herkoms van woorde en gesegdes, vir soetkoek opeet nie.)
Rampant?!
Rapport se gebruik van dié woord in die kop van ’n berig oor die Leeus se Superrugby-sege voorverlede Saterdag in Durban het verlede week ’n hele paar lesers op hulle agterpote gehad.
Sondagmiddae, ná kookkos en ʼn middagslapie, gaan hang ek en my twee poedelkinders, Hoekom en Sommer, in die netjiesste stadspark in Pretoria uit. Dis hulle tyd om vrylik met die ander hondekinders – van alle groottes, mate en herkomste – te rinkink; dis mý tyd om die Saterdag-Beeld en Sondag-Rapport te lees.
Onder die hondeouers is daar ook tot ʼn mate ʼn ryke verskeidenheid. Verlede jaar se wenner van die Varsgebekkompetisie, André Oberholzer, dwaal daar rond met sy twee schnautzers. Johrné van Huyssteen, sy pragtige vrou, hulle groot Deense hond en vrolike ghantangbrak (van vergesogte oorsprong) verskaf vermaak.
Vra die Duitse herdershond se ma, Natie Rossouw Kruger, twee vasvravrae: “(1) Waar kom die Engelse uitdrukking the whole nine yards vandaan?”; en “(2) Wat is die Afrikaanse ekwivalent daarvan?”
Skryf Linda Bothma vir my in ʼn e-pos: “Kan jy glo dat ek op my beleë ouderdom sukkel met die woord “weerga”! Ek vermoed dat “weerga” verband hou met “weergawe”, maar wat is die verskil?”
Die liewe 71-jarige tante kry terstond ʼn tegnologieles van my: “Haas Tannie na Tannie se selfoon, tablet of Windows 10-rekenaar, laai die VivA-app af, en teken in op die nuutste weergawe van die HAT.”
Skryf sy terug: “Ja, ja, dié het ek al laaaaankal gedoen, en ek kan sien dat “weergawe” se sinoniem “reproduksie” is en dat “weerga” se sinoniem “eweknie” is. Maar ek kry niks raakgegoogle oor die verbánd tussen die twee nie?”