Varsgebek, ons kompetisie waar taalgebruikers hulle onopgetekende taalskatte kon inskryf, het pas ten einde geloop. Die Sêgoedkompetisie het weer hierdie jaar ʼn skatkis vol heerlikhede opgelewer. Die beste van dié inskrywings is in ʼn kortlys geplaas, en VivA-gebruikers kon vir hulle gunstelingsêding stem.
VivA maak dus vandag met trots die skerpste, varsste, pittigste en gewildste sêgoed vir 2017 bekend.
ʼn Kollega plaas ʼn rukkie gelede ʼn aanhaling van Bill Bryson op ʼn taalforum. Dit lui:
Two days before I left on the trip, I Googled 'Favo'loso Cafe' ... I was appalled to discover that most people didn't view it very favourably at all. One recent visitor pronounced himself "Dissapointted" with the experience. Well, here is a new rule: if you are too stupid to spell "disappointed" even approximately correctly, you are not allowed to take part in public discourse at any level.
We live in a world that has practically no appreciation for quality, tradition or classiness, and in which people who can't spell even common words get to decide what survives. That can't be right, surely. I was, as a TripAdvisor correspondent might put it, deply trubbled.
Ek hoef seker nie hier te sê wat die reaksie op die plasing was nie. Die kollega en Bill Bryson is oor die kole gehaal oor hulle spellingsnobisme, en iemand was namens almal met disleksie geaffronteer oor onverdraagsaamheid en Mense se Totale Gebrek aan Deernis. Ek ken nie vir Bill Bryson persoonlik nie en gaan hom nie verdedig nie, maar ek ken my kollega en weet darem hy is nie aan een van die aantygings skuldig nie.
Die opstootjie het my egter aan die dink gesit: Dit is nie die eerste keer dat kritiek oor spelling mense kwaad maak nie, en die geskil draai elke keer hier kort duskant bloedvergieting. Dit het my laat wonder wat die geskikte reaksie op Bill B se uitlatings behoort te wees. Wat is die plek en rol van spelling, en hoe moet ons dink oor mense wat nie dié vaardigheid (kan) bemeester nie?
VivA het op 14 November 2017 ʼn simposium aangebied oor Afrikaans oor die nuwe eter waarin daar besin is oor die posisie, rol en moontlikhede van en vir Afrikaans in die uitsaaiwêreld.
Interessant is dat "eter" heelwat navrae van gebruikers en voornemende simposiumgangers ontlok het. Die woord het natuurlik meer as een betekenis (dit kan ook verwys na iemand wat eet of na die chemiese stof waarmee kroeks in ou films hulle slagoffers tydelik buite aksie gestel het), maar ons het hier te make met die betekenis wat soos volg in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem is: hipotetiese, onwaarneembare medium wat orals teenwoordig is, selfs in absolute vakuum, en alles deurdring, oorspronklik in die fisika ingevoer om kragte soos dié tussen ladings op 'n afstand van mekaar te verklaar en om as draer te dien van die elektromagnetiese golwe, net soos lug die draer is van geluidgolwe en dan ook (in die besonder) dié medium, beskou as die draer van radiogolwe. Dit is, volgens einste woordeboek, ook [i]n die antieke kosmologie, vermeende vyfde element wat die lugruim bo die maan sou gevul het; 'n hoër vorm van vuur waaruit die son en die sterre saamgestel was, of van lug wat deur die gode ingeasem is.
Ons bevind ons dus so ʼn bietjie tussen die sterre, in ʼn magiese, mitiese goderyk waar enigiets moontlik is.
Ek is al vir baie goed in my lewe uitgeskel, maar die een wat my die vieste in gehad het (en my die viesste gemaak het), was die etiket van "taalbul" wat op 'n kol om my nek gehang is. Kyk, ek is bereid om oor baie beledigings my oë te rol en stil te bly, want nie alles is 'n oorlog werd nie, maar 'n taalbul was ek wragtig nog nooit. Taalkoei, dalk, en hoewel ek my daaroor ook dalk sal wip, is dit ten minste biologies korrek. Ek het vroulik in hierdie lewe aangekom en so sal ek hier weg.
Maar goed, die bakleiery was eintlik oor mense (mense, want vroue mag deesdae saampraat) wat taal maak en dit dan gebruik/misbruik om die res van die arme taalgemeenskap te verwar. En dan het hulle nie eers die ordentlikheid om hulle eie verwarring op te los voor hulle ander verwar nie, want kyk net wat gaan in woordeboeke aan: Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) sê "altwee" is korrek. Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) sê slegs "al twee" is korrek. Oor die woord "raar" sê HAT dit beteken "eienaardig", die HAT se Taal- en Feitegids sê as jy "raar" gebruik om "seldsaam" aan te dui, is dit 'n anglisisme, en die WAT gee albei gebruiksmoontlikhede ("seldsaam" en "eienaardig") by "raar". Die Taalkommissie sit al weer op die draad oor "raar", want dit is opgeneem, maar die AWS sê niks oor die betekenis nie.
Sulke wisseling is vir gebruikers frustrerend, dit gee ek geredelik toe. Maar dit is ook onvermydelik dat dit sal gebeur, en wel oor 'n paar redes:
Kry anderdag 'n oproep van 'n ontstoke VivA-gebruiker: Kan ek asseblief (op 'n VivA-briefhoof – hy wil 'n logo op sy ammunisie hê) 'n brief skryf wat hy aan sy plaaslike koerant kan stuur oor hulle foutiewe gebruik van die kleinletter by die woord "christen". Dis nie die eerste keer dat hy dit sien nie; dis vandat hulle daardie nuwe redakteur aangestel het wat Sondae gaan bier drink wanneer die res van die gemeenskap kerk toe gaan. Die klein veerpoot weet van God en sy gebod niks, en hy is doelbewus disrespekvol teenoor Christene/christene. Tyd dat die mannetjie vasgevat word.
Die internet is 'n fantastiese plek, in die ware sin van die woord. Dis 'n ruimte waarin niks werklik is nie en alles vir die waarheid aangebied word. Dit is 'n versameling kosbare inligting en terselfdertyd die moderne wêreld se grootste rommelhoop. Jy ontmoet groot geeste en denkers daar, en jy loop jou vas teen trolle. Jy kom daar weg verlig, verlos en vermaak, of jy gaan kruip in 'n donker gat in waar jy vir dae nie met mense hoef te kommunikeer nie omdat jy weer eens besef hoe onguur die menslike natuur kan wees.
Sien? Fantasties.
Ja, jy het reg geraai: Vers volgende van die wat-is-die-versamelnaamwoord-vir-X-gesang het vandag opgeklink. Ek wil weer my oë rol, maar dit help nie 'n mens kla of raas daaroor nie – dit is dekades se verkeerde opvattings, dwaalleer, onvoldoende opleiding en verkeerde onderrig wat ons by hierdie punt het, en die situasie gaan nie in 'n agtermiddag of 'n week of 'n jaar omgekeer word nie. Dit gaan waarskynlik nie binne die volgende tien jaar omgekeer word nie. Maar dit beteken nie 'n mens mag handdoek ingooi en ophou probeer nie.
So 'n rukkie gelede het ek 'n blog geskryf oor die liewe versamelnaamwoorde. My oogmerk was om te toon hoe onvas en onvoorspelbaar versamelnaamwoorde is, veral oor taalgrense heen, hoe geskiedenis en verouderde opvattings daarop ingespeel het en hoe verkeerd dit is om vandag wetties daaroor te wees. Die goeie saad, sien ek, het tussen die klippe beland. Gister is daar so werklik weer 'n vraag: Wat is die versamelnaamwoord vir dolfyne?
Hierdie keer is die antwoord darem effe meer voor die hand liggend. Die WAT en Pharos se tweetalige woordeboek het opgeteken dat dolfyne en walvisse in skole voorkom. Dit, aanvaar ek ewe naïef, gaan die einde van die storie wees. Ek kan rustig agteroor sit, my tee drink en my verlustig in die wete dat ek een siel se las verlig het. Ehem, toe nou nie. Want "dolfyne is nie visse nie en hoekom is dolfyne en walvisse nie troppe nie?"
Ek wil eers my oë rol, maar dit is 'n geldige vraag, en 'n geldige vraag verdien 'n geldige antwoord.
Een van die gereeldste (en lastigste) navrae wat ek kry, is oor intensiewe vorme. Versamelname, vergelykings en intensiewe vorme is groot griewe, vir onderwysers, vir leerders, en vir hulle ouers wat moet help huiswerk doen, want dié goed het in die taal versteen geraak en die jonger geslag moet hierdie gesteentes in hulle sakke dra ingeval hulle dit sou nodig kry. En soms beland daar 'n vraag in die toets of die eksamen waarop daar nie 'n antwoord uit 'n agtersak te haal is nie, want die vraagsteller het iets uit sy/haar duim gesuig eerder as om staat te maak op die lys relikwieë agter in die handboek.

So 'n dag of wat gelede vra 'n gebruiker op 'n openbare taalforum wat die vertaling vir die Amerikaanse term "touchdown" is. Ek sien die vraag en ek sit en wag ... En sowaar, daar kom die antwoord: 'n drie. Ek wil my oë rol, want hoe kan 'n ding wat in Amerikaanse boelieballet ses punte werd is sommer in 'n Afrikaanse teks 'n drie word? Dis mos nou heiligskennis om so met rugbyterme te ketter. Ou Dok Craven sal mos in sy graf omdraai.
Die gesprek wat daarop volg, is wel interessant, en die besluit is uiteindelik dat die ding sy Amerikaanse naam moet behou, want dit help nie 'n mens probeer die term vertaal nie – dis in 'n sport en kultuur ingebed wat net nie in Afrikaans bekend of vertaalbaar is nie. "Kulturele merkers" noem vertaalkundiges sulke terme – woorde wat nie net betekenis dra nie, maar 'n hele kultuur saam met hulle sleep. En insinuasie en ironie en emotiewe gewig en allerhande ander gure en ongure belasting het waarop 'n mens bedag moet wees voordat jy sommer net 'n vertaalekwivalent wil uitruk.