Sophia Kapp

Sophia Kapp

Woensdag, 01 Maart 2017 13:34

Taalkennis is nou 'n klik ver

Ons Woordeboekportaal het 'n paleis geword! Daar is nou 26 woordeboeke tot die beskikking van geregistreerde VivA-gebruikers.

Benewens die 17 woordeboeke wat reeds op ons webwerf en aanlyn-app beskikbaar is, het ons gebruikers nou ook toegang tot die volgende bronne:

  • Drietalige Wynindustriewoordeboek (Suid-Afrikaanse Wynbedryf-Inligting & -Stelsels (SAWIS) en die Netwerk van Kundigheid en Tegnologie vir die Wynbedryf (Winetech))
  • Etimologiewoordeboek van Afrikaans (GJ van Wyk, red.)
  • Fisikawoordeboek (Vaktaalburo, SAAWK)
  • Afrikaanse voëlname, opgestel deur die Afrikaanse Voëlnaamgroep van BirdLifeSA
  • Paramediese Vakwoordeboek (Vaktaalburo, SAAWK)
  • Sciwoord (Chemiewoordeboek)
  • Statistiekwoordeboek (HS Schoeman)
  • Sterrekundewoordeboek (JH de Klerk, red.)
  • Woordeboek van nuttige Afrikaanse kombinasies (Kollokasiewoordeboek) (AN Otto)

Afgesien van hierdie bronne het die Departement van Kuns en Kultuur goedgunstiglik ingestem om hulle meertalige terminologielyste, wat oor baie jare deur vak- en taalkundiges opgestel en gestandaardiseer is, aan VivA beskikbaar te stel. Die lyste dek die volgende velde:

  • Inligtings- en Kommunikasietegnologie
  • Kuns en Kultuur Intermediêre Fase
  • Lewensoriëntering Intermediêre Fase
  • MIV/VIGS
  • Parlementêre/Politiese Aangeleenthede
  • Sokker
  • Verkiesings
  • Wiskunde Intermediêre Fase

As jy nog nie by VivA geregistreer het nie, gaan sommer nou na ons webwerf by www.viva-afrikaans.org of laai ons VivA-app (Aanlyn) af.

Die VivA-span

Vir die meeste mense is die blote naam “Shakespeare” genoeg om hulle hartkloppings te besorg. Daardie uitmergelende somermiddae ná langpouse in ʼn klaskamer wat ruik na sweet en apatie terwyl ʼn desperate onderwyser vergeefs probeer om die ontoeganklike Engels en volksvreemde beelde uit te lê, is waarskynlik onuitwisbaar in ons almal se geheue ingeëts.

ʼn Paar dapperes het dalk met Engels op universiteit aangeploeter, maar selfs daar het The Shakespeare Anthology vir die meeste ʼn geslote boek gebly. Letterlik. As dit nie vir Coles Notes was nie, het goed ʼn driekwart van alle Engelsstudente sweerlik nooit ʼn graadsertifikaat ontvang nie. So hier en daar is daar natuurlik altyd ʼn pliggie wat wou liries raak oor The Bard, maar só ʼn bleeksiel is gou eenkant toe geskuif en was vir ewig sy of haar plek in die koel groepie kwyt.

Die ironie is dat meer as net ʼn paar van Shakespeare se sêgoed vandag ingeburgerde idiome en uitdrukkings in Engels is. Dit maak nou nie saak hóé vrot jou Brits is nie, jy moes al van “good riddance” (Troilus and Cressida), “cold comfort” (The Taming of the Shrew) en “the Devil incarnate” (Titus Andronicus) gehoor het. Selfs al praat jy net van “for goodness’ sake” (Henry VIII) of jy vertel ʼn “knock-knock”-grappie (Macbeth), het jy Shakespeare aangehaal.

En soos dit nou maar met enige onsterflike skryfwerk gebeur, migreer sulke skatte oor tyd- en taalgrense heen, en kan ons vandag ons steeds daaraan verwonder en daarin verlustig. So ongelooflik as wat dit vir jou mag klink, en so onvoorsien as wat dit vir ou meneer William S self sou gewees het, is daar van Shakespeare se sestiende-eeuse uitdrukkings wat ewe gemaklik in die moderne Afrikaanse spreektaal voortleef.

Ondenkbaar? Kyk dan gou hierna:

As jy al ooit by ʼn geselligheid die “ys moes breek” (The Taming of the Shrew), het jy Shakespeare aangehaal. As jy met “ingehoue asem” (The Merchant of Venice) moes staan en toekyk hoe jou gaste jou by die einste geselligheid “uit huis en haard eet” (Henry IV Part II), het jy Shakespeare aangehaal.

As jy moes toegee “die liefde is blind” (The Merchant of Venice) en jy “voor jou geestesoog” (Hamlet) gesien het hoe “jaloesie, die groenoogmonster” (Othello) jou van binne verteer, het jy Shakespeare aangehaal.

As jy ná die tragedie “jou hart op jou mou gedra het” (Othello) en in jou “hart der harte” (Hamlet) geweet het “eind goed, alles goed” (All's Well That Ends Well), het jy Shakespeare aangehaal.

En as jy uiteindelik ʼn geliefde gevind het met ʼn “hart van goud” (Henry V) is dit “hoog tyd” (Comedy of Errors) dat jy erkenning gee aan Shakespeare wat jy so aanhaal.

En al glo jy my steeds nie, en al was Shakespeare “vir jou Grieks” (Julius Ceasar), kan ons bly wees die man is al vier eeue lank dood, anders het hy ons nou almal gedagvaar vir plagiaat!

Ja, Shakespeare is dood. Lank lewe Shakespeare!

VivA-groete

Sophia

Dinsdag, 21 Februarie 2017 06:52

Internasionale Moedertaaldag

21 Februarie 2017

 

Ek het grootgeword in 'n familie wat Afrikaans se pynlikste ontluikingsjare beleef het. My oupa was een van dié wat op 'n stoel moes staan met donkie-ore aan omdat hy Afrikaans gepraat het in 'n land wat hom wou verengels. 

Hulle het hard gewerk om Afrikaans te bevorder, my grootouers. In Natal, die provinsie wat vandag nog effe trots is op sy bynaam "The Last Outpost". Dit was nie maklik nie. Hulle is daarvoor gehoon, soms selfs verneder. Maar hulle het op hulle beskeie manier gedoen wat hulle kon vir die taal - seker gemaak hulle drie kinders word in Afrikaans onderrig, Afrikaanse boeke gekoop, Afrikaanse films ondersteun, Afrikaans keurig gepraat.

Maar nie my ouma of my oupa was taalimperialiste nie. Hulle kon albei Zoeloe praat, my oupa so vlot dat jy toe-oë nie sou kon agterkom hy is nie 'n moedertaalspreker nie. En hy het dié taal as 'n volwassene aangeleer, uit noodsaak en uit respek vir die mense wat langs hom in Zoeloeland se suikerrietlande panga geswaai het.

Onthou vandag, op hierdie dag, dat jou moedertaal jou trots mag en moet wees, dat jou hart daarvoor mag klop en dat jy hard mag werk om Afrikaans te beskerm en te bevorder. Maar onthou ook dat dié voorreg almal toekom. Ander mense se moedertale is hulle trots. Respekteer dit.

Die manier om jou taal ten beste te dien, is gewoon om hom te gebruik. Om hom te lees en te skryf en seker te maak jou kinders word in hom onderrig. Om Afrikaanse kunstenaars, skrywers en publikasies te ondersteun. En om, wanneer jy self jou taal aanwend, seker te maak jy werk met 'n geslypte beitel. Want dis net dan wat jou woorde en jou werk in die sterre in loop.

Ek kry 'n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.

Ek sit 'n klippie op 'n rots:
- mens moet jou vergewis:
'n beitel moet kan klip breek
as hy 'n beitel is  -

ek slaat hom met my beiteltjie
en dié was sterk genoeg:
daar spring die klippie stukkend
so skoon soos langs 'n voeg:

toe, onder my tien vingers bars
die grys rots middeldeur
en langs my voete voel ek
die sagte aarde skeur,

die donker naat loop deur my land
en kloof hom wortel toe -
só moet 'n beitel slaan
wat beitel is, of hoé?

Dan, met twee goue afgronde
val die planeet aan twee
en oor die kranse, kokend,
verdwyn die vlak groen see

en op die dag sien ek die nag
daar anderkant gaan oop
met 'n bars wat van my beitel af
dwarsdeur die sterre loop.

NP van Wyk Louw

Dinsdag, 14 Februarie 2017 17:03

Slegte medisyne

Kry anderdag ʼn navraag van ʼn gebruiker: Hoe spel ʼn mens [...]? Tipiese soort navraag, ek stuur ʼn tipiese soort antwoord. Sy sê dankie, maar dis ʼn dankie met stekels. Want iemand het haar oor die vingers getik oor haar spelling en sy het by my kom bevestiging soek dat sy reg was. En toe was sy nie.

Die reaksie daarop was ook tipies: Ja, maar almal skryf so. En hoekom kan sy nie reg wees nie? Sy skryf dit al jare so en nou is dit ewe skielik verkeerd. Wie maak sulke volksvreemde reëls, en wie het nou eintlik aan dié onheilige kliek in hulle ivoortoring die reg en die mag gegee om die gewone gebruiker ontoereikend te verklaar? Wie se taal is dit in elk geval?

Dis ʼn bitter pil om te sluk, ek weet. Ons moes hom al almal afwurg – daardie een waar jy tot in jou siel toe oortuig is jy is reg en dan uitvind jy is nie. Bitter, man. Gal.

Die feit bly staan, die taalgemeenskap maak self die reëls, die Taalkommissie teken die reëls op en dit word in die Afrikaanse woordelys en spelreëls gepubliseer. Ja, dié bron word voortdurend bygewerk. Ja, die reëls word hersien, aangepas, herskryf, verfyn, uitgebrei. Hierdie jaar verskyn ʼn eeufeesuitgawe, waarin die reëls vir leestekengebruik in Afrikaans en reëls vir trappe van vergelyking vir die eerste keer vervat word. ʼn Klomp mense wat gewoond is daaraan om spasies tussen woorde en vraagtekens te sit, gaan kwaad wees. Mense wat nie spasies tussen woorde en ellipsstippels sit nie, gaan net so kwaad wees. Mense wat “onmiddellik” met een d of een l skryf, gaan steeds kwaad wees, want ons spel dit steeds (net) met twee d’s en twee l’e.

Ek wonder hoekom maak dit ʼn mens so kwaad as jy uitvind jy maak ʼn taalfout. Kan jy jou voorstel dat ʼn mens in enige ander vakgebied vir ʼn vakkundige sal sê “ja, maar almal doen dit so”? As die ganse graadeenklas skryf 2+2=5, is dit skielik korrek? Nee. As jy altyd gedink het die aarde is ʼn plat klip op ʼn skilpad se rug en jy vind op ʼn dag uit dis ʼn skewe eier wat iewers in die middel van ʼn kosmos om sy eie as tol, gaan jy met ʼn astrofisikus daaroor stry? Nee wat. Jy sal dalk jou wenkbroue lig en jou oë rol, maar dit gaan jou emosioneel min kos om sulke inligting te verwerk.

Taal is anders. Baie mense praat daarvan as volksbesit. Maar taal is meer as dit, dis wat van jou mens maak. Dis hoe jy met die wêreld skakel en dis hoe jy die wêreld toelaat om met jou te skakel. Jou taalgebruik is so uniek soos jou gelaatstrekke en so deel van jou soos die moesies op jou lyf. Om uit te vind daardie moesies is “foute”, is soos foelie tussen jou tande. Dis dan wat jy vir die hele ou hoogdrawende gespuis wil sê: vlieg in julle dingese in met julle AWS en al. (En dan moet uitvind die meervoud van “dinges” het twee s’e en die v in “vlieg” moet ʼn hoofletter wees.)

My vraag aan sulke beswaardes bly altyd: Hoe reageer jy op soortgelyke foute in Engels? Is jy tevrede as mense there/their/they’re verkeerd gebruik? Gaan jy ʼn T-hemp koop en dra waarop daar staan “You is my best friend”? Gaan jy tevrede wees as jy ʼn Engelse teks lees wat klink soos ʼn oorklanking uit Afrikaans of Frans of Spaans of Mandaryns? Nee. Nou hoekom is jy dan bereid, en selfs gretig, om Afrikaans so te verslons?

Soepel taalgebruik is nie ʼn skande nie. Dis ook nie ʼn teken van naziisme of beheervraatsigheid of analiteit nie. Dis gewoon ʼn teken van kennis en bewustheid en noukeurigheid. Dis ʼn teken van respek teenoor ʼn kode en ʼn vakgebied waaraan baie kundiges baie lank voor jou al baie hard gewerk het.

ʼn Ingenieur of ʼn argitek of ʼn rekenmeester of ʼn onderwyser of ʼn teoloog wat ure lank sit en besin oor sy of haar werk is nie ʼn nazi nie. ʼn Taalmens wat dieselfde doen ook nie. En ʼn skrywer wat taal kan inspan soos ʼn swaard of ʼn skalpel, soos ʼn troos of ʼn seëning, soos ʼn begenadiging of ʼn amen, het nie daardie vaardigheid verwerf omdat hy of sy tevrede was met spelfoute en verkeerde meervoude en slordige styl en “ja, maar almal skryf so” nie.

Sluk maar die bitter pil, dis goed vir jou.

VivA-groete

Sophia

Woensdag, 08 Februarie 2017 06:53

Oor soldate, orrels en engele

Werk anderdag deur ʼn lys woorde vir opname in VivA se databasis. Dit gaan oor uitspraak, nie oor betekenis nie, en die onderwerpe loop wyd. En so met die blaai deur amper 12 000 inskrywings is daar een wat my opval, een wat ek baie lanklaas gehoor het: “serfyntjie”.

Ek weet nie of my kind meer weet wat ʼn serfyntjie is nie. Ek weet nie of my tydgenote meer weet wat dit is nie. Dis ʼn ding uit die geskiedenis, so deel van ʼn ouer huishouding soos ʼn kolestoof en ʼn koos onder die katel – die huisorrel, waarop daar saans met boekevat voorgespeel is en dalk op ʼn Saterdagaand saam met ʼn viool en ʼn konsertina in die voorhuis musiek gemaak is sodat die jongklomp op ʼn meelbestrooide stoep kan dans.

Ek lees die eerste huisorrel is in 1735 in Suid-Afrika gebou, in opdrag van goewerneur Jan de la Fontaine. ʼn Kompanjiesamptenaar met die naam van Jan Posse was ʼn orrelbouer van beroep en het die instrument op versoek van die goewerneur vir dié se dogter gemaak. Toe die goewerneur terug is Nederland toe, het die gemeente in die Kaap die orrel by hom gekoop, en dié serfyntjie het kerkorrel geword. Die eerste orrelis wat op hom gespeel het, ene Paul Kraker, was in die week ʼn soldaat in diens van die Kompanjie.

“Serfyntjie” was ons familie se woord vir ʼn huisorrel. En al is “serfyntjie” in die WAT opgeteken, is die regte benaming daarvoor eintlik “serafyntjie” of “serafyn”, ʼn woord wat amper net so verouder is as die instrument. Volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans kry ons dié woord reeds in Middelnederlands (serafijn) en het dit toe reeds verwys na ʼn engel van ʼn hoë rang. Die woord het natuurlik in Latyn gaan draai (seraphim), maar dit is reeds in Hebreeus te vinde, as ʼn afleiding van die werkwoord saraph, wat beteken “brand”. Dié verwysing slaan op Jesaja 6:6-7, waar die engel met ʼn gloeiende kool aan Jesaja se lippe geraak het en waarna die profeet sy onwilligheid om te praat oorkom het.

Die skakel tussen die orrel, die engele en die soldate het nie by Paul Kraker in die Kaap geëindig nie. In 1791 het nog ʼn soldaat, Johann Ludewig Hodderson, ‘n eenmanuaalorrel vir die Strooidakkerk in die Paarl gebou. Anton Anreith het die houtsneewerk op dié orrel se front gedoen en dit onder andere met serafyne versier.

Ek het ongelukkig nooit ons familie se serfyntjie te siene gekry nie. My oupagrootjie het as oudste seun dié instrument geërf, maar by sy dood moes my oumagrootjie by haar kinders intrek. Al die familiestukke het huise gekry, buiten die serfyntjie. Geen kind of kleinkind het nut of plek daarvoor gehad nie, en sy en die serfyntjie het alleen in die agterplaas van hulle dorpshuisie agtergebly toe die res van haar trek vort is. En omdat sy die kryger was wat sy was, het sy ʼn byl gevat, die serfyntjie in ʼn duisend stukke gekap en dit toe aan die brand gesteek. Want oor haar dooie liggaam sal ʼn familie-engel oor ʼn vreemde mens se huis die wag hou.

VivA-groete

Sophia

 

Bronne:

http://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/39968/VanSchoor_%20Geskiedenis_2014.pdf?sequence=3&isAllowed=y

http://tardis.dl.ac.uk/FreeReed/organ_book/node4.html

http://www.viva-afrikaans.org/

Woensdag, 01 Februarie 2017 06:38

Oor Februarie, reiniging en aflegging

Februarie || eienaam. (Moontlik na die Romeinse god van reiniging, Februus, wat waarskynlik vernoem is na die Februa (reinigingsfeeste) wat op die vyftiende van Februus se heilige maand, Februarius, gehou is. Februus was ook die god van geld/rykdom en die dood.)

Februarie is die kortste maand van die jaar, die laaste maand van die somer in die Suidelike Halfrond, en die afsluiting van die belastingjaar, wat beteken dat dié maand min of meer dieselfde betekenis inhou vir die eienaars van sakeondernemings en die betalers van voorlopige belasting as wat dit vir die ou Romeine ingehou het.

Op 1 Februarie 1662 het generaal Koxinga van China die eiland van Taiwan ná ʼn beleg van 9 maande by die Vereenigde Oost-Indiesche Compagnie afgeneem, op dieselfde dag in 1884 is die eerste volume van die Oxford English Dictionary (A tot Ant) gepubliseer, en in 1895 het president Paul Kruger die Fonteinevallei in Pretoria tot die eerste natuurbewaringsgebied in Afrika geproklameer. Op hierdie dag in 1964 het die Beatles vir die eerste keer nommereentrefferstatus in die VSA bereik met “I want to hold your hand”, vier jaar later het Eddie Adams sy onvergeetlike en afgryslike foto van die teregstelling van Nguyen Van Lem, ʼn offisier in die Viëtkong, geneem, en in 1981 het die krieketwêreld vir ewig van sy as af gekantel toe Trevor Chappel daardie berugte onderhandse laaste bal op die MCG geboul het.

Die Amerikaners vier Vryheidsdag op 1 Februarie omdat Abraham Lincoln die Dertiende Wysiging (Thirteenth Amendment) aan die Amerikaanse Grondwet op 1 Februarie 1865 onderteken het – dit was die wysiging wat slawerny onwettig verklaar het – en op 1 Februarie 1991 het president FW de Klerk in die Suid-Afrikaanse parlement aangekondig dat alle apartheidswette herroep sou word.

Februarie is die maand van reiniging en aflegging. Mag dit ʼn maand wees waarin jou belastingverpligting teenoor die Ontvanger minder is as wat jy gedink het en die aflegging van jou ander belastings makliker is as wat jy vermoed het. En as niks anders dan help nie: Ten minste is die maand kort.

VivA-wense

Sophia

 

Bronne:

http://www.ducksters.com/history/februaryinhistory.php

https://en.wikipedia.org/wiki/February_1

http://www.etymonline.com/

http://www.nationaldaycalendar.com/national-freedom-day-february-1/

https://www.pharosaanlyn.co.za

http://www.sahistory.org.za/

http://www.viva-afrikaans.org/

Woensdag, 25 Januarie 2017 09:39

Woord van die week

vertrouenspersoon, ..sone s.nw. (Eng: fiduciary, n. Uit die Latyn fiducia, wat afgelei is van fidere, wat beteken “vertroue” (confidence, trust))

ʼn Regsterm waarmee daar verwys word na ʼn persoon (hetsy ʼn natuurlike of regspersoon) wat die gesag en plig het om in ʼn ander se belang op te tree en die bates wat aan so ʼn vertrouende persoon behoort te beskerm. Vertrouenspersone sluit in trustees, prokureurs, banke, finansiële adviseurs, makelaars en enige ander persoon wat onderneem om iemand se belange te beskerm.

Die verhouding tussen die twee partye veronderstel meer as net respek vir die kundigheid en oordeel van die vertrouenspersoon, dit veronderstel blindelingse vertroue dat die vertrouenspersoon in alle omstandighede in belang van die vertrouende sal optree, en dit veronderstel dat albei partye in gelyke mate tot die vertrouensverhouding verbind is. Die vertrouende vertrou volledig en die vertrouenspersoon aanvaar volledig die verantwoordelikheid en aanspreeklikheid wat met so ʼn vertrouensverhouding gepaard gaan.

ʼn Vertrouenspersoon het ʼn vertrouensplig (fiduciary duty) teenoor die vertrouende, naamlik dat hy/sy in alle omstandighede openhartig, eerlik en in belang van die vertrouende sal optree. Die hele aard, grondslag en sukses van hierdie verhouding berus op die veronderstelling dat die vertrouenspersoon nooit sy of haar verpligting jeens die vertrouende sal versaak nie.

Tog is dit opmerklik dat geen woordeboek se definisie van “vertrouenspersoon” die konsep “ouer” insluit nie. Ek wonder waarom. Is daar ʼn groter afhanklikheid as ʼn kind wat ʼn ouer blindelings vertrou? Is daar ʼn groter verantwoordelikheid as om vir ʼn kind se welsyn aanspreeklik te wees?

Dit is vandag die vyf-en-twintigste. Vir baie van ons is dit betaaldag. Vir baie van ons is dit ʼn dag waarop ons vyf brode en twee visse tussen ʼn leërskare moet verdeel. Die meeste van ons kry dit nie reg nie. Veral in hierdie maand, veral in hierdie jaar, veral in hierdie land. Teen die tyd dat jy jou verpligtinge nagekom het en die grootste gate toegestop het, is jy by R0,00. As jy wil eet ook, is jy in die rooi. As jou kar of jou yskas breek, is jy in jou kanon.

Aan almal wat al ooit in ʼn kind se oë moes kyk en gewonder het hoe op die aarde jy jou vertrouensplig gaan nakom: Mag dit vir jou ʼn jaar van wonderwerke wees.

VivA-wense

Sophia

 

Bronne:

http://www.etymonline.com/

https://www.merriam-webster.com

https://www.pharosaanlyn.co.za

http://www.thefreedictionary.com/

http://www.viva-afrikaans.org/

Kontrapunt: Kontrastiewe en komparatiewe perspektiewe op die Afrikaanse en Nederlandse taal- en literatuurstudie

Kongresdatum: 28 Junie tot 1 Julie 2017

Plek:      Stonehenge in Africa - Parys, Vrystaat

Chiaroscuro in die skilderkuns behels die onthullende spel van lig en skadu. Die een kan nie sonder die ander bestaan nie. Deur die kontras van 'n ligte figuur teen 'n donker agtergrond, en omgekeerd, word daardie figuur op ’n openbarende manier afgeteken. In hierdie beeld lê die kern van die kongrestema opgesluit, naamlik kontrapuntale samehang in en om die Neerlandistiek. Die gesprek is daarop gerig om binne die konteks van die komparatisme die kontraste sterker te belig, maar dus steeds met aandag aan ooreenkomste en  gemene delers.

U word hartlik uitgenooi om referaatvoorstelle van ongeveer 250 woorde teen 31 Januarie 2017 voor te lê deur dit in te dien op die kongreswebblad. U word ook uitgenooi om onderwerpe voor te stel vir spesiale tematiese sessies of paneelbesprekings.

Voorgestelde velde en subtemas: Vergelykende taal- en letterkunde; Kontrastiewe taalkunde; Sosiolinguistiek; Historiese taalkunde; Literêre geskiedskrywing; Postkoloniale studies; (De)kolonialisering; Digitisering en digitalisering; Digitale humaniora.

Spesiale nommers van Tydskrif vir Geesteswetenskappe en Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans word aan die kongres gekoppel. Die bedoeling is dat 'n gevorderde weergawe van 'n artikel by die kongres as referaat aangebied word. Deelnemers kan besluit by watter een van die bogenoemde tydskrifte die artikel voorgelê word.

Organiseerders:    Phil van Schalkwyk, Adri Breed en Janien Linde

Meer inligting is beskikbaar by http://savn2017.wixsite.com/savn-kongres-2017

 

Vrydag, 21 Oktober 2016 02:00

Transliterasie van Chinese plekname

 

Die spelling, transliterasie en uitspraak van plekname in die Ooste veroorsaak veral vir koerantjoernaliste hoofbrekens. Neem gerus kennis van hierdie nuttige inligting wat prof Ernst Kotzé met VivA gedeel het:

Die transliterasie van plekname uit die Ooste is ’n probleem hoofsaaklik wanneer die betrokke land ’n skryfsisteem (bv. Chinees, Hindi, Arabies, Koreaans, Japannees) gebruik waarvoor daar nie ’n outogtone, amptelike spelling bestaan nie.

Deur die aktiwiteite van Unesco se Komitee vir Romanisering het daar mettertyd pleknaamlyste ontstaan, waarvan die meeste gebaseer is op ’n benaderde Engelse interpretasie van die uitspraak van letters (maar ook nie altyd uitspreekbaar deur Engelstongiges nie).  Daarbenewens het daar by ’n groot aantal tale (veral Germaanse en Romaanse tale) getranslitereerde vorme van die mees prominente plekname in Oosterse lande ontstaan wat gestandaardiseer is en nog steeds in algemene gebruik is.  

Vir die erkenning van sulke spelvorme moet daar, gewoon as gevolg van universele standaardisering, waarskynlik ook in Afrikaans plek gemaak word.  Dit geld ’n aantal prominente plekke op die aardbol, soos Rome, Moskou, Parys, Londen, Berlyn, Tokio, Boekarest, ens., waarby Afrikaans in die meerderheid gevalle die voorbeeld van Nederlands gevolg het. Dit sou dus ’n nuttige vuisreël wees om in twyfelgevalle te kyk na wat Nederlands daarmee gemaak het, en ’n mens sou m.i. dan op redelike veilige grond wees.

Anders as in die geval van tale soos Russies en Japannees, is daar egter nie in Afrikaans die moontlikheid om Chinees (watter een van die Chinese tale ook al) te translitereer nie. Die Chinese regering het daarvoor 'n stokkie gesteek deur self 'n Romeinse skryfstelsel (Hanyu Pinyin) vir gebruik deur die Westerse wêreld te ontwerp. Dit vergemaklik natuurlik die taak van buitelanders enigermate wat die skrifvorm betref, maar lei buitelanders op 'n dwaalspoor wat die werklike uitspraak van die betrokke woord betref, omdat dieselfde letter dikwels verskillend uitgespreek word deur sprekers van verskillende (Westerse) tale. Daarby is die uitspraak ook gebaseer op Mandaryns (Han), en verskil heeltemal van die uitspraak van dieselfde woorde in bv. Kantonees, hoewel die Chinese karakters presies dieselfde is.

Hoewel uitpraakreëls saam met die spelling voorsien word (bv. dat “d” as [t] en “o” as [u] uitgespreek word, soos in Mao Zedong, wat in Mandaryns “Mao tse Toeng” klink, en “b” as [p], sodat Beijing  in die mond van die Mandaryne na Petsjieng klink (nie veel verskillend van Peking nie), lyk dit asof elke taal maar sy eie uitspraak van die spelvorm gaan vorm, en dat die uitspraakreëls vir die res van die wêreld te veel moeite gaan wees.  

[Prof Ernst het die uitspraakreëls vir ons opgesom en aangestuur. Sien die lêer hierby aangeheg.]

Woensdag, 28 September 2016 02:00

TEDTalks in Afrikaans

TEDafr02Internasionale Vertalingsdag: Hoe om betrokke te raak by die skep van Afrikaanse onderskrifte vir gewilde TEDTalks

Al gehoor van TEDTalks? Dis die aanbiedings van navorsers, leiers en kreatiewe mense op verskeie vakgebiede wat jy gratis aanlyn na kan kyk en luister. Ek onthou ’n tyd in my lewe wat ek nie ’n gesprek kon voer sonder om ’n TEDTalk aan te haal nie. Alles rondom die temas omsluit in die T-E-D -- technology, education, design -- het my aangetrek en geboei.

Sedert 2009 is dit moontlik om aktief as ’n vrywilliger by TED betrokke te wees deur vertaling. Sir Ken Robinson se “Versmoor skole kreatiwiteit?” het my so aangegryp dat ek moes deel word en so is daardie Afrikaanse ondertitels toe geskep. Vandag is Afrikaans een van 59 tale wat Sir Ken kan begelei by sy praatjie wat al meer as 41 miljoen keer gekyk is. In hierdie video vertel verskeie vertalers hoekom hulle begin vertaal het en organiseerders verduidelik watter waarde vertaling tot TED se missie om idees te versprei bygevoeg het.

TED se vertalingsprojek staan na sewe jaar sterk, maar Afrikaans kan nog sterker verteenwoordig word. Daar is byna 25 000 vertalers in 155 lande wat vertalings in 113 tale bydra. Hierdie maand is die 100 000 ondertitels mylpaal gehaal en ook gou-gou verbygesteek. Opmerklik is dat van die tale wat tans die vinnigste groei juis tale met relatief min moedertaalsprekers is, so die moontlikhede wat in hierdie geleentheid opgesluit lê is beslis legio. Afrikaans het tans 23 vertalings op haar naam, so daar is duidelik heelwat ruimte vir ontwikkeling.

Afrikaanse vertalings beweeg ongelukkig baie stadig deur die proses omdat die poel van vrywillige vertalers veels te klein is. So, as jy vandag op Internasionale Vertalingsdag iets in jou hart voel roer, sluit aan en kom help ons om kennis ook in Afrikaans te versprei. Jy hoef geensins ’n professionele vertaler te wees nie. ’n Gevoel vir taal en ’n bereidwilligheid om oor vertaling en ondertitels te leer is die belangrikste gereedskap. Die vereistes is dat jy:

  • Vlot is in beide die brontaal en die teikentaal
  • Toegang het tot ’n rekenaar en die Internet
  • Toegang het tot woordeboeke en taalgidse (o.a. maklik verkrygbaar deur VivA se webtuiste)
  • Bewus is van beproefde en betroubare metodes vir ondertitels skep (of gewillig is om te leer!)
  • Genoeg tyd het: ’n gegewe taak moet binne 30 dae afgehandel word (nuwe vrywilligers word aangemoedig om aan een taak op ’n slag te werk)

Die meeste vertalings is natuurlik van Engels in Afrikaans, maar TEDx-geleenthede word ook oral oor die wêreld in ander tale gehou. Die “x” dui aan dat ’n konferensie volgens TED se beginsels georganiseer is, maar nie ’n amptelike TED-geleentheid is nie. In Suid-Afrika het organiseerders al reeds in Soweto, Johannesburg, Pretoria, Kaapstad, Stellenbosch, Durban, Port Elizabeth en elders sulke konferensies op die planke gebring. Spesifieke temas of groepe, soos vroue of die jeug, was ook al die dryfkrag agter van Suid-Afrika se TEDx-konferensies. Die beeldmateriaal van TEDxTalks word gewoonlik op YouTube vrygestel en is ook beskikbaar om vertaal te word.

Groepe vertalers wat aktief is op die TED-platform raak ook soms betrokke by die reël van TEDx-geleenthede. Sou Afrikaans goed groei en sou dit moontlik wees om verdere Suid-Afrikaanse taalgemeenskappe aan te steek is dit dus moontlik om eendag ’n TEDx konferensie wat ook in ander Suid-Afrikaanse tale as Engels gehou word voor te stel. Met die ondersteuning van bestaande groepe vertalers vir die mense teenwoordig by so ’n geleentheid en die mense wat later op die Internet kyk, kan die inhoud toeganklik gemaak word.  

So hoe werk dit? Hoe kan jy vandag deel word hiervan? Eerstens benodig jy ’n TED-profiel, wat nuut geskep kan word of gekoppel kan word aan ’n bestaande Facebook-profiel. Dan doen jy aansoek om ’n vertaler te word en wag op goedkeuring. Daarna kan die proses begin!  

1. Transkripsie

TED verskaf ’n Engelse transkrip. (In die geval van TEDxTalks doen vrywilligers die transkripsie van klank na teks.)

2. Vertaling

Ondertitels word uit die brontaal in die teikentaal vertaal met gebruik van die aanlyn program Amara. Toegang tot Amara geskied via jou TED-profiel.

3. Hersiening

Ondertitels word deur ’n ervare vrywilliger hersien.

4. Goedkeuring

Ondertitels word deur ’n taalkoördineerder goedgekeur voor hulle finaal gepubliseer word.

Daarna kan jy op TED.com sien waar die vertaler en die hersiener se name verskyn by die ondertitels. So sluit aan en kom soek ons ook op Facebook sodat ons saam idees en kennis in, uit en om Afrikaans kan deel!

Vir meer inligting kontak vir Ingrid Lezar: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.