Sophia Kapp

Sophia Kapp

Maandag, 28 September 2020 07:08

Woordsoorte: Naamwoorde

Hierdie blog is deel van die reeks blogs oor woordsoorte, en is gebaseer op die afdeling oor naamwoorde soos vervat in die Afrikaanse Skoolgrammatika (ASG). Die grammatika is ʼn aanlyn bron en is beskikbaar in VivA se Taalonderrigportaal.

Woensdag, 02 September 2020 11:43

Woordsoorte: Hoekom?

Dit is altyd in 'n leerproses nodig om te weet hoekom 'n mens 'n ding moet weet. Nie net gee dit 'n mens die moed en die lus om deur te druk nie, dit maak die leerproses vir 'n mens sinvol. En nuttig. Ek kry die indruk dat die hoekom veral in grammatika-onderrig 'n bietjie in die slag gebly het, en dat die hantering van die sogenaamde "taalstrukture en -konvensies", soos die KABV dit noem, nie altyd netjies verantwoord word nie.

Dit is veral in grammatika-onderrig kernbelangrik dat 'n leerder (en 'n onderwyser, natuurlik) moet weet hoekom 'n  ding onderrig word. "Want dit staan in die leerplan" is, van al die redes wat 'n mens daarvoor kan opdis, sekerlik die vrotste. Dit val in dieselfde klas as jou ma wat gesê het jy mag nie 'n ding doen of hê nie "omdat ek so sê". Jy onthou later nie eers meer wat jy nie mag gedoen of gehad het nie, jy weet net jy het in daardie oomblik gedink jou ma is onredelik.

Ek weet, dit is ʼn nagmerrie. Ongelukkig het ek nie kitsoplossings nie, en ongelukkig is die spelreëls oor los en vas skryf (hoofstuk 15 in die Afrikaanse woordelys en spelreëls) ook nie altyd eenvoudig nie. As daar ʼn maklike manier was om die saak te beredder, het iemand dit al so beskryf.

Maar daar is tog ʼn paar beginsels wat ʼn mens kan onthou, wat ʼn mens in die gewone handel en wandel kan help. Los en vas skrywery is nou ook nie onbegryplik moeilik nie. Die lysie wat ek hier onder plaas, is iets wat in my kop bestaan. Dis nie spelreëls nie – dié word in die AWS vervat, en vir volledige verwysing moet ʼn mens dié bron raadpleeg. Maar ek sit wel my gedagtes hier neer, want dalk help dit.

Donderdag, 18 Junie 2020 15:59

'n Visie vir onderwys in die digitale era

Daan Potgieter, die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Onderwysnetwerk, het tydens die bekendstelling van VivA se Taalportaal en Taalonderrigportaal gesels oor die uitdagings en moontlikhede wat die vierde nywerheidsrewolusie vir die onderwys bied.

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het op 21 Mei 2020 Taalportaal en Taalonderrigportaal bekendgestel. Ons het die dag gekies omdat dit Unesco se Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit vir Dialoog en Ontwikkeling is, en ons het beplan om ʼn makietie in Pretoria te hou om die geleentheid te vier, maar die koronapandemie heet ons planne in die wiele gery. Die virtuele bekendstelling was egter net so ʼn groot sukses, en ons het deelnemers van oral oor die wêreld gehad wat die sessie meegemaak het.

Die sprekers wat by die geleentheid sou optree, het ingestem om steeds met ons hulle kennis en wysheid te deel. Dr Theuns Eloff van die Dagbreek Trust en die Trust vir Afrikaanse Onderwys was ons gasspreker. Ons het hom gevra om oor drie sake te praat, en ons deel graag weer sy insigte hier.

Wat is VivA se grammatikawêreld?
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) skep met Taalportaal en Taalonderrigportaal 'n eerste taalkundepyplyn vir Afrikaans, wat boonop uniek in die wêreld is. Die pyplyn begin by die navorsing wat deur vakspesialiste en taalnavorsers onderneem word, en sal uiteindelik loop tot by die jongste lede van die taalgemeenskap en taalaanleeders wat vir die eerste keer met Afrikaans in aanraking kom.

Die idee vir hierdie pyplyn is gebore uit gesprekke onder akademici, in die Taalkommissie, en met taalondersteuners soos proff Wannie Carstens, Ernst Kotzé en Rufus Gouws en dr Theuns Eloff, wat saamgestem het dat 'n moderne, wetenskaplik begronde beskrywing van Afrikaans se grammatika aan die taalgemeenskap beskikbaar gestel moet word. Daaruit is Taalportaal geskep. Navorsing deur vakspesialiste en navorsers met internasionale statuur het hulle insigte oor Afrikaans se grammatika daarin beskikbaar gemaak. Boonop is hierdie insigte in vergelyking gebring met soortgelyke insigte in die grammatika van Nederlands en Fries, wat die navorsing deel maak van 'n internasionale taalnavorsingswêreld. Die navorsing in Taalportaal word in Engels aan die wêreld beskikbaar gestel, sodat navorsers wat Afrikaans nie magtig is nie, nou ook Afrikaans by hulle ondersoeke kan insluit.

Uit Taalportaal vloei 'n Algemene Afrikaanse grammatika (AAG), 'n Afrikaanse skoolgrammatika (ASG) en die Taalonderrigportaal, waar hierdie gespesialiseerde navorsing op verskillende vlakke vir die huidige geslag Afrikaansdosente, -studente, -onderwysers en -leerders toeganklik gemaak word. Met hierdie kennispyplyn word daar verseker dat die vakinhoud wat aan 'n opkomende geslag gebied word, van hoogstaande gehalte is, en dat enige gebruiker wat insig in Afrikaans se grammatika wil bekom, verseker kan wees van gehalteversekerde en akademies begronde vakinhoud.

Ek het begin skryf aan ʼn reeks blogs oor woordsoorte in die tyd van korona. Dit was doelbewus, want ek wou so metterskryf laat weet dat die Virtuele Instituut vir Afrikaans met die hulp van ʼn span medewerkers tans hierdie afdeling in ʼn omvattende grammatika vir Afrikaans afhandel. Ons beoog om die navorsingsprojek op 21 Mei 2020 bekend te stel.

Maar voor ek meer daarvan vertel, kom ons begin by die begin. Die vlagskipprojek van die Virtuele Instituut vir Afrikaans was van die stigting van die instituut in 2015 die behoorlike beskrywing van Afrikaans se grammatika. ʼn Soortgelyke projek is vir Nederlands en Fries onderneem, en Afrikaans het daarby ingeskakel, wat beteken dat Afrikaans se unieke, geleende en oorgeërfde taalstrukture nou vir internasionale navorsers toeganklik is. Hierdie inligting word gehuisves in Taalportaal, en dit is die soort inligting wat M- en D-studente en postdoktorale genote nodig het om hulle studie oor Afrikaans voort te sit. Met hierdie inligting is Afrikaans nou deel van die internasionale taalnavorsingswêreld.

Donderdag, 09 April 2020 10:20

Woordsoorte: konteks is koning

In ʼn inleidende blog oor woordsoorte het ek genoem hoe belangrik dit is om nie woordsoorte te probeer bepaal sonder om die woorde binne sinskonteks te sien nie.

In die week loop ʼn jong gebruiker haar in hierdie einste ding vas toe sy in ʼn werkstuk ʼn vraag moet beantwoord: Watter soort voornaamwoord is die woord albei? Sy doen die regte ding: Sy gaan kyk in die woordeboek, want die woordsoort is mos deel van die inskrywing van elke woord. Maar in hierdie geval help die HAT en WAT nie, want albei bronne dui albei as telwoord aan en nie as voornaamwoord nie. Hoe nou gemaak?

Vrydag, 27 Maart 2020 10:53

Woordsoorte: 'n Inleiding

Woordsoorte is een van daardie afdelings van grammatika waaroor die meeste mense 'n hoofpyn kry as hulle net die term hoor. Die herkenning van woordsoorte is ook vir die meeste leerders 'n moeilike vaardigheid om aan te leer, want dis soms 'n gesukkel, soms 'n haarklowery, en soms 'n moeras van verkeerde inligting wat almal net van die wal in die sloot help.

So swaar as wat dit is, is dit allernoodsaaklik om die herkenning van woordsoorte wel te bemeester, want daar is bykans nie 'n hoofstuk in die AWS waarin daar nié na woordsoorte verwys word nie. As jy spelreëls wil verstaan, moet jy woordsoorte kan herken. Dit help veel daar is 'n reël soos "eienaamwoorde word met hoofletters geskryf", maar 'n mens weet nie wat 'n eienaamwoord is nie. Of "byvoeglike naamwoorde word los geskryf", maar jy weet nie hoe om te bepaal of privaat ? byvoeglike naamwoord is of nie. (Dit is.)

In hierdie reeks blogs oor woordsoorte probeer ek om ten minste net 'n voetpad in die oerwoud te skep. Ons (dis nou ons hier by VivA) is besig om 'n behoorlike grammatika te skryf waarin die saak meer breedvoerig en wetenskaplik uiteengesit sal word, maar intussen is daar hierdie hulp vir ouers en leerders wat darem iets in die koronatyd moet leer.

Donderdag, 05 Maart 2020 12:52

Afskeidsode aan die aanvoegende wyse

Ek het sedert die begin van die jaar 'n hele paar navrae oor die sogenaamde "aanvoegende wyse" gehad. Ek vermoed die ding het iewers in 'n vraestel sy verskyning gemaak, want ek kom agter daar is so 'n ligte aggressie in die formulering van die vrae wat na my kant toe geslinger word. Nie dat ek die vraagstellers vir hulle aggressie verkwalik nie. Kom ek stel dit so: Ek het in 1982 gematrikuleer, en ek het verlede jaar eers geleer dat daar so ʼn ding soos die aanvoegende wyse is. Die aggressie oor 'n taalfossiel wat uit die dood uit opgewek is om skoolkinders te terroriseer, is nie misplaas nie.

Bladsy 4 van 17