Sophia Kapp

Sophia Kapp

Gebruiker Mari Brink stuur in die week ʼn noodroep: Bespreek asseblief die begrip "samestellende afleiding". Dit gee ʼn groot gestry af! Laat ons nou eenmaal hierdie tameletjie (wat nooit een was nie) kou en klaar kou.

Mari is reg oor ʼn klomp goed – dit is ʼn tameletjie, dit is ʼn voortslepende bron van taalkundige onmin, en dit moes nooit onmin veroorsaak het nie, want die begrip word behoorlik, en met genoeg voorbeelde, in die AWS se terminologielys bespreek. Min mense weet van die lys (en nog minder steur hulle daaraan), maar dit is kernbelangrik om die begrippe in die lys te ken omdat dit terminologie is wat in die bewoording van die reëls gebruik word. Sonder behoorlike begrip van die terminologie in die lys, verstaan ʼn mens ook nie die reëls nie. Daarbenewens is dit altyd wys om geverifieerde inligting oor moeilike taalkundige terminologie op te spoor en te vertrou, eerder as om staat te maak op die ongefundeerde (en verkeerde) bespiegelings wat ʼn mens op baie sosialemediaplatforms aantref.

Die jaarbladjuffrouens bel VivA se foon warm. Die medaljes is gedek in die blog Watter soort blink is jou medalje?, maar hoe gemaak met die sportspanne waarin die beste spelers speel? Is dit eerste span of eerstespan? En wat maak ʼn mens met daardie span as jy nou wil aandui dat dit rugbyspelers is wat daarin speel? Is dit eersterugbyspan, eerste- rugbyspan of eerste rugbyspan? Hoe gemaak met sewespan/sewesspan? En dan kom die onder ook nog by. Waarvandaan sal ons hulp tog kom in dié samestellingspellingdoolhof?

Donderdag, 20 September 2018 15:51

Het jy mudita, of moet jy manja vir jou merak?

Kry vandag van VivA-gebruiker Chantél Vervalle ʼn interessante navraag: Het ons ʼn woord, ʼn enkele woord, in Afrikaans wat dieselfde beteken as mudita? Gelukkig stuur sy die definisie saam, want ek het geen idee wat dit beteken nie.

Vrydag, 14 September 2018 08:04

'n Trap vir 'n sprokie

Ek sit hierdie week in ʼn terminologiewerkwinkel wat ons saam met die Departement Kuns en Kultuur onderneem, waar ons deur ʼn lys konstruksie- en ingenieursterme werk om Afrikaanse ekwivalente te kry en/of te maak, indien nodig. Dis rugbreekwerk – en ʼn liefdesdiens. Niemand het nog ooit uit vakterminologie maak ryk geword nie, en die enigste betaling wat ons vir die dae se geredekawel en gedink kry, is ʼn bord kos en ʼn kopseer.

Donderdag, 06 September 2018 15:37

Die toppunt van top: vas of los?

Een van die samestellings in Afrikaans wat gebruikers groot hoofbrekens besorg, is die een met top waar dit beste beteken. Is dit nou los, vas of met ʼn koppelteken? Vas! Maar hoekom dan? Beste is dan los, hoekom is top vas?

Vrydag, 24 Augustus 2018 10:03

Wat's in 'n naam?

"What's in a name?" vra die stomme Juliet vir haar Romeo, en hef dan ʼn ellelange argument aan oor die redes waarom haar geliefde se naam nie hulle liefde sal beïnvloed nie – hy is dan nou so perfek, al is hy ʼn Montague. Goed, sy was jonk en verlief, en aan die einde van die drama weet ons presies wat alles in die naam gesteek het. Meer as wat Juliet gedink het, in elk geval.

Die meeste van ons dink so aan name – as iets wat ons aanwys en in gesinne, families en geslagsregisters kategoriseer. Ons dink nie eintlik aan name as iets wat betekenis inhou nie. En tog kan dit.

Donderdag, 16 Augustus 2018 14:19

Watter soort blink is jou medalje?

Dis weer dáárdie tyd van die jaar: Oorwerkte en oorwroegte skoolpersoneel moet jaarblaaie saamstel en bepaal watter bloedjie welke prys gekry het, want trotse ouers moet darem aan die einde van die jaar die blad kan oopslaan om vir Ouma en Oupa te wys wat hulle nasate alles vermag het. Daarom het ek die afgelope klompie weke meer as een navraag gehad oor die skryfwyse van die medaljes wat sportsterre by die atletiek verower het, en die sertifikate wat die kunstiges by die eisteddfod opgeraap het. Is dit nou ʼn "silwermedalje" of ʼn "silwer medalje"? En wat maak ʼn mens met die kinders wat iets gouds gekry het? Is dit ʼn "goudmedalje", ʼn "gouemedalje" of ʼn "goue medalje"? Woordeboeke se raad is nie eenvormig nie, en die verwarring kring wyd.

Woensdag, 25 Julie 2018 20:09

'n Vergiettes is koel

Staan vanaand en kosmaak. Die student is by en ek sê: "Gee asseblief vir my die vergiettes aan." Stilte. Beweginglose stilte. "Wat is ʼn vergiettes?" vra hy. Ek verduidelik hoe dit lyk, en die ligte gaan aan. "Ooooo, ʼn colander! Nou hoekom sê jy nie dis wat jy wil hê nie? Dis mos baie makliker om die een woord te gebruik wat almal ken." (Die meisie is Engels, en dié kook lekker. En hy help haar, want hy wil nog indruk maak, dié dat hy weet van ʼn colander.)

Nou kyk, die student eet net pasta. Hy eet al pasta vandat hy sy twee tandvleise teen mekaar kon skuur, en ek dreineer pasta al in ʼn vergiettes vandat ek dit in my ma se huis leer kook het. As my eie kind nie weet wat ʼn vergiettes is nie, is dit niemand se skuld buiten myne nie.

Woensdag, 25 Julie 2018 08:25

Uitblinker

Marlie Coetzee, VivA se raakvat-bestuurshoof, het onlangs haar MBA behaal en het ʼn spesiale toekenning vir ʼn projek ontvang. Ons het haar gevra om so ʼn paar vrae oor haar studie te beantwoord sodat ons met haar kan spog.

Vrydag, 29 Junie 2018 08:48

Daardie verpestelike Australianers

Ons plaas daagliks op VivA se Facebookblad ʼn taalwenk. Dis in grafika ingebed, en ek pas moeilik meer as ʼn sin en ʼn voorbeeld in so ʼn prentjie in, daarom moet ek mooi besin oor wat ek in so 'n wenk wil plaas. Dit help nie ʼn mens probeer ʼn ingewikkelde saak soos afleidings van eienaamwoorde in so ʼn wenk inprop nie – ek kan hoogstens een voorbeeld daarvan aanhaal en dan hoop die gebruikers op die blad gaan slaan in die bron self na wat die reëls is. Soms gebeur dit, meestal nie. Gebruikers vra op die blad self, en ek moet soms bontstaan om al die vrae te beantwoord. Veral as die kwessie mense warm onder die kraag het.

So plaas ek hierdie week (op versoek van ʼn paar gebruikers) die wenk dat die inwoners van die eilandjie doer onder in Afrikaans Australiërs genoem word, nie Australianers nie.

Bladsy 8 van 17