Sophia Kapp

Sophia Kapp

Dinsdag, 08 Desember 2015 02:00

Vraelys

Oor die tussen(in)klank in Afrikaans

Benito Trollip

In Germaanse tale soos Afrikaans en Nederlands is die proses van samestelling besonder produktief en algemeen om nuwe woorde te vorm. Dink byvoorbeeld aan woorde soos duifdak(‘die dak by my huis waarop die duiwe graag sit’), of orgideëoorplanting (‘die jaarlikse proses om my orgideë oor te plant in ander houers’). En natuurlik kan samestelling rekursief (herhaaldelik) toegepas word in Afrikaans om woorde soos duiwedakskoonmaakprosesbeplanning te maak (al gebeur dit nie baie nie). 

In sommige samestellings kom daar ʼn sogenaamde valensiemorfeem (ook genoem ʼn tussenklankofinterfiks) voor, soos die -e-tussen eend en dam in eendedam en die -s-tussen handel en ooreenkoms in handelsooreenkoms. Wat is die nut en doel van hierdie tussenklanke? Is daar ʼn verskil tussen eenddam en eendedam? En kan ons praat van ʼn handelooreenkoms, of moet dit handelsooreenkoms wees? Is daardie -s- regtig noodsaaklik?

Op die oomblik doen ek navorsing oor die valensiemorfeem en spesifiek of dit nog produktief gebruik word in Afrikaans wanneer samestellings gevorm word. Ek het groot asseblief tien minute van jou tyd nodig om my te help om ʼn vraelys in te vul. Jy hoef niks te skryf nie – dis alles net veelkeusevrae.

Volg gerus hierdie skakel (https://qtrial2013.qualtrics.com/SE/?SID=SV_8BXl1FvXJrtQBhz) om deel te neem aan my vraelys. Jy kan kies om veertig vrae (minder as tien minute) of tagtig vrae (minder as vyftien minute) te beantwoord. Ek sal dit regtig baie waardeer as jy bereid sou wees om tagtig vrae te beantwoord. Indien daar enige vrae of kommentaar is, voel vry om my te kontak by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

By voorbaat dankie vir jou hulp!

 
Maandag, 07 Desember 2015 02:00

Prince Albert Leesfees

Die Prince Albert Leesfees 2015

deur Martin Steyn

Die reisgeselskap:

Marieta Nel (LAPA)

Liesbet Gelderblom (LAPA)

Betsie Klopper (Pearson)

Chareldine van der Merwe (Vriende van Afrikaans)

Edward van der Merwe (Chareldine se man)

Anzil Kulsen (skrywer)

Martin Steyn (skrywer)

Babalela

Donderdag. 5 November 2015.

Prince Albert is ’n lang, smal dorp aan weerskante van die hoofstraat. Verder is daar net Karoo.

Ons kom via Oudtshoorn, deur Meiringspoort, waar ons heen en weer oor die Grootrivier ry, elke drif gemerk. Ek kan sien hoe hierdie naamgewer vol opgewondenheid met sy taak begin het—Spookdrif, Skansdrif, Skelmkloofdrif—hoe die entoesiasme begin taan het—Dubbele Drif, Sanddrif—hoe die nimmereindigende kronkels hom afgetakel het—Herriedrif—tot hy dit uiteindelik nie meer kon hanteer dat die padbouers nie net aan een kant van die rivier kon bly nie—Ontploffingsdrif. Daar is meer as twintig driwwe.

Tussen die kranse, ’n mengsel van grys en pienk-, oranje- of rooibruin, afhangend van hoe goed die oggendson die klip bykom, vertel Marieta van agter die stuur vir ons hoe gewild Izak se erotiese bundel onder haar vroulike kollegas en vriendinne is. Anzil hou ons op hoogte van haar bloedsuikervlak. Betsie verwerk nog die rekordspoed waarteen Marieta hulle gister tot op Oudtshoorn gebring het (ek het ’n dag vroeër saam met Edward en Chareldine gery), en die redes waarom dit nodig was, word heen en weer tussen die drie sprekers geskuif. Ek, Liesbet en Babalela kry nie juis ’n woord in nie.

Al die driwwe maak mens maar ietwat driftig. Miskien is dit hoekom daar wynplase aan die ander kant van Meiringspoort is, soos Bergwater, wie se Royal Reserve by Prinses Charlene se troue bedien is.

Welkom in Prince Albert, sê ’n wit bordjie.

Dankie. Die eerste ding wat ons sien, is die begraafplaas—you can check out, but you can never leave? Marieta swenk deur twee esse en in die hoofstraat af. Dis opvallend hoe daar moeite gedoen word om besighede te versier. In Somerset-Wes plak hulle net “Edgars”, “CNA” of “Clicks” iewers op, maak ’n winkelpop of ’n rakkie in die venster staan en gaan wag agter die kasregister. In Prince Albert is daar wawiele, roomysfietse en halwe bome wat soos beeldhouwerk lyk op die sypaadjies. Die Hotel is wit met swart aksente. Selfs PEP is getooi. Binne is dit dieselfde. Of dit nou die Country Store—die voorwinkel van die gastehuis waar ek en Anzil geslaap het—of die Lah-di-dah restaurant is, mens kan nie net deurloop nie, jy haak vas en kyk, want oral is moeite gedoen om die binneruim interessant te maak.

Maar ons is hier vir die Leesfees, en voor die amptelike opening môreaand, praat ons eers vanmiddag met ’n groep onderwysers. Marisca Coetzee van die Universiteit van Stellenbosch sluit by ons aan vir ’n verduideliking van die onderwyser se rol in die ontwikkeling van leerders se begrip van verklarende tekste. Betsie volg met ’n demonstrasie oor hoe om begripslees te verbeter. Anzil praat oor haar jeugromans, Zita en ’n Hart vol sand. Ek sluit af met “Moord en doodslag”.

Vrydag. 6 November 2015.

Marieta, slawedrywer, het ons oggend volgepak. Eers is ons met hanekraai na The Showroom toe, ’n wonderlike teater met ’n outydse karakter, waar ons dieselfde as gistermiddag doen, maar nou vir die leerders van Hoërskool Zwartberg. Die program het gekrimp—ons het vir Betsie verloor—maar ook geswel, met Caleb Swanepoel, wat sy been in ’n haai-aanval verloor het en die jeugbeskermheer van die fees, Wendy Maartens, skrywer van Kaptein Seeley, en verskeie kletsrymers wat bykom.

Gelukkig is die kletsrymers laaste, want hulle steel die hele geleentheid. Kyk, ek is ’n rock-aanhanger, alles van Led Zeppelin deur Nirvana tot Metallica (pre-Black Album). Rap is nie iets wat jy in my versameling sal aantref nie, maar toe hulle van die verhoog afstap, kyk ek en Anzil vir mekaar en besluit Saterdagaand kom ons na hulle konsert kyk. Eerste is Rimestein (Daniel Denver Swartz) en Adrian “Diff” van Wyk, en toe Rhyme Author (Robin-Dean Fourie), Gracia “the Poet” Nicholls  en Oxyjin (Rumarcques Gelderbloem). Musikale digters met ’n boodskap, wat woorde met ’n skerp, eerlike intelligensie aanmekaar weef.

Volgende is Prince Albert Primêr, aan die teenoorgestelde kant van die dorp as die begraafplaas. Dis bewolk en reënerig, wat die grond rondom die saal modderig maak. Wendy Maartens doen haar ding. Toe is dit ek en Liesbet. Liesbet lees voor uit Jaco Jacobs se Waarvoor is seerowers bang? en vertolk ook die rol van Sanmarie. Die rol van Kaptein Kalamari, haar pa, word deur my vertolk, oogklap, rooi bandanna en al. Volgende arriveer Babalela en dis net blink ogies en oop mondjies.

Die amptelike opening van die Leesfees begin met Judy Maguire wat die storie agter die Khoekhoe-pot op die fees se logo vertel, hoe ’n vrou van die stam die pot gevorm het om tydens rituele te gebruik. Louis Botha se fotoboek, Slow down, word bekendgestel. ’n Besondere vingerete volg. Randall Wicomb stel sy biografie, Kleur, bekend en sing ’n paar liedjies om die aand af te sluit.

Wel, nie heeltemal nie. Daar was Bergwater en Brenda Fassie by 85 on Church . . .

Saterdag. 7 November 2015.

Die Prince Albert Leesfees is nie naastenby op dieselfde skaal as, byvoorbeeld, die US Woordfees nie. Die voordeel is dat dit ’n baie intiemer karakter het. Daar heers heeldag ’n kuier-atmosfeer buite die Jans Rautenbach Schouwburg, en omdat bykans al die praatjies hier plaasvind, is daar nie die konstante heen-en-weer beweging soos in Stellenbosch nie. Radio Gamkaland het tafels en luidsprekers reggeskuif en saai uit. Gerard Scholtz en sy DEKATv-span is hier.

Die feesprogram is besonder gebalanseerd. Paige Nick praat oor Pens behaving badly, ’n versameling van haar kolomme in die Sunday Times. Daniël Hugo praat oor sy digbundel, Takelwerk. Ek en Leon van Nierop praat oor rillers, reeksmoordenaars en rolprentdraaiboeke. Rehana Rossouw praat oor What will people say? Dine van Zyl maak almal lus vir potjiekos terwyl die potte buite oor die kole prut. (Ons het ’n draai by die Bush Pub gaan maak, waar daar glo laataand sonde met die bure gestook word, maar was terug toe die deksels lig.) En toe is dit af na The Showroom vir die kletsrymkonsert.

Sondag. 8 November 2015.

Dis die laaste dag. Daar is onder andere ’n paneelbespreking oor selfpublikasie en Dana Snyman praat oor In die blou kamp. Die fees sluit die middag af met die premiére van Jans Rautenbach se nuwe film, Abraham, maar dis ’n ver ent terug Kaapstad toe, so ons val maar in die pad. Ongelukkig loop dit nie hierdie keer verby Bergwater nie.

Ek kyk hoe Prince Albert in die truspieëltjie kleiner word, maar dis nie ’n plek wat mens regtig agterlaat nie. Die dorp, die mense, kry vat aan jou. Jy ry dit saam huis toe en dink, Volgende jaar . . .

Lirieke uit:

“Hotel California”. Eagles, Hotel California (1976).

Vrydag, 04 Desember 2015 02:00

Veeltaligheid by universiteite

Dr. Frikkie Lombard, eindredakteur van die WAT op Stellenbosch, deel enkele gedagtes oor die taalstryd wat op Stellenbosch (en ander kampusse) plaasvind:

  1. Daar is dikwels te veel emosie en te min rede by deelnemers aan hierdie debat te bespeur. Dit is verkeerd om enigiemand wat aan die debat deelneem (aan watter kant ook al) sleg te sê of te “demoniseer”. Daar het baie gerekende en ewewigtige mense protes aangeteken teen die voorgenome taalbeleid --- hulle kan nie as ploerte of verlangers na ’n apartheidsverlede afgemaak word nie.
  2. Sommige bewerings wat deur “deskundiges” in die taaldebat gemaak word, getuig van gebrekkige insig, naïwiteit en ’n goeie skeut onkunde waarmee diesulkes hulleself eintlik in ’n slegte lig stel. Dit is byvoorbeeld 'n mite dat ’n mens jou nie internasionaal kan handhaaf as jy in Afrikaans opgelei is nie. Diegene wat aan histories Afrikaanse universiteite opgelei is en in die buiteland uitnemend vaar, bewys die onsin van hierdie gedagte. Dit is ook 'n mite dat Afrikaans nie 'n taal van die tegnologie kan wees nie. Die beskikbare terminologie wat ek in my werk by die WAT elke dag vir uiteenlopende vakrigtings moet gebruik, maak ’n bespotting van bg. stelling wat sommiges so goedsmoeds kwytraak. Afrikaans is ’n “propperse” taal met ’n ryk en geskakeerde woordeskat; dit is nie sommer ’n hierjytaaltjie nie. Jan Rabie het die standaardisering van Afrikaans “een van die heel groot prestasies van ons land” genoem.
  3. Die regte m.b.t. taal wat in die Grondwet verskans en gewaarborg word, lyk toenemend asof dit nie vir Afrikaanssprekendes geld nie. Daar word van geen histories Engelstalige inrigting verwag om meertalig te word sodat toeganklikheid verbeter moet word nie.
  4. Enige regdenkende mens wat vir die behoud van Afrikaans op Stellenbosch pleit, pleit vir moedertaalonderrig en meertaligheid in ’n meertalige omgewing. Op sigself is dit ’n uiters redelike pleidooi, terwyl die mentaliteit van ’n talige monokultuur (wat Neville Alexander die koloniale mentaliteit genoem het) dikwels tot onverdraagsaamheid en verdagmakery lei teenoor diegene wat anders oor taal en die aanwending daarvan dink. Veeltaligheid behoort m.i. as ’n transformasie-attribuut beskou te word.
  5. Die feit dat parallelle onderrig Afrikaanssprekende studente sinvolle interaksie in die klaskamer met studente van ander tale en herkoms ontsê, is iets wat ’n mens nie kan ontken nie, en is beslis een van die gebreke van klasse wat parallel aangebied word.
  6. As dit so is dat die meeste Afrikaanse studente in Engels klas wil ontvang, sal so ’n werklikheid verreken moet word. Ek is egter nie oortuig daarvan dat ordentlike gesprekke met alle studente en studentegroeperings oor die taalkwessie gevoer is nie. Die tydsberekening van die aanvanklike besluit en die onbehoorlike haas waarmee dit aangekondig is, laat ’n mens wonder oor die druk wat op die betrokkenes uitgeoefen is.
  7. Dit vra nogal ’n besondere mate van ruimgeestigheid om die hoër funksies van jou taal op te offer. Van die mees enkeltalige mense op aarde, die Engelssprekendes, word daar nooit so iets verlang nie. Dat enige intellektueel ontwikkelde mens goedskiks ’n tegnologies en kommunikatief sterk taal sienderoë wil laat terugsak na ’n laefunksiegeselstaal gaan die verstand te bowe. Dit is ’n pseudo-argument dat ‘n taal “bevry” word as dit nie meer nodig is om dit vir formele en hoër funksies te gebruik nie. Daarmee saam is dit werklik naïef om te dink dat Afrikaans nie geknou gaan word as sy tersiêre en hoër funksies verval nie.
  8. Daar word dikwels sterk gesuggereer dat Afrikaans “uitsluitend” van aard is. Engels dra waarskynlik nie daardie bagasie in dieselfde mate nie, maar dit is beslis ’n taal wat baie studente ook as uitsluitend ervaar en deur middel waarvan daar dikwels geslaag is om ’n gees van minderwaardigheid teenoor die inheemse tale en kulture en die gebruikers daarvan te vestig.
  9. Die opheffing van Afrikatale is ’n saak van dringendheid en belang. Watter kans het die Afrikatale om die mas op te kom as Afrikaans as ontwikkelde en gestandaardiseerde Afrikataal nie op universiteit ondersteun word nie of gemarginaliseer word? Dit is heel ironies dat minister Blade Nzimande nogal geneig is om te noem hoe die Afrikatale by Afrikaans en Afrikaanssprekendes moet gaan afkyk en leer (jy sit op jou jis, en jy werk dat jy bars teen min vergoeding vir die liefde van die saak, dr. Nzimande).
  10. Ons moet minder “Afrikaans! Afrikaans!” van die dakke af skreeu terwyl ons die taal daagliks verknoei. Afrikaans verdien lojale gebruikers wat die taal doodgewoon só praat en skryf dat dit sy geldigheid as medium in die een taalsituasie na die ander demonstreer.
  11. Die talebestel aan tersiêre inrigtings in ons land is ’n geweldige kluif en diegene wat by pragmatiese besluite rondom taal moet uitkom, is onder groot druk. Vir sulke mense wens ek die wysheid van Salomo toe. Vir die res van ons wat op een of ander manier geraak gaan of kan word, wens ek toe lankmoedigheid en die vermoë om steeds met humor en vindingrykheid in Afrikaans te leef.

Deur Moryn Hanzen

HUISBESOEK

As Jan die wysters van die trok so beginte kyk, weet Anna dis nie vir sommer nie. Of hy’t weer vergeet om petrol te gooi, óf die skedonk raak weer warm.
“Wat sit kyk jy so, vrou?” kom dit ôk kort voor lank. Jan is weer sy gewone kort-van-draad-selwers, vernaam as sy gewete hom ry. As Anna swyg, kyk hy van die wysters af na haar. Die frons tussen haar oë tref hom soos vêr-staan-weerlig. Al traai hy hoe hard, hy kan dit nie miskyk nie.
Anna se mond plooi soos ʼn twaksakkie se toegetrekte bek voor sy antwoord: “Nee, sê jy mý bietjie vir wat hou jy die wysters so dop?”
“Waffer wysters?” antwoord Jan so onskuldig soos ʼn pasgebore lammertjie.
“Nee, Jan, dié daar voor jou twee oge.”
Jan moet maar sy skaamte onder sy voete vastrap en met die waarheid uitkom. “Vergeet om petrol te gooi op Upington,” kom dit binnesmonds.
“Da’ beter jy by Piet-goed indraai.” Jan weet sommer daar’s geen manier wat Anna hom hiervan gaan laat vergeet nie.
“Kyk, doer voor sta’ stof, Jan,” wys sy in die smal tweespoorpaadjie.
“Ja, Anna, ek hit mos twee oge in my kop.”
“Maar is mos ‘ie pirrikant se grênd mouter wat daar aangesit kom,” fluister Anna asof die dominee haar kan hoor.
Jan trap rem en swaai uit die pad sodat dominee Van der Westhuize’ langs hulle kan stilhou.
“Goeieagtermirrag, Dominee,” kom dit ewe vroom uit een mond van Jan en Anna.
“Goeiedag, broer, suster. Ek is reeds op pad na julle toe.”
“Ag Dominee, jy kom asof jy gestuur is. Ons is alteveel verleë. Ka’ Dominee ons tog ‘ie help met ʼn lekseltjie petrol ‘ie?” val Jan sommer dadelik weg.
Na ʼn gespook en gespartel is die petrol oorgetap en ry Dominee vooruit. Die trok stof vreeslik, maar hieraan is alle Kalahariboorlinge ouds gewoond. As Jan na Anna kyk, is dit omtrint deur ʼn wolk.
By die opstal aangekom, hardloop Jo’nis hulle tegemoet. “In as jy soes ʼn weglêhoennerkuiken hier op my afgehol kom, Jo’nis?” vra Jan bekommerd. Hy weet sommer Jo’nis kom nie onnoriglik so oop en toe aan nie.
“Dis ‘aai man wat soe vêr is, oubie,” kom dit uitasem van die stomme Jo’nis.
“Nou va’ waffer vêr man pra’ jy da’ nou?” kom dit fronsend van Jan.
Jo’nis beduie hoog bo sy eie kop en kyk doer bo in die lug terwyl hy herhaal: “Nee, oubie, die man wat so vêr boe my kwap is.”
“Nou wa’ maak weer hy hier?”
“Nêh, hy kom verja’ onse krismisvoëltjies, oubie. En brêk net mit sy nuwe rekker.”
“Nou wat het hy met ons rooi- en geelvinke te make, Jo’nis?”
“Jô-jô, oubie, daai man, hy’s baja spaitfoel. Hy wil eigentlik net volop wees mit Sannatjie saam.”
“Nou loop en loop sê vir hom ek soek ‘ie sy jimpelsgeit op hier‘ie plaas ‘ie.”
“Dankie, oubie. Hit oubie ‘ie rookgoed gaonthou?”
“Bring die tjieng dan ka’ jy dit kry.”
“Maar oubie, dis die wiek Sannatjie se beurt gewies om my te gooi, nou sta’ maak sy of sy niks wiet nie. Lop’ en praat net met ‘ie vêr man saam.”
“Maar jy moet mos jou eie rookgoed petaal, Jo’nis.”
“Ag oubie, gee my tog maar weer boek, samblief tog, oubie-goed.”
“Nou ja toe, maar jou boek is hoeka al so hoog.”
Die twak word met ʼn groot gesukkel tussen al die ware agterop die trok gesoek en aan Jo’nis oorhandig. Hy glimlag breed met uittande soos ʼn vandusieklavier as Jan dit aangee en in die rekeningboek opskryf.
Anna het intussen die pirrikant in die voorhuis sit gemaak en koffiewater gaan opgesit. Haar ogies trek klein soos ʼn tiekie se pap na die heller sonlig daar op die werf.
Na hulle almal koffie en koe’siters gevat het, lees die dominee ʼn stukkie uit die Skrif. Jan kan sommer duidelik aanvoel dat dit weer kerkbasaar se kant toe gepraat gaan worre.
Anna se vertolking daarvan is weer heel anners. Hoe sal Dominee da’ nou wis hoe sake tussen haar en Jan staan? In die winter ryp dit altoos spierwit tussen hulle twee sawens in ‘ie kooi. Maar Dominee sal mos nog nooit ‘ie katelsake kom sit en gesels ‘ie?
Na ʼn groot aandete, ʼn slagding vir eie gebruik, vars room, ʼn boerbrood en ʼn paar pond botter, is dominee Van der Westhuize’ met ʼn breë glimlag in sy grênd mouter vort sonder lat Jan of Anna klarigeit het oor die eigentlike rede vir ‘ie besoek.

Donderdag, 29 Oktober 2015 02:00

VivA is jou eenvenstertaalsoekenjin

Jy kry op VivA se tuisblad die geleentheid om jou soektog na ʼn woord te begin. Dit lyk so:

 

Begin jou soektog deur die woord in te tik waaroor jy navraag doen. Jy sal moontlikhede kry waaruit jy kan kies:

 

Klik op die woord waaroor jy navraag wil doen. Die bronne waarin die woord opgeteken is, sal onder die soekblokkie verskyn:

 

Klik op die bron waarin jy wil naslaan. Indien jy op die WAT en die HAT ingeteken is, kan jy sommer net hier klik om te sien wat daarin opgeteken staan. Jy hoef nie in ʼn ander venster na die antwoord te gaan soek nie!

 

Donderdag, 29 Oktober 2015 02:00

ʼn Oggend in die Kalahari (deur Moryn Hanzen)

deur Moryn Hanzen

Gertjie grou nog ʼn t’naba neffentjies ʼn bossie uit en gooi hom dat hy doer trek. Mis! Hy loer na Ouma Kowa wat hoog op die been die toekoms staan en inkyk. Dan kyk sy oor haar skouer asof sy toe rêrig oë ager die kop het.
“En dié?” vra sy fronsend toe sy die t’naba langs die mandjie sien lê.
“Nee, ek’t hom ôk so ko’ kry, Ouma,” vertel hy ʼn kluitjie. Sy ore wat bakhand langs sy kop sit en bedel, raak tamatierooi.
“Mens mors ‘ie met kos ‘ie, Gert,” preek sy.
Gertjie voel bloedongelukkig. Hoekom kan hy nie ôk soos Henk saam saam met Pa-goed veld toe nie? Hy’s mos nie meer ʼn bybie nie! En van skaap werk kan jy hom min vertel. Hy kon skaars sy koppietjie selwers regop hou, toe help hy al hanslammers bottel gee en skaap dous. En as Blommetjie net op tyd sak, melk hy haar lank voor staanson uit, sommer lank voor die slappap gaar en die koffie getrek is. Dis nou as Bessie nie weer voordag uit die kallerhok gebreek en vir Blommetjie sta’ uitsuip het nie.
Nou moet hy soos ʼn wafferse vroumens sta’ en t’nabas soek. Nie laat dit ʼn slegte joppie is nie, maar dan moet een en almal saam soek!
In gedagte vrywe hy die rooi duinesand van die stuk t’naba af wat hy raakgegrou het. Is sommer ʼn meneer dié. Hy hoop net nie Ouma-goed sta’ deel nou weer als uit nie. Die goed is lekkerder as groenmielies en murg en… en sampioene. Mens kry dit hoeka net een keer in die jaar as die reënt reg gekom het.
ʼn Tirk skarrel voor hom verby na die skadu van ʼn vet gemsbokkommer. As hy nou net sy rekker en ʼn paar klippertjies byderhand gehad het, kon hy darem die tirke geklits het. Gertjie sorg gewoonlik dat hy net hulle lang sterte raakskiet en lag homself slap as die stert soos ʼn lewendige ding afval en lê en spring. Hieroor het hy reeds hordes kere onder Ma-goed se plathand deurgeloop, maar Pa-goed is ʼn jagter en hy’s Pa se kjint en klaar.
“Ouma, ka’ ons nie eers ʼn stukkie deeg onner die hemp sit nie? Smaak my da’ ek’s honger,” smeek Gertjie hoopvol.
“Nou maar toe dan,” antwoord ouma Kowa. Gertjie weet alteveel dis hoe Ouma klink as sy nie lekker is vir jou nie. Hy gaan sit teen ʼn witgatboom en wag lat Ouma die stinkvoetebrood uit die koekblik haal. Die biltong op die brood se geelvet het al saam met die botter beginte smelt van die warmte, sien hy. Hy weet ouds die’s Ouma se brood. Die snye is dun soos pampier gesny. Ma sny altoos sulke skaapwagtersnye wat vorentoe smaak sodat ʼn man kan vol kom en klaarkry.
Terwyl Gertjie kou en van Ouma se sterk Trekkerkoffie drink, sien hy ʼn slang vanuit ʼn tamaai asbos uitgerol kom. Hy sit stil en kyk hoe dit suutjies teen ʼn kameeldoringboom opseil en oor die versamelvoëlnes gaan lê.
Fytjie kom loop ligvoets soos ʼn t’ghyp met ʼn hele trop t’nabas van doer agter die tweede duin aan en laat rol hulle uit haar voorskoot se sak tot in die mandjie. Hoekom Fytjie altoos die meeste uitgrou, weet hy ôk nie. Mens kan haar mos nie wen nie.
Fytjie gaan sit g’rus langsbeen teen die kameeldoringboomstam. Gertjie hou asem op. Fytjie glo alle slange is satang se kjinners selwers. Maar sy is salig onbewus van die gevaar en haal ʼn omslagtwak en flenter koerantpapier uit om zol te draai. Gretig sit Gertjie eigenlik vooroor om die proses beter af te kyk.
“Maar my! Waar’s my mêtjies da’ nou?” Haar klein koppie soos oupa Dawie se komkuierkierie draai in alle rigtings rond terwyl sy met haarself praat. Sy voel-voel soekend oor haar voorskootsak. Dan vlie’ sy op soos ʼn springhaas. “Ai ie! Kyk waar’s djulle!” en duik amper op die mandjie af om die vuurhoutjies te red voor Ouma se skerp oë dit dalk sien lê.
Ma is by die huis. Kook laaswinter se wildsvleis t’khom vir vanaand. Sy tande sweet behoorlik van luskry vir Ma se kos. Sy moet nog net ʼn lekker toekos ôk maak, dan is sy dag gemaak. Dalk dro’ perskes, wens Gertjie. Of stowepatats. Vanoggend se boerbeskuit en netou se brood is alweer lank vergete.
Voor die huis wag Sam vir Fytjie in. Hy is langgesig soos ʼn donkie wat bultaf kyk oor Fytjie die twak en mêtjies saam veld toe gehad het. “Ou tog vir my ôk, ek ‘it ‘ie eers ʼn los gwai nie!”
By die huis gaan was Gertjie gesig en hande. Hy weet tog hy gaan nie so vuil by die vroumense en meisiekjenners verbykom nie. Hy hoor hoe ouma Kowa vir Ma-goed en sy susters vertel hoe amper sy boude gebrand het oor die t’naba wat hy gegooi het. Hy kan hoor hoe hulle snaaks kry daaroor.
Wanneer hy by die kombuis inloop, maak ousus Hetta net mooi die besem teen die muur staan, die glimlag oor hy amper ʼn loesing gekry het nog verraderlik om haar mond.
Pa en Henk kom ook net mooi uit die veld by die voorhuis in. Hy roep al van ver: “Vrou, my hempsknope roes van ‘ie sooibrand! Gooi tog daar ʼn vars koffietjie.”
“Jy sal ordintliker moet was, Gertjie. Onse kuiermense is op pad,” maan Hetta lank en irriterend soos ʼn ou lap wat starig skeer.
Gertjie glimlag ingenome. “Vertaan jy?” sê hy uitgelate voor hy homself netjies gaan maak.

Maandag, 26 Oktober 2015 02:00

VivA se webwerf is aan die gang!

VivA se webwerf is vandag oopgestel. Gebruikers kan registreer en toegang kry tot aanlyn taal- en skryfadvies. Besoek ons by www.viva-afrikaans.org of laai ons slimfoon-app Woordeboekportaal af by die Apple iStore of Google Play. Hier kry jy toegang tot aanlyn woordeboeke en ʼn databasis van veel voorkomende vrae. Vir ʼn beperkte tyd kan gebruikers ook per WhatsApp of telefonies navrae rig aan Sophia Kapp, ons taaladviseur. Skakel met haar by 062 126 0295.

Donderdag, 24 September 2015 00:00

ʼn Tolk vir Vrouedag

John L het in die Oos-Kaap grootgeword. Die ou Transkei. Deep rural, soos hy sê. Sy pa was op die myne, sy ma het stukwerk gehad op Mount Ayliff. Dit was ver se stap en sy moes vroeg uit die huis uit op die dae wat sy gewerk het. Hy het haar gemis, maar die lekkerte van die werk was dat sy vir hom Niknaks van die dorp af gebring het. So jonk as wat hy was, het hy besef as hy iets anders as pap en kool wil eet, sal hy moet hy wegkom van die plaas af.

Dit was bloedgeld vir sy ouers maar hy het gematrikuleer en toe graad verwerf. Tale was sy sterk punt en hy kon selfs in die ou Suid-Afrika vir hom ʼn pos as tolk by die Departement van Binnelandse Sake in Mthatha losslaan. Die skuif van daar af Port Elizabeth toe was nie te erg nie, maar Kaap toe was ʼn groot aanpassing. Veral aan die begin toe die enigste bekostigbare blyplek in ʼn makoekoe op die Flatse was.

Vandag is dinge anders vir John. Hy en sy vrou woon in ʼn gerieflike tweeslaapkamerwoonstel in die Tuine. Hy stap nog werk toe, maar sy vrou pak vir hom toebroodjies in wat sy met winkelbrood maak. Soms kry hy ʼn pakkie Niknaks by.

Op ʼn dag kry hy ʼn oproep: die Afrikaans-tolk is siek en die DG moet ʼn Vrouedag-toespraak in Delft gaan opsê. Afrikaanse gemeenskap. DG kan net “ja” en “nee” sê. John moet uithelp; hy is mos goed in tale en kan mos Afrikaans praat.

John gooi wal: ʼn mens tolk nie in ʼn ander taal as jou moedertaal nie. Maar die DG is desperaat en John is ʼn staatsamptenaar. Jy kan walgooi, maar jy kan nie weier nie.

In Delft wag daar ʼn skare vroue: daar is gratis eetgoed vir ná die tyd. Die DG soen ʼn paar babas vir die pers en neem dan stelling in agter die mikrofoon.

John doen sy bes. Hy sukkel aanvanklik en soek na woorde, maar naderhand begin hy die ritme kry. Dis die gewone political speak wat hy al vantevore in Xhosa moes tolk. Nie so erg nie.

Totdat die DG kom by “We are going to empower women”. John het die woord al baie gehoor – jy werk nie vir politici en ken dit nié – maar wat op aarde is dit in Afrikaans? John stik en stotter en probeer sinonieme uit sy brein opdiep, maar dis een van daardie hol modewoorde wat net ʼn dop het. Daar is nie inhoud om te vertaal nie. Vervaard soek hy na ʼn oplossing. “Ons gaan vroue verkrag,” blaker hy uit.

John lag lekker as hy die storie ten koste van homself vertel. Maar dan raak hy ernstig. “Het jy al gesien hoe lyk dit daar? Dalk was ek nie so vreeslik verkeerd nie.”

Donderdag, 17 September 2015 00:00

Wat is ʼn anglisisme?

Antwoord: ʼn Anglisisme is ʼn stuk taal (dit kan ʼn woord, frase, uitdrukking, sinskonstruksie of idioom wees) wat direk uit Engels oorgeklank is en nou Afrikaans lyk en klink. Dit verdring egter ʼn bestaande Afrikaanse uitdrukking en is in stryd met die taaleie. Engelse woorde in ʼn Afrikaanse teks, soos “awesome”, “great” of “random”, is nie anglisismes nie, dis gewoon leenwoorde wat nie Standaardafrikaans is nie. Romaanse leenwoorde soos “deprivasie”, “revisie” en “evaluasie” is Standaardafrikaans en in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls opgeneem. Die uitdrukking “die kat uit die sak laat” (“let the cat out of the bag” direk vertaal, in plaas van “die aap uit die mou laat”) is ʼn voorbeeld van ʼn “ware” anglisisme.

Donderdagmiddag ná langpouse. Buitekant sidder die rugbyveld en die ry bloekoms aan sy oorkantste doodlyn in Pretoria se hoogsomer. Die swembad blink soos ʼn blou diamant en roep soos Lorelei. Binne versmoor almal in die reuk van sweet, warm voete en ou asem. Voor in die klas is die juffrou aan die woord, maar sy praat in almal se slaap. Die graad 11’s voor haar is te goed gemanierd om in haar gesig te gaap, maar kort-kort sien sy hoe een se kaak styf raak.
“Julle luister nie,” beskuldig sy.
“Ons luister, Juffrou,” koor dit.
“Nou waaroor het ek gepraat?”
Stilte. ʼn Paar skuif ongemaklik rond. Een senuagtige siel raak aan die giggel.
Die juffrou se mond raak dun. “ʼn Anglisisme,” preek sy, “is ʼn vreemde woord of uitdrukking wat hom soos Afrikaans vermom, maar eintlik die taal binnegesluip het soos ʼn onwettige immigrant, sonder paspoort of visum, en hom nou wil tuismaak in Afrikaans asof hy daar hoort. Intussen is daar ʼn bestaande Afrikaanse woord wat nie meer gebruik word nie en wat vergeet word omdat hierdie vreemde ding sy plek ingeneem het. As jy nie bewus is van hierdie goed nie, word Afrikaans naderhand ʼn direkte oorklanking van Engels en praat jy eintlik Engels in Afrikaans. Ons voorouers het te hard en te lank geveg vir menswaardigheid en die reg om hulle eie taal te praat dat julle dit sommer net so kan wegsmyt!”
Sy kan sien die kinders het geskrik vir die oordaad emosie. Sy weet sy raak soms meegevoer, veral oor die geskiedenis. Een van haar oupagrootjies is as krygsgevangene in Diyatalawa oorlede en haar familie het die Britte nog nie daarvoor vergewe nie.
“Julle skryf môre klastoets hieroor,” probeer sy meer saaklik klink sonder om haar standpunt prys te gee. “Gaan maak vanaand seker jy weet waaroor dit gaan.”

Vrydagmiddag. Die juffrou sit by haar lessenaar en blaai deur die antwoorde. Die moedeloosheid dreig om haar skouers krom te druk.
“Ek het altyd gedog anglisismes kom uit Engeland,” skryf ʼn bloedjie. “Maar as hulle hier is sonder ʼn paspoort of visum kom hulle seker uit Zimbabwe.”

Donderdag, 10 September 2015 00:00

Agt koeke en ʼn homofoon

Ek het ʼn neef wat in die Kaap woon en werk. Ons sien mekaar min, maar wanneer ons saam is, is dit asof ons eergister laas oor ʼn lekker cabernetjie geklets en geskinder het. Voëls van eenderse vere. Krappe van dieselfde dam.

Ons dam is Natal, eintlik die ou Zoeloeland. Die oupa wat ons deel, was ʼn bestuurder op ʼn suikerplaas (wat in werklikheid beteken het hy was ʼn bywoner met ʼn mooi huis) wat sy grootwordjare op Karatara moes deurbring. Dis bos, vir die Gautengers. Knysna. Karatara is deur die destydse regering as bosboustasie gevestig en was een van die projekte wat ʼn oplossing vir die armblankevraagstuk moes bied.

Die omstandighede was moeilik. Dalk selfs haglik. Oupa het nooit vreeslik baie besonderhede gegee nie. Wat ek en my neef wel weet, is dat die stigma van arm en Afrikaans wees Oupa vir die res van sy lewe agtervolg het. En dat alles wat hy gedoen het, gedoen is om sy verlede te besweer.

Hy was ʼn bitter stoere Afrikaner in ʼn onversetlik Engelse wêreld. Hy het ʼn debatsvereniging op die dorp gestig en gesorg dat daar Afrikaanse films in die kerksaal vertoon word. Hy het ʼn lid van die ATKV geword in die jare voordat voorkeurbehandeling by luukse oorde die lokaas was en jy aangesluit het vir die saak. Hy het op sy eie Pietermaritzburg toe gery om die Natalse Onderwysdepartement die stryd te gaan aansê om ook Afrikaans as medium van onderrig by die plaaslike laerskool aan te bied. Die Onderwysdepartement het gesê hulle sal ʼn Afrikaanssprekende onderwyser aanstel as hy 26 gesinne kry wat bereid sal wees om hulle kinders in Afrikaans te laat leer. Hy het hulle gekry. En op ʼn tyd toe ander jong dogters die skool vroeg verlaat het om te gaan help verdien, het hy syne universiteit toe gestuur. Sodat sy ʼn Afrikaansonderwyseres kon word.

Oupa was puntenerig oor sy taal en het aangedring daarop dat jy ook moet wees as jy met hom praat. Ek en my neef is die oudste van sy kleinkinders. Dat ons by hierdie man meer as net ons donker oë sou erf, was onvermydelik.

So bel Neef my op ʼn dag. Boosaardig woedend. Ek hoor net elke derde woord, want hy vloek lank en vlot en aanmekaar. (Ons is taalvaardig, nie noodwendig ordentlik nie.)
Wat is dan nou fout? vra ek ewe bedees.
Daar is ʼn nuwe meisietjie by die werk wat die fakture moet uitmaak, hoor ek. So ʼn ou fraai dingetjie wat die vorige jaar matriek geskryf het en nie weet waar om ʼn punt in ʼn sin te sit nie.
Ek grinnik, want ek weet wat kom. Is ook so.
Die vorige dag vra hy haar om ʼn faktuur uit te maak aan “Uitkyk Diggers”. Vandag kry hy dit terug. Uitgemaak aan “8Cake Diggers”.