Sophia Kapp

Sophia Kapp

Donderdag, 07 September 2017 13:22

Die juffrou wil 'n antwoord hê

Trefwoorde: versamelnaamwoord; naamwoord; woordsoorte

Donderdag, 31 Augustus 2017 10:14

Wen met Varsgebek!

VivA se Skolekompetisie is hierdie jaar weer aan die gang. Leerders van enige ouderdom kan inskryf en daar is elke maand R5 000 op die spel. Aan die einde van die jaar is daar ook vir 'n graad 11- of 12-leerder wat die weninskrywing ingestuur het 'n studiebeurs van R150 000 op die spel vir naskoolse studie in enige rigting aan enige instansie in die land. Dié beurs en die kontantpryse word met trots geborg deur die Atterbury Trust. Boonop kry die wenskool R10 000 om te bestee soos hulle wil, die skool met die meeste inskrywings kry R5 000 en die onderwysers wat die weninskrywing aangemoedig het, kry R2 500 – 'n heerlike bonus hier kort voor die Desembervakansie!

Woensdag, 30 Augustus 2017 09:26

Die digitalisering van Afrikaanse bronne

Van 16-17 Augustus 2017 het die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), die Noordwes-Universiteit se projek rakende die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT) en die biblioteek van die Universiteit van Pretoria se Open Scholarship-afdeling 'n kollokwium gefasiliteer oor die digitisering en digitalisering van publikasies in en oor Afrikaans. Belanghebbendes is uitgenooi om daaraan deel te neem sodat daar 'n bestekopname oor die huidige stand van sake gedoen en 'n werksplan vir die toekoms opgestel kon word.

Sondag, 27 Augustus 2017 11:07

Oor beddens en Boervrouens

 

Gisteraand laat is daar 'n harde slag in my huis. Konsternasie. Ek skrik vir my nugter wakker al is dit ná 12 en sien visioene van figure in klapmusse wat my mikrogolf by die kombuisvenster uittel en my varkore, wat ek met emmers badwater deur die droogte tot by blom gepamperlang het, plattrap. Ek is sommer kwaad nog voor ek weet wat ek gehoor het.

Vrydag, 18 Augustus 2017 09:08

Van varke en verraaiers

Verlede week is die nuwe Afrikaanse woordelys en spelreëls amptelik bekendgestel. Lekker swierige geleentheid op Media24 se Nasdak, met sy fabelagtige uitsig oor die baai en die berg en 'n geurige groentekerrie waaroor ek hier in die noorde maar net kan sit en droom. Dit was ook gepas dat daar so 'n bietjie luister aan die geleentheid verleen is – die bron is per slot van rekening 100 jaar oud, en vir so 'n mylpaal mag 'n mens maar jou spykerhakke onder uit die kas grawe.

Vrydag, 28 Julie 2017 06:46

Oos, Wes, Bluff Bes

 

So 'n rukkie gelede gewaar ek op 'n taalforum 'n vieserige vraag: Hoekom is dit alewig vir Afrikaanse taalvoorskrywers nodig om die name van stede of geboue in die buiteland te vertaal? Dis so 'n simpel ding om te doen, kla die klaer – almal weet mos waar London is; die enigste mense wat omgee dat dit eintlik “Londen” in Afrikaans is, is eksaminatore wat jou met slap rieme wil vang of subredakteurs wat wil lyk asof hulle hulle salarisse verdien.

 

Vrydag, 21 Julie 2017 07:09

Taalbybel is 100 jaar jonk

Die splinternuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls is pas op die rakke. Dié boek verskyn hierdie jaar, 100 jaar ná die eerste kopie daarvan die lig gesien het. Dit is 'n merkwaardige mylpaal, wat sekerlik so 'n bietjie beuelblasery regverdig.

Maandag, 17 Julie 2017 12:28

VivA klets met ... Fanie Viljoen

Fanie Viljoen het ons Varsgebek-prys vir Junie opgeraap met sy inskrywing “kopwurms” vir “emosionele bagasie”. Die beoordelaars het besluit dié nuttige nuutskepping is beskrywend, oorspronklik en bruikbaar, en Fanie het daarmee ‘n Samsung-tablet ter waarde van R5000 losgeslaan. Dié prys is met trots geborg deur die Atterbury Trust.

VivA het Fanie voorgekeer en hom so ‘n paar vrae gevra oor sy woord en sy werk.

  1. Jy is pas aangewys as Varsgebek se Junie-wenner met “kopwurms” vir “emosionele bagasie”. Waar kom jy aan dié woord?

Skrywers hou hulle ore oop vir idees en sêgoed. Ek het die uitdrukking iewers gehoor, maar ek kan nie meer onthou waar nie. Daar is ook ’n ander tipe "kopwurm" – 'n ruspe wat mieliekoppe verwoes. Ek is 'n Vrystater en ek weet hoe lyk 'n land wat onder sulke wurms deurgeloop het, daarom was die uitdrukking vir my besonder suksesvol.

Donderdag, 29 Junie 2017 14:42

Die peetkind wat in die wyk lê

Ek kry gister ʼn navraag van ʼn VivA-gebruiker: Wat wil die mense op dié vorm hê? Aangeheg by die navraag is ʼn foto van ʼn vrywaringsvorm wat haar dogter van die skool af gebring het, wat die ma moet invul en teken. (Die vorm is deur die skool versprei, maar deur die Wes-Kaapse Provinsiale Regering uitgereik.) Daarop moet sy die naam invul van haar “seun/dogter/wyk”. Die ma is verstom. Watse wyk wil hulle hê? Haar kiesafdeling of die gemeente se wyk? En wat wil die Provinsiale Regering daarmee doen?

Ná ʼn paar sekondes se kopkrap (dit was laatmiddag en ek was moeg) besef ek die “wyk” is ʼn verkeerde vertaling van “ward” (wat in Engels ʼn pleegkind of ʼn wyk kan wees). Ek verduidelik die saak, die ma is gerus dat daar nie ʼn gowwermintsbeampte agter haar vullisblikke skuil om aan te teken hoeveel tamaties sy in ʼn week weggooi nie, en die Kaap is Hollands.

Of nie Hollands nie.

Donderdag, 15 Junie 2017 15:27

Fopnuus

fopnuus, s.nw., 1. nuus wat versprei word met die doel om lesers te mislei; 2. nuus wat die spot dryf met werklike nuusgebeure; nuussatire

Die afgelope week of wat het hard aan die land kom vat. PG is weg – die enigste skrywer in die land wat, volgens sy uitgewer, vir haar persklaar manuskripte ingestuur het – en Johan Botha is uit ons midde gepluk. Die Kaap het uiteindelik water gekry, maar met ʼn paar lewens en baie dakke daarvoor betaal. En Knysna het gebrand. En Buffelsbaai en Sedgefield en Plett en Karatara en Diepwalle en Elandskraal en die ander dorpies waarvan my oupa my vertel het voor Dalene Matthee nog haar boeke geskryf het. Huise is platgevee. Herinneringe. Toekomsdrome. Planne. Hoop. Lewens.

Ek het hier in Pretoria in ʼn vergadering gesit wat my gedwing het om op ʼn ander plek te konsentreer, wat so ʼn bietjie gehelp het om die seer en die swaarkry uit te stel. Ek kon my in ʼn borrel terugtrek en afstand behou, maar ek het geweet dis afgryslik, al kon ek nie sien hoe dit gebeur nie.

Toe ek uiteindelik klaar vergader het, is daar ʼn foto op Facebook van ʼn afgebrande huis tussen skelette van stamme, en ʼn verskrikte bosbokkie in die voorgrond wat kom soek na kos en water. Die afstand het nie gehelp nie, my hart het in elk geval gebreek.

Nee, ek het niks verloor nie, maar dit was nie vir my moontlik om in my borrel te bly nie. Want dis my mense wat so seerkry. My land se mense. My land se bosbokkies en my land se bos. En of die slagoffers nou ʼn paleis of ʼn pondok gebly het voor die vuur toegeslaan het, hulle het nou almal ewe veel – niks. Hulle is almal ewe uitgelewer aan ander mense se goedheid.