Sophia Kapp

Sophia Kapp

Donderdag, 08 Junie 2017 11:43

Daai liederlike loef ...

loef, s.nw. die kant waar die wind vandaan waai; uitdrukking: “die loef afsteek” = tussen die skip en die wind beweeg; letterlik die wind uit die seile haal.

Bron: Woordeboek van die Afrikaanse Taal

 

ʼn Vryery is nie ʼn maklike ding nie.

Dit verg, om mee te begin, ʼn geweldige klomp moed om jou hart voor ʼn meisiekind se voete te gaan lê, want jy weet nie of sy dit gaan optel of vertrap nie. (Albei dié uitkomste het bowendien sy eie pyn. Die een vat net so ʼn bietjie langer om op te daag.)

Maandag en Dinsdag moet ek ʼn vergadering in Stellenbosch bywoon. Dit is, soos altyd, ʼn voorreg om dié historiese dorp te besoek en gewaardeerde vriende en kollegas weer te sien, maar die gemoedere is hierdie keer donker. ʼn Nabykind van ʼn kollega in taalkringe is die naweek vantevore hier dood. Eers verinneweer en toe vermoor. Koelbloedig. Vir ʼn onsinnige ding soos ʼn ou rammelkas. As ʼn ma van ʼn studentekind, breek en breek en breek my hart vir die ouers en familie van dié mooie meisiekind wat in die media moet lees watter alleraaklige laaste oomblikke sy moes deurmaak.

Haar storie is afgryslik, maar dit is, helaas, nie uniek nie.

Vrydag, 19 Mei 2017 10:03

Athlone

Verlede week is ek in die Kaap om VivA te gaan bemark. Besoek skole op ʼn streep, vertel hulle van ons produkte, Woordeboekportaal, ons navraagdiens, skoollisensie, kompetisie, die hele ketoet. Gawe kollegas in die Kaap het vir my die besoeke gereël, en ons ryg vir hulle in: van vroeg tot laat, tot verby die donkerte oor die wingerd kom lê.

Ek sien ou skole, nuwe skole, skole met ʼn ryk tradisie en ʼn bykans onuitputlike alumnifonds: ek sien skole waar die drade platgetrap is en die buurt se rondloperbrakke in die vullisdromme kom krap. Oral word ek vriendelik ontvang, oral kan ek sien die onderwysers het opregte deernis vir die jong siele in hulle sorg. Sommige se omstandighede is moeilik, sommige sʼn is haglik. Maar hulle is daar, bereid om saam te werk, gretig om vir Afrikaans in die loopgrawe te werk.

Dan kondig my kollega aan: Sy kan vir my ʼn besoek reël by die Athlone School for the Blind. Wil ek gaan? Ek het my bedenkinge, want ek smous skoollisensies vir woordeboeke en ʼn toepassing wat vir slimfone ontwerp is. Wat bied ek nou eintlik vir kinders wat sukkel om te sien? Is dit hoegenaamd sinvol om VivA soontoe te neem? My tyd is beperk, sien, en ek moet dit ten beste benut. Maar ek sê maar ja, want dis op ons pad en ons kan nou maar netsowel daar stop.

Saterdag, 13 Mei 2017 15:52

'n Ode aan die moeder

Moedersdag. ʼn Dag vir moeders. ʼn Dag van erkenning en dank en viering, waarop ons eer betuig aan die vrou wat ons nie vermoor het nie, al het sy (meer as een keer) rede gehad om dit te doen.

Die viering van Moedersdag is, natuurlik, ʼn Amerikaanse tradisie. In 1908 het ene Anna Jarvis ʼn dankdiens vir haar eie moeder in die St. Andrew’s Metodistekerk in Grafton, Wes-Virginië, gereël. Die moeder, Ann Reeves Jarvis, was ʼn vredesaktivis en ʼn gesondheidsorgwerker wat gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog gewonde soldate van albei kante van die stryd verpleeg het. Die Amerikaanse Kongres het die idee van ʼn dag vir ʼn ma aanvanklik afgelag (en gespot dat hulle dit nie wil doen nie, want netnou moet hulle ʼn skoonmoedersdag instel), maar in 1914 het Woodrow Wilson ʼn proklamasie onderteken waarin die tweede Sondag in Mei opsygesit is as amptelike vakansiedag ter verering van die moeder.

Woensdag, 03 Mei 2017 19:36

Om 'n storie te maak

As ʼn skrywer kry ʼn mens baie keer die vraag: Waar kry jy jou stories vandaan?

Dis ʼn maklike en ʼn moeilike vraag om te beantwoord: Stories is oral om jou. Jy hoef nie in verafgeleë plekke of eksotiese bestemmings te gaan soek na stories nie, hulle sit in die gewoonste van insidente en in die voorspelbaarste van geleenthede: die paniek van ʼn ma as haar kleuter in ʼn supermark verdwaal; ʼn tiener wat by die huis kom, flenters en verpletter oor ʼn kêrel wat haar gelos het; ʼn man wat moeg en knorrig is oor finansies wat nie wil klop nie, maar wat weer moed kry wanneer sy geliefde hom troos en sê alles sal regkom; ʼn vrou wat moet ma, huishoudster, verpleegster, versorger en berader wees en op ʼn Saterdagoggend ʼn blom voor haar bed kry. Ja, ʼn storie kan in Somalië of Indië of Oezbekistan afspeel en jou wegtrek na ʼn wêreld waarvan jy nooit geweet het nie. Maar dit hoef nie. Dit kan op ʼn gewone weeksoggend in jou eie kombuis afspeel, jy moet hom net raaksien.

Dis die maklike deel van die antwoord. Die moeilike deel is dat dié klaargemaakte stories op ʼn manier vertel moet word dat dit vir ʼn leser iets beteken. ʼn Goeie skrywer is die een wat die generiese elemente aan die waarneming kan onttrek en dit aan lesers in die vorm van ʼn storie kan aanbied waarin hulle raakpunte vind. Om in woorde te gaan sit wat elkeen van ons in ʼn bepaalde situasie ervaar en word en voel. Dis nie net moeilik nie, dis werk.

Die ding wat die werk hoegenaamd uitvoerbaar maak, is ʼn skrywer se beheersing van die taal. Want sonder woorde verwoord ʼn mens moeilik. Sonder die reikwydte van ʼn ontwikkelde woordeskat, sonder ʼn grondige begrip van beelding, van idiome, van beskrywing en omskrywing, vervlak jou vertel tot ʼn eendimensionele voorstelling van ʼn ding wat diepte moes gehad het. Ja, jy kan gestroop skryf, jy kan selfs eenvoudig skryf. Maar jy mag nooit, nooit, nooit gewoon skryf nie.

Juis daarom verstom dit my dat voornemende skrywers, veral die jongetjies, ʼn ding skryf wat klink asof dit iets is wat hulle op ʼn selfoon getik het en dan, ewe verontwaardig, vir my sê: “Ja, maar almal praat so.” Almal praat (mos) van ʼn “laptop” en van “gross” en “cool” en “awesome”. Niemand praat van ʼn “skootrekenaar” en “afgryslik” en “asembenemend” en “weids” nie, en dan skryf hulle soos hulle klink en dan klink hulle soos almal.

Die kuns van skryf lê nie (net) in jou vermoë om ʼn storie te genereer nie. Dit lê beslis nie in jou kennis van literêre teorie nie en dit lê allermins in jou skryfsels se skokwaarde. Om ʼn rits taboewoorde in ʼn sin in te ryg, of om vyftig skakerings van seks in boekvorm saam te flans, dié kan enigeen. Dis nie ʼn kuns nie, en nie eers die feit dat miljoene mense lus (ek wou ʼn ander woord hier gebruik het, maar my ouma het gesê dis onbetaamlik) genoeg was om R300 vir papierseks te betaal, maak dit goeie skryfwerk nie.

Die skrywers van hierdie wêreld wat ons verbeelding aangryp, is die skrywers wat ons meevoer. Wat vir ons wêrelde oopbreek wat ons nog nooit raakgesien het nie, al is daardie wêreld dan nou in ons eie agterplaas. Ware woordkunstenaars is dié wat ons meesleur, soos ʼn kano in ʼn stroomversnelling, en ons oor die lip van die waterval skiet sodat ons vreesloos en gewillig die onbekende inval. En of hulle nou 400 jaar gelede geskryf het, soos William Shakespeare, en of hulle eergister hulle debuut by die drukkers gaan afhaal het, ons is ewe bereidwillig om die werklikheid prys te gee en saam met hulle die onbekende aan te durf. Vir die uur of twee of tien wat ons met hulle boeke in ons hande sit, is ons heerlik, onbeskroomd en onbeskaamd in hulle mag. En ons vrek oor elke gevleuelde oomblik.

Broei daar ʼn storie in jou? Werk jy met koppe wat die volgende generasie se skrywers moet word? Dan mag jy nie toelaat dat “ja, maar almal skryf so” ooit deel word van jou denkwyse nie. Jy mag nooit tevrede wees met wat jy weet van die taal nie. Jy mag nie ophou leer, ophou lees, ophou naslaan, ophou groei nie. Jy mag nie agteroor sit en glo jy het alles tot jou beskikking om jou storie ten beste te vertel nie. Want jy is ʼn kunstenaar en al wat jy het waarmee jy jou kan onderskei, is jou woorde. Al instrument wat jy het, is die taal. Al raakpunt wat jy met jou leser het, is die vlyt waarmee jy skryf sodat hulle kan wegraak in die belewenis en nie verstrengel raak in taalslordighede nie. Jy mag, om dit so reguit te stel, nooit, ooit weer dink middelmatig is goed genoeg nie.

Hierdie blog het vantevore op Maroela Media verskyn in "Tel jou woorde".

 

 

 

Donderdag, 20 April 2017 14:21

Waar kry jy daardie woord?

Ek vind dikwels dat mense onrustig, ongedurig en somtyds sommer onverdraagsaam raak as hulle vermoed dat ons ʼn woord in Afrikaans gebruik wat ons uit ʼn ander taal gaan leen het. “Hoekom kan ons nie suiwer Afrikaans praat nie? Moet ons ons arme taal so verknoei?” is die lamentasie. Veral as die leenwoord toevallig ook ʼn nefie of ouer suster in Engels het, is gebruikers erg agterdogtig oor dié woord se teenwoordigheid in die AWS. Noem maar Romaanse woorde soos “evalueer” of “repudieer” wat in die jaar gunter al in die AWS opgeneem is, en jy het dadelik ʼn klomp morrendes wat meen dat die Taalkommissie die taal nou weer verloën.

Die feit is, Afrikaans se herkoms is verwikkeld. Niks aan enige taal se herkoms is ooit eenvoudig of lynreg terug te trek tot by Adam en Eva in die paradys nie, en Afrikaans is niks anders as die res nie.  Boonop verstom dit my dat mense oor “repudieer” kan kla, maar dan ewe gemaklik ander bedenklike leenwoorde soos “neuk” of “avokado” kan gebruik sonder om twee keer oor die etimologie daarvan na te dink.

Hier is ‘n paar ingeburgerde Afrikaanse woorde wat elk ʼn interessante en baie on-Afrikaanse geskiedenis het.

Donderdag, 20 April 2017 14:17

Oor -krasieë en kloake

Die afgelope week het die eindredaksie van die Taalkommissie byeengekom om die bladproewe van die elfde uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls deur te werk. Dis ʼn belangrike uitgawe van hierdie taalbybel, wat later vanjaar, presies 100 jaar ná die verskyning van die eerste uitgawe, gepubliseer word. Vir die taalgemeenskap is dit ʼn mylpaal, vir die Taalkommissie is dit rugknakkende en senutergende werk: As jy vir ander riglyne wil gee oor spelling, moet jy sekerlik eers voor jou eie taaldeur vee.

Woensdag, 29 Maart 2017 13:08

Om oor taal te klets

Joey Basson, gereelde VivA-gebruiker, taalonderwyser en administrateur van ʼn gewilde kletsblad Taalstoepie, vra vanoggend: Hoekom word “awesome” nie opgeneem nie? Afrikaanssprekendes gebruik die woord so gereeld dat dit al vir die meeste “gewone” taalgebruikers soos ʼn Afrikaanse woord voel.

Die reaksies op so ʼn vraag is voorspelbaar: “Ja, almal praat so” of “Nee, dit is aaklig”. En dit is hoe die gesprek vloei: voorstanders teenoor teenstanders. Heen en weer, oor en oor, sonder dat daar werklik rigting en uitsluitsel kom.

Dinsdag, 14 Maart 2017 15:18

Spogtyd: Ontmoet ons beurshouers

VivA het vir die 2017-studiejaar ʼn aantal beurse toegeken vir derdejaar- en honneursstudente wat in Afrikaanse taalkunde spesialiseer. Die oogmerk is om sterk studente te ondersteun wat wil spesialiseer in teoretiese, historiese, beskrywende en/of toegepaste Afrikaanse taalkunde, en sodoende ʼn stel jong navorsers en toekomstige opvoeders te help om hulle droom te verwesenlik.

Ons stel graag van hierdie wenners bekend:


“Dit maak my gelukkig om 'n prentjie te teken met woorde, om te inspireer met woorde en om 'n hele nuwe wêreld te skep met slegs een tipe boumateriaal - woorde! ... 'n Liefde vir die Afrikaanse taal loop al van kleintyd af soos bloed deur my are en nou sien ek met groot opwinding uit na 'n toekoms vol woorde, beeldspraak en boeke. 'n Toekoms vol drome!"

So sê Nicci Harmse, ʼn derdejaarstudent aan die NWU-PUK. Sy skryf hierdie jaar haar skripsie oor “Die teenwoordigheid van sekere taalaspekte in advertensiekommunikasie” en beplan om volgende jaar met honneurs in Afrikaanse taalkunde voort te gaan. Sy stel baie belang in vertaling, teksredaksie, uitgewerswese en verskeie velde van taalkunde, byvoorbeeld morfologie, semantiek, pragmatiek, sintaksis en leksikologie. Nicci beoog om eendag 'n taalpraktisyn te word.


Donique Cloete is 'n trotse Namakwalander, gebore en getoë in Springbok in die Noord-Kaap. Sy is vanjaar ’n honneursstudent verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland en het op die taalkunde as studierigting besluit omdat sy aanklank gevind het by hierdie eksakte wetenskap. Haar studie fokus veral op Sintaksis en Taalstruktuur waarby haar ánder belangstelling, die diversiteit van Afrikaans, goed aansluit. Donique wil haar as ’n Afrikaansonderwyseres bekwaam sodat sy haar passie vir die taalkunde en die taal as geheel verder kan uitleef. 

"My Afrikaansonderwyseres het in matriek ’n groot invloed op my akademiese vorming gehad - sy het ’n liefde van taalkunde by my gekweek waarna professor Frank Hendricks van die UWK daardie liefde met sy entoesiasme versterk het," sê Donique. "Dis byna onmoontlik om te beskryf wat Afrikaans vir my beteken, maar my verhouding met die taal verdiep daagliks. Hierdie verhouding som ek in een sin op: Ek het nie Afrikaans gekies nie. Afrikaans het mý gekies!"


Yolanda Botha is van die Oosrand en het haar skoolloopbaan by Leeuwenhof Akademie voltooi. "Gedurende my eerste jaar hier by Tuks was ek nogal verbaas om te hoor dat taalkunde baie meer behels as wat ek op skool geleer het. Elke keer wanneer ek bekend gestel is aan 'n nuwe afdeling het ek dit net meer en meer begin geniet om hierdie taal wat ek my hele lewe lank al praat werklik te begin verstaan," sê sy. Sy wil graag verder studeer en eendag 'n lektor in Afrikaans word.

"Afrikaans is na aan my hart, want al leer ek ander tale soos Frans en Nederlands (wat albei pragtige tale is) bly Afrikaans my taal. Daardie band is gelê deur my ouma wat 'n  liefde vir lees by my gekweek het. Later het my pa my passie vir tale ondersteun en my gelei om uiteindelik tale te kom bestudeer."


Roelien Redelinghuys woon in die Vriendelike Stad. "Ek het grootgeword in ‘n trotse Afrikaanse familie, in ‘n huis waar ek van kleins af die waarde van goeie boeke en mooi woorde besef het, tussen mense wat waardering het vir die taal en met wie ek my liefde vir Afrikaans kan deel," sê Roelien. Haar onderwyser, Arno van Wyk, se wonderlike liefde vir die taal het haar geïnspireer om verdere studie in Afrikaans te onderneem. Sy het ingeskryf vir ‘n BA-graad in Media, Taal en Kultuur en het die afgelope drie jaar meer geleer oor alles waarvoor sy lief is – skryfkuns, taal, letterkunde, bemarking, grafiese ontwerp en nog meer!

Sy doen tans haar honneurs in Afrikaanse taalkunde. "Dit lê my na aan die hart en ek geniet die interessante inhoud en die wye spektrum fasette daarvan. Studies rondom leksikografie, fonetiek en morfologie interesseer my veral, asook Afrikaanse digkuns en kinderliteratuur. Eendag sal ek graag ‘n geïllustreerde idome-en-gesegdeboek vir wil publiseer sodat kinders van jongs af hierdie skatkisse in die taal kan ontdek en op ‘n maklike manier kan leer," sê Roelien. "Ek hou van mooi dinge, en Afrikaans is ‘n mooi taal. Dis die taal waarin my hart werk. Afrikaans het die mooiste woorde, beskrywings en sê-goed. Daarom sê ek: Viva Afrikaans!"


 

"Ek wil nie hê dat Afrikaans moet uitsterf by skole en universiteite nie. Ons as die jonger generasie het 'n verantwoordelikheid om seker te maak dat Afrikaans voortleef." So sê Toshka Jansen, 'n vierdejaar- BEd-student aan die Universiteit van Johannesburg. Toshka het aan Reiger Park Sekondêre Skool in Boksburg gematrikuleer en spesialiseer in Afrikaans, met Geskiedenis as haar tweede hoofvak. As sy nie studeer nie, is sy 'n tutor vir die ATKV by Albert Street Primêre Skool in Johannesburg. 

"Afrikaans is my moedertaal en ek kan my daarin uitdruk. Ek glo dis my roeping om met kinders te werk wat ook sterk oor Afrikaans voel," sê Toshka. "My dosente, prof Pienaar, dr De Wet, prof Conradie, dr Lawrence en my boesemvriendin Amore help my om koers te hou met my studies."


"Afrikaans is die taal waarin ek droom, leef en myself verloor.  Afrikaans is wie ek is.  Dis die taal waarin ek soek en wonder, en ook waarin ek uiteindelik die antwoorde neerpen.  Afrikaans is vir my die eerste koffieteug in die oggend, die sagte reën in die nanag, en die wete dat ek tuis is." Só sê Jean-Marie Potgieter, wat aan Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn gematrikuleer het. "Daar het ek vier jaar Afrikaans gehad by juffrou Elmarie Niehaus en sy het beslis ’n baie groot rol gespeel in my taalkundige ontwikkeling. Sy het ons altyd uitgedaag, wat vir my baie stimulerend was en my op my tone gehou het. Tydens my universiteitsloopbaan het doktor Amanda Lourens my bewus gemaak van die uitdagings wat redigering kan stel en by my 'n liefde daarvoor gekweek."

Jean-Marie doen tans haar honneursgraad in Algemene Taalwetenskap by die Universiteit van Stellenbosch, met 'n bepaalde fokus op sintaksis. "Ek beplan om in my tesis te bewys dat reekswerkwoordkonstruksies (“serial verb constructions”) in Afrikaans voorkom en om hierdie konstruksies ook te beskryf," sê sy. Sy sal graag eendag van die akademie 'n loopbaan wil maak en beplan nou reeds om haar doktorsgraad in Algemene Taalwetenskap te verwerf.


Carla Lindt kom van Mitchells Plein in Kaapstad. Sy is 'n finalejaarstudent by UWK met sielkunde en Afrikaans en Nederlands as hoofvakke. Sy het veral 'n passie vir die taalkundemodule ontwikkel nadat sy kennis gemaak het met variasietaalkunde. Sy beplan om volgende jaar 'n honneurs aan te pak en dan haar onderwysdiploma te behaal sodat sy kan skoolhou.

"Omdat ek eintlik Engelssprekend is, is Afrikaans en Nederlands as hoofvak 'n groot uitdaging. Ek praat self Kaaps, die taal van my hart, en ek bestee geweldig baie tyd en aandag aan my studies sodat ek sukses kan behaal." 

"Ek woon by al 18 jaar lank by my tante. Sy het ongetwyfeld die grootste invloed op my akademiese vorming gehad, want sy ondersteun my altyd. Sy is self al vir meer as 30 jaar 'n onderwyser, en eendag wil ek ook die soort positiewe invloed op kinders kan uitoefen as wat sy op my gehad het."


Ons ander beurshouers is Marzanne Schoeman en Alida Cloete. Ons wens hierdie uitblinkers alles van die beste toe!

Die VivA-span

Maandag, 06 Maart 2017 21:49

Woorde wek, maar voorbeelde trek

Ken jy dié uitdrukking? Dis in die HAT opgeneem en dit beteken presies wat jy dink dit beteken: Dit wat jy doen, praat harder as dit wat jy sê.

Hierdie beginsel geld veral vir die kinders in ons sorg. Dis ʼn duur les wat ouers en opvoeders moet leer: Dit help nie ons verwag van ons kinders optrede, gedrag, gewoontes, lewenswyses, opvattings, uitkyke, insigte, beginsels en etiese kodes wat ons nie vir onsself aangekweek het nie. Om dit in ʼn moderne idioom te stel: ʼn Kind doen wat jy doen, nie wat jy sê nie.

Ek het onlangs met ʼn groepie skoolkinders te doen gehad wat aan ʼn redenaarskompetisie gaan deelneem. (Julle weet waarvan ek praat, dis elke jaar elke ouer en elke taalonderwyser se terugkerende nagmerrie.) Die kinders was gefokus, toegewyd, bitter intelligent en dwalend. Nie een het ʼn idee gehad waar om te begin navorsing doen nie en het by my opgedaag met blanko eksamenblokke, aan die hand van ʼn juffrou wat hulle in ʼn skoolkombi gelaai het en “kundige” hulp gaan soek het. Toe ek begin praat, het hulle almal verwoed begin notas afneem, toe ek vra watter bronne hulle al geraadpleeg het, het hulle my aangekyk asof ek van hulle verwag het om die wiel te herontwerp. Een het darem op ʼn kol vir my so effe verontwaardig gesê “Ons het gegoogle, tannie!”, maar daar was klaarblyklik ook nie genoeg onderskeidingsvermoë om die koring van die kaf op die wêreld se grootste rommelhoop (ja die internet) te skei nie. Ek het hulle so gekyk en gewonder of hulle dan nie verdien om aan een van die immer groeiende bende tollenaars uitgelewer te word wat skooltoesprake teen betaling skryf nie.

Ek lees William Faulkner het reeds in 1958 gesê dat Amerikaanse skole gedaal het tot die vlak van kinderoppassers. Gelukkig is die man dood, want ek kan my net indink wat hy van dié groepie te sê sou gehad het.

Hoor vir my, ek weet daar is onderwysers wat hulle werk doen. Ek weet daar is ouers en opvoeders wat opvoed en nie net afrig nie. Maar hulle is in die minderheid. Ons sit met ʼn geslag babavoëltjies wat net weet hoe om hulle bekke te rek en te wag vir klaar verteerde kossies om in hulle keelgatte af te gly. Hulle weet nie meer hoe om hulle weg na ʼn biblioteek te vind nie, en as hulle daar kom, weet hulle nie meer hoe om kennis daarin te ontgin nie. Erger nog, as dié inligting nie ʼn uitkoms vir ʼn leereenheid is nie (netjies saamgevat in ʼn kolpuntlys met oulike ikoontjies langsaan), stel hulle nie daarin belang om dit te ontgin nie. Kort voor lank sit ons met ʼn generasie wat dink die wêreld bestaan uit dit wat hulle deur oorlewering, fopnuus op Facebook en ʼn geskinder op Snapchat geleer het. En vir so ʼn generasie is dit moontlik, en selfs vermaaklik, om die korpus kennis, die magdom insigte en navorsing en die kosbare intellektuele erfenis wat oor baie eeue deur kundiges versamel is, te minag.

My vraag is: Waar staan jy in hierdie proses? Teken jy die ikoontjies? Verteer jy die kossies namens die jong denkers in jou sorg? Lei jy nog ʼn generasie grondsluipers op wat in hulle eie nes sit en mekaar warm dinges? Of maak jy soos die ma-arend, wat op die lip van die krans nesmaak sodat sy haar kroos kan grootmaak na die beste van haar vermoë, maar hulle dan uitskop sodat hulle kan vlieg?

Hou op om kinders se toesprake te skryf. Hou op om vir hulle toesprake te koop. Leer hulle dink, sodat hulle self kan toesprake skryf. En as hulle dan steeds nie kan toesprake maak nie, leer hulle om stil te bly. Nie almal hoef openbare sprekers te wees nie. Maar almal moet hulle vlerke kan sprei en met hulle eie kragte kan vlieg.