Sophia Kapp

Sophia Kapp

Donderdag, 27 Februarie 2020 11:39

Hoofbrekens oor hoofletters

Ek kry verbasend baie navrae oor hooflettergebruik. Op die keper beskou, is dit seker nie so vreemd nie, want die reëls vir hoofletters in van die ouer uitgawes van die AWS het vermeerder soos ʼn konynkolonie in ʼn onbewaakte agterplaas, juis omdat die taalgemeenskap hoofletters in soveel verskillende kontekste vir soveel verskillende goed aanwend. Dink byvoorbeeld aan die manier waarop hoofletters in regstekste gebruik word: Die Klaer en die Klaagster sê mekaar die stryd aan in ʼn Egskeidingsgeding en moet ʼn Skikking bereik waarin die Afhanklikes se Onderhoud bepaal word. As ek deur so ʼn dokument geworstel het, voel ek vir ʼn hele paar minute daarna Duits.

Donderdag, 20 Februarie 2020 10:17

Moedertaaldag 2020

Dit is môre Moedertaaldag, die dag waarop elke taal in die wêreld erkenning kry vir die unieke skat wat dit is. Die dag waarop elke spreker bestek kan opneem van die taal waarmee hy of sy die wêreld leer ken het – die taal wat jy by jou ma geleer het, soos Hans du Plessis sê. Die taal waarin jy juig as dit goed gaan, bid as dit swaar gaan, en vloek as nie een van die twee meer wil werk nie.

Donderdag, 28 November 2019 07:10

'n Geseënde ? en voorspoedige ?

Hier op die stertkant van die jaar kry ek heelwat navrae oor die skryfwyse van Kersdag, Kersfees, Nuwejaarsdag en Nuwejaar en al die samestellings en afleidings wat ʼn mens met dié woorde kan maak. Dit is byvoorbeeld vir die meeste mense onproblematies om Kersfees met ʼn hoofletter te skryf, maar wat van Kersboom/kersboom en in die Nuwejaar / in die nuwe jaar?

Blogger: Benito Trollip

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het op Vrydag 15 November 2019 ʼn openbare simposium met die titel “Vloek met flair (en voorbehoud)” in Pretoria aangebied. Die simposium se oogmerk was om ʼn gesprek te begin oor die gebruik en akademiese bestudering van vloekwoorde Afrikaans. Die geleentheid was ook deel van die bekendstelling van ʼn navorsingsprojek oor vloek in Afrikaans, waarvan al die inligting op die projekwebwerf beskikbaar is.

VivA het op Vrydag 15 November 2019 ʼn seminaar gehou met die titel "Vloek met flair (en voorbehoud)". Die tema het natuurlik ʼn paar wenkbroue laat lig, maar deelnemers is sommer vroeg-vroeg deur VivA se uitvoerende bestuurder, Marlie Coetzee, daarop gewys dat die geleentheid geskep is om ʼn bestekopname van die taalverskynsel te maak, nie om ʼn vloekfees van stapel te stuur nie. Die gesprek oor die saak het dus nie die oogmerk gehad om ʼn gevloek goed te praat of om kru taal en taboe-onderwerpe te normaliseer nie, maar juis om vas te stel waar die grense lê in ʼn samelewing wat dikwels wil maak asof daar geen grense meer is nie.

Vrydag, 01 November 2019 09:19

Die bloedjies se bekers

Dis jaarbladtyd, en ek verneem daar is vriendskappe wat in die proefleesproses sneuwel. Dit is gans onnodig; die jaar is nog uitmergelend lank, en die AWS is ook hiermee behulpsaam.

Hier is ʼn klompie antwoorde op vrae wat ek die afgelope twee weke gereeld gekry het, wat dalk die taak kan vergemaklik:

Voornaamwoorde moet ons baie selde vir kinders wat moedertaalsprekers van ʼn taal is, aanleer. Dis asof hulle dit saam met moedersmelk en maselkieme inkry en dit sommer net vanself reg rangskik in hulle taal. Afrikaanssprekers is boonop buitengewoon geseënd, want ons hoef nie by ongemerkte selfstandige naamwoorde met geslag te spook soos die Duitsers en die Franse nie, en ons hoef ook nie naamvalle ook nog te verreken nie.

Donderdag, 22 Augustus 2019 11:25

Die ellendige e

Daar is ʼn paar onderwerpe op ʼn taalblad soos VivA sʼn wat altyd hewige reaksie uitlok. Ek bêre hulle meestal vir tye wat ek psigies vasberade voel, want die menings oor die saak is sterk, die manier waarop dit uitgedruk word, is sterk, en die stukrag waarmee die meningsvormers hulle in ʼn skare organiseer, is sterk. Kyk, ek het alles veil vir volk en vaderland, maar daar was al dae waarop ek gedreig het om myself aan ʼn Armeense bokboer te verkoop net om van grammatika te ontkom. (Gelukkig onthou ek elke keer betyds ek kan nie kook nie.)

Vrydag, 02 Augustus 2019 07:53

Oor "word" en "raak", en "sal" en "gaan"

Ek kry heelwat navrae oor die uitruilbaarheid al dan nie van sal x gaan en word x raak. Is dit sinonieme, of is die een verkieslik bo die ander?

Kyk, ek laat my nie van lekkergoed versoek nie. En ek is ook nie neusoptrekkerig oor waarmee ek my suikerverslawing voed nie. Duur sjokolade, ingevoerde drop, pienk ouderlingswiets – alles verdwyn in my huis soos die spreekwoordelike mis voor die son. Ek voel ook nie eers sleg daarna nie, ek drink net water en eet nog.

Maar die een ding waarmee ek kan uitstel, is ʼn mooi boek. Ek kan dit koop of present kry, en dit maande lank laat lê tot ek genoeg tyd tot my beskikking het om dit behoorlik te lees. Met aandag en toewyding, so proe-proe sodat ek die lekkerte kan uitrek. Want ʼn boek wat gelees is, is soos ʼn kuier met ʼn hartsmens wat verby is – jy kan dit herhaal, maar jy kry dit nooit weer terug nie.

Bladsy 5 van 17