Sophia Kapp

Sophia Kapp

Maandag, 23 Mei 2016 02:00

Pos by die WAT

Neem asseblief kennis van hierdie pos by die WAT vir 'n ervare leksikograaf. Meer inligting in die dokument self.

Dinsdag, 17 Mei 2016 02:00

'n Taalkundige Perspektief

Daar is die afgelope tyd heelwat geskryf oor Afrikaans, die plek van die taal, die funksie van die taal en die toekoms van die taal. Vir ons, wat ons brood en botter daarmee verdien, is die gesprek nie bloot van akademiese of filosofiese belang nie. Elke insnyding, elke aanval daarop, elke poging om hom van sy funksies te stroop, is 'n daadwerklike bedreiging vir ons oorlewing.

Hoewel VivA nie in taalpolitiek as sodanig betrokke is of wil raak nie, is ons as individue nie onbewus van die implikasies van al dié verwikkelinge nie. Dit is dus goed om kennis te neem van kundiges wat wel oor die saak besin, en op 'n nugter en begronde manier daaroor redeneer.

Daarom hierdie skakel na Emeritusprofessor Willem J. Botha se blogblad 'n Taalkundige Perspektief, waar hierdie sake aangeroer word. Daar is 'n skakel heel onder aan die blad (http://vanuitdietaalkunde.blogspot.co.za/2016/04/afrikaansontmagtiging-en-moraliteit.html#comment-form) waar 'n mens kommentaar op die skryfsels kan lewer.

Woensdag, 23 Maart 2016 02:00

Terreur

Volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans het ons die woord “terreur” uit Nederlands geërf. Die Nederlanders het die woord en die konsep by die Franse gekry, toe daar van 1793 tot 1794 ʼn skrikbewind in dié land gevoer is om almal uit te wis wat moontlik ʼn vyand van die rewolusie kon wees, en almal stil te maak wat moontlik iets kon sê wat dit laat klink asof rewolusie nie ʼn goeie idee is nie. Die Franse het die woord uit Latyn gekry: “terrere”, wat beteken om te “laat bewe”. Ons sien duidelik ook die verband met die Engelse “terror”, wat ekstreme vrees aandui.

Volgens die HAT (sesde uitgawe) is terrorisme “skrikaanjaging/intimidasie deur dade van geweld”. Vir ons wat getuies was van die aanvalle op pendeltreine in Moembaai, ʼn woonbuurt in Beiroet, ʼn Russiese passasiersvliegtuig, ʼn treinstasie in Ankara, ʼn universiteitskampus in Kenia, ʼn museum in Tunisië, ʼn sportstadion in Parys, moltreine in Londen, ʼn skool in Pakistan, kleuters in Beslan, vakansiegangers in Bali en kantoorwerkers in Manhattan, is dit nie nuut nie. Ons weet hoe dit lyk en ons weet wat dit doen. En dis nie meer ver nie, en ons is nie meer onbetrokke nie. In ons migrerende, krimpende wêreld ken ons almal iemand wat moontlik direk deur die aanvalle geraak is. Dis hoe nou ons betrokke is.

Ek het nie raad vir ons wat geskrik het nie; en het nie raad vir ʼn wêreld wat so funksioneer nie. Ek het nie raad gehad vir ʼn bestel waar twee moondhede slote in ʼn moddernat mielieland grawe en maande lank oor en weer op mekaar skiet totdat een óf moedeloos óf bankrot raak nie. Ek het ook nie raad vir mense wat soos boorwurms en termiete ʼn samelewing ondergrawe en aanvalle op huisvrouens in ʼn mark en kinders loods nie.

Ek verstaan dit nie en ek wil dit nie verstaan nie. Maar ek weet wel hoekom dit gebeur. Nie oor ʼn beginsel of ʼn geloof of ʼn opvatting of ʼn lewenswyse nie, dis seker. Dit gaan oor mag. Oor hebsug en gierigheid. Oor baasskap. Oor wie die reg het om voor te skryf en room te skep. Oor toegang tot hulpbronne, oor die instandhouding of uitbou of afdwing van ʼn bestel waardeur die terroris oor slagoffers beheer kry.

En dit sien ek elke dag, nie net op die nuus waar noodpersoneel tussen wrakstukke en rook skarrel om stukkende mense weer aanmekaar gelap te kry nie, maar op Facebook, op Twitter, in ons eie parlement, in skole, in sportliggame, in korporatiewe vergaderings, waar mense sonder om te dink mekaar sal verwoes. Nie alle terroriste dra balaklawas nie.

My hart is vandag seer vir die Belge, want dis hulle wat hierdie keer moet optel en skoonmaak ná die verwoesting. Dis hulle wat hulle kinders moet troos en gerusstel terwyl hulle weet die wêreld is nie veilig nie. Maar my hart is eintlik seer vir elkeen van ons, wat in ʼn wêreld moet leef waar ons uitgelewer is aan boelies en swendelaars, aan narsissistiese beheervrate en gewetenlose uitbuiters, geweldenaars en afpersers, wat gryp en breek en verskeur en lekker kry as mense bloei. Mag ons iewers vandaan ʼn manier kry om mekaar te troos. Mag dit vir die slagoffers moontlik word om, met die hulp en ondersteuning van die stil meerderheid, te sê: genoeg. Ons gaan nie langer vir jou bewe nie.

Dinsdag, 08 Maart 2016 02:00

Beeldbiblioteek

’n Opwindende ontwikkeling in HAT Aanlyn- en Longman Online, Pearson se digitale woordeboekversamelings, is die verskillende nuwe oudiovisuele maniere waarop woordbetekenisse verklaar word.

As jy ʼn gereelde gebruiker van HAT Aanlyn is, het jy moontlik reeds die groeiende Beeldbiblioteek opgemerk (gaan loer gerus by U tot Z).

Wat is dit?

In papierwoordeboeke word die betekenisse van woorde gewoonlik slegs met woorde verduidelik – met behulp van ’n definisie en/of 'n vertaalekwivalent, met net hier en daar ’n eenvoudige illustrasie. Definisies word dikwels geskryf deur gebruik te maak van ’n beperkte definisiewoordeskat van ongeveer 2 500 woorde. Die veronderstelling is dat ’n beperkte woordeskat dit vir woordeboekgebruikers makliker maak om definisies te verstaan. Maar aan dié werkswyse is daar ook nadele verbonde: ’n Beperkte woordkeuse maak dit dikwels vir woordeboekmakers moeilik om fyner skakerings van betekenis te definieer.

’n Uitstaande kenmerk van die nuwe, elektroniese medium waardeur HAT- en Longman-woordeboeke sedert einde verlede jaar geraadpleeg kan word, is die multimodaliteit daarvan.

Vir die beskrywing van betekenis hou die nuwe Longman-HAT-portaal groot potensiaal in.

Hoe lyk dit?

In die lewende aanlyn woordeboek, bevry van die ruimte- en kostebeperkings van papier, kan HAT se redakteurs by omtrent elke trefwoord en betekenis wat hom daartoe leen, nou, intyds, as bykomende betekenisaanwyser, ’n foto of illustrasie voeg. Dikwels sommer ʼn hele paar. Die proses is reeds vlot aan die gang, en verskeie studies wys op die voordele daarvan.

In 1998 reeds het Hilary Nesie die doeltreffend van illustrasies ondersoek om die betekenisse van alledaagse huishoudelike voorwerpe oor te dra. Haar bevinding, toe reeds, was dat niemoedertaalsprekers wat op definisies en voorbeelde alleen moet staatmaak, dikwels selfs alledaagse voorwerpe nie korrek kan identifiseer nie. By die toevoeging van illustrasies tot die verbale verduideliking van betekenis vind sulke woordeboekgebruikers groot baat. 

A. Gumkowska (2008) toon aan dat leerders woordeskat wat deur illustrasies toegelig en ondersteun word, veel beter onthou. 

Beide Nesie en Gumkowska wys daarop dat die teenwoordigheid van foto's en ander illustrasiemateriaal tot die verwerwing van ʼn ruimer woordeskat bydra.

Deur sy stelselmatig groeiende foto- en illustrasieversameling, interessante videogrepe, klank- en animasiehulpmiddels bied HAT Aanlyn nou ’n nuwe ervaring: Woordeboekgebruikers, met inbegrip van onderwysers en leerders, word beter betrek, gehelp om woorde beter te verstaan, hul woordeskat uit te brei en addisionele kennis te verwerf.

Hoe klink dit?

Benewens die korrekte uitspraak van Engelse woorde en sinne (Afrikaanse uitspraakleiding kom mettertyd by), is daar (aan die Longman-kant) ook reeds ’n verskeidenheid nietaalkundige klanke bygevoeg. Werklike opnames van ʼn klok wat lui, ’n ghong wat slaan, ’n viool wat speel, ’n leeu wat brul, ’n uil wat roep ...  

Saam met die groeiende versameling foto’s, video’s en animasies dra ’n verskeidenheid oudiogrepe by www.hataanlyn.co.za verder tot verheldering van betekenis by. 

Verwysings

Gumkowska, A. 2008. The Role of Dictionary Illustrations in the Acquisition of Concrete Nouns by Primary School Learners and College Students of English. Ongepubliseerde BA-tesis. Szczecin: Collegium Baliticum

Nesie, Hilary. 1998. “Defining a Shoehorn: The Success of Learners’ Dictionary Entries for Concrete Nouns” In: Atkins, B.T.S. (red.). Using Dictionaries. Studies of Dictionary Use by Language Learners and Translators: 159-178. Lexicographica 88. Tübingen: Niemeyer

Woensdag, 10 Februarie 2016 02:00

Rondomtaal: "Waardig"

Jare gelede kyk ek na ʼn dokumentêr oor die lewe van Sir Winston Churchill. ʼn Dogter van hom vertel hoe hy ná die Tweede Wêreldoorlog Amerika toe is om te gaan vra vir ʼn lening sodat Brittanje kan herbou. Die Amerikaners was nie gretig om hom te ontvang nie, want hulle het geweet waaroor dit gaan, en die oorlog in die Stille Oseaan-streek het hulle self sleg getref. Hulle het elke sent self nodig gehad. Nietemin, Sir Winston kry ʼn spreekbeurt in die Huis van Verteenwoordigers, waar hy baie koel ontvang word. Geen tradisionele Amerikaanse lawaai nie, geen applous nie. Hy betree die podium, bekyk sy gehoor en sê: “I did not come here to ask for money.” Daar is ʼn gemurmel in die gehoor, toe so ʼn paar verleë siele wat hande klap. In die stilte daarna, sê hy: “For myself.” Een vir een het hulle opgestaan, die teensinnige Amerikaners, om hom die ovasie te gee wat hy verdien.

 

Ek onthou die staaltjie vandag nog, omdat dit vir my so ʼn vergestalting was van die mag van taal. Van die mag van opvoeding en goeie maniere. Van die kuns om ʼn onpopulêre standpunt aan jou teenstanders te verkoop.

 

Dis ʼn kuns wat aan die uitsterf is – vandag is die persoon wat die hardste skree en die doeltreffendste kan beledig die wenner. Oënskynlik. Ons leef in ʼn tyd wat aan ons besondere uitdagings stel. Ons leef in ʼn land en op ʼn kontinent wat besondere uitdagings stel. Ons praat ʼn taal wat besondere uitdagings in die gesig staar. Ons voel beleër, oorweldig, ons spartel om oorlewing. En dit voel vir ons asof ons nie gehoor word nie, want ons word doodgeskree.

 

Die vraag is: Hoe reageer ʼn mens op so iets? Wat is uiteindelik effektief?

 

Antwoord: Gaan kyk na die geskiedenis. Sir Winston het, op ʼn stadium manalleen, teenstand gebied teen een van die grootste orators wat die moderne geskiedenis geken het. Dié man was luidrugtig, het populistiese argumente gevoer en kon ʼn skare opsweep dat selfs intelligente mense sy retoriek gekoop het. Dis ʼn man wat ʼn nasie kon oortuig dat die geskiedenis waaraan hulle land onderwerp was geweld regverdig. Dis iemand wat ʼn volk, en ʼn wêreld, kon manipuleer om gruwels te aanvaar in die naam van nasiebou. Dis iemand wat boeke en kuns op dorpspleine verbrand het in die naam van kulturele reiniging.

 

Sir Winston kon hom dit nie nadoen nie. Hy was nie ʼn orator nie, hy het nie mense opgesweep nie. Al wat hy gehad het, was waardigheid. Hy kon net sy saak stel, rustig en kalm, maar met vasberadenheid, en sy werk na die beste van sy vermoë doen.

 

Leer by Sir Winston: Dis nie altyd nodig om die bekgeveg te wen nie. So ʼn onderonsie is gewoonlik opruiend, onredelik, aggressief en onwaardig, en dit bewerkstellig niks, buiten om aan die ander party die geleentheid te gee om jou nog ʼn slag te beledig. Al wat regtig nodig is, is om ʼn mens se saak te stel, rustig, met oortuiging, met begrip en geduld vir ander, natuurlik, maar boweal met waardigheid. Daarom: Wees waardig. Praat waardig. Skryf waardig. As jy deelneem aan debatte, bly waardig. Nie noodwendig omdat jou teenstanders dit verdien nie, maar omdat dit is wat jý is.

Maandag, 08 Februarie 2016 02:00

De Grote Taaldag

DE GROTE TAALDAG


Vanjaar se Grote Taaldag, ʼn gesamentlike inisiatief van die AVT, ANéLA en LOT, vind op Saterdag 6 Februarie 2016 in Utrecht plaas. De Grote Taaldag is ʼn kombinasie van die AVT se dag vir TIN (Taalkunde in Nederland) en ANéLA se dag vir TTiN (Toegepaste Taalkunde in Nederland).


Een van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se primêre doelstellings is die ontwikkeling van ʼn omvattende, vergelykende, wetenskaplike, aanlyn grammatika (fonologie, morfologie en sintaksis, asook ʼn bibliografie) van Afrikaans. Hierdie projek word in samewerking met die Nederlandse en Friese Taalportaal uitgevoer.


VivA sal ook by vanjaar se Grote Taaldag deur prof Bertus van Rooy, Afrikaanssintaksiskenner, verteenwoordig word. Prof Van Rooy bied ʼn lesing aan wat handel oor die verskille in werkwyses wat die verskillende grammatikaspanne volg om die grammatika van Afrikaans binne Taalportaal te skryf.


“Die benaderings wissel van 'n lokaliseringsbenadering, waar 'n Suid-Afrikaanse span die Nederlandse of Friese teks as basis neem en dan dit aanpas om van toepassing gemaak te word op die beskrywing van Afrikaans, tot 'n nuutskryfbenadering, waar 'n span die temas wat in die beskrywing van Nederlands as vertrekpunt neem, maar dan die beskrywing van Afrikaans van voor af skryf sonder om van die inhoudelike gedeeltes van die Nederlandse teks gebruik te maak. In so 'n geval dien die Nederlandse beskrywing as een van baie bronne en nie as die hoofbron nie, terwyl in die lokaliseringsbenadering die Nederlandse en Friese teks die hoofbron is, en ander bronne of analises se inligting daarby gevoeg word. In my lesing probeer ek enersyds die verskille beskryf, en andersyds verstaan hoekom mense verskillende benaderdings kies, en wat die implikasies daarvan mag wees,” verduidelik Van Rooy.


Prof Daan Wissing (NWU) en prof Ian Bekker (NWU) spits hulle toe op die beskrywing van die Afrikaanse fonologie, terwyl prof Gerhard van Huyssteen (NWU) en prof Piet Swanepoel (UNISA) fokus op die morfologiese aspekte van Afrikaans. Prof Bertus van Rooy, prof Haidee Kruger, prof Jac Conradie, prof Ernst Kotzé, prof Ilse Feinauer en dr Lande Botha is die Afrikaanse sintaksiskenners wat ook deelneem aan hierdie projek.


“'n Paar belangrike oorkoepelende doelwitte van Taalportaal is om vergelykbare inligting oor die grammatikas van verskillende tale byeen te bring, en ook om as bron te dien vir verdere, oorspronklike taalkundenavorsing. Die hoofgehoor van VivA is dus die gemeenskap van taalwetenskaplikes in die algemeen. Die Afrikaanse been wat deur VivA gesteun word, dra tot albei hierdie doelwitte by. Deurdat ons binne die taalportaalformaat oor die grammatika van Afrikaans skryf, is daar nou vergelykbare inligting met Nederlands en Fries beskikbaar, die twee tale wat die naaste familielede van Afrikaans is binne die stamboom van verwante tale. Hierdie bydrae ondersteun weer verdere navorsing wat vergelykende studies van die verskillende tale doen, en maak dit vir navorsers moontlik om ook na Afrikaans te kyk wanneer hulle wetenskaplike vraagstukke in die taalkunde ondersoek,” vertel Van Rooy.


Daar is reeds van die outeurs en moderators se werke gepubliseer op Taalportaal se webwerf: www.taalportaal.org.


Vir meer inligting rakende VivA se betrokkenheid by Taalportaal of om in verbinding te tree met een van die outeurs, skakel met Marlie Coetzee.

Só gesels Chanette:

Een ding wat die vertaling van Offerlam na Nederlands my geleer het, is nuwe respek vir Afrikaans.

Wat my veral opgeval het, is hoe soepel Afrikaans is, hoe dinge op vars wyses uitgedruk kan word sonder om jou vas te loop teen rigiede taalkonvensies. My vertaler het haar verstom aan die bondigheid waarmee ons ʼn gedagte of beeld oordra en moes soms ʼn paar sinne gebruik om te vertaal wat ek in ʼn enkele sin gesê het.

Nederlandse tydsverbuiging het my ook ʼn les geleer. Voorheen het ek dit altyd bekla dat die verlede tyd in Afrikaans so lomp is. Ook dat die gebruik van (historiese) teenwoordige tyd ʼn hele paar beperkings oplê as mens hoofsaaklik daarin skryf. Skryf jy in die verlede tyd, sit jy gou met ʼn barrage van “het ge-“-konstruksies en veroorsaak dit sommer gou ʼn gevoel van mededeling pleks van belewing. Skryf jy in teenwoordige tyd, moet jy onder meer die tydsverloop van die verhaal baie netjies beplan om nie heen en weer in die verhaalhede te beweeg en die leser te verwar oor wanneer wat nou eintlik gebeur het nie.

My vertaler het saamgestem dat ons in die Nederlandse vertaling ook die teenwoordige tyd gebruik. In ʼn storie is daar egter karakters se herinneringe aan dinge wat voor die aanvang van die verhaal gebeur het – soms in die onlangse verlede en soms in die verre verlede. Boonop is daar ook terugverwysings na gebeure wat in die verhaalhede plaasgevind het. En dis net daar waar ek agtergekom het presies hoe omslagtig en ingewikkeld tydverbuigings in ʼn ander taal kan wees.

Ek is nou innig dankbaar vir ons vereenvoudigde gebruik van tydsaanduiding en het van vooraf waardering vir die soepelheid van Afrikaans wat ons toelaat om bondig, vars en oorspronklik met ons taal om te kan gaan.

Maandag, 11 Januarie 2016 02:00

Veeltalige woordeboek (Pharos)

Suid-Afrikaanse veeltalige woordeboek

 

Die South African Multilingual Dictionary (SAMD) is die eerste woordeboek waarin interaktiewe vertalings vir al elf amptelike tale van Suid-Afrika in een volume verskaf word. Die woordeboek bestaan uit drie dele. Die eerste deel bevat sowat 3 800 Engelse woorde wat die kernwoordeskat van alledaagse kommunikasie insluit. Saam met die Engelse woord word ’n omskrywing van die woord gegee en dan volg die vertaling van die woord in die tien ander amptelike Suid-Afrikaanse tale. Die tweede deel bestaan uit algemene frases wat volgens temas ingedeel is. Die frases word eers in Engels gegee en dan volg die vertaling daarvan in die tien ander amptelike tale. Die derde afdeling bevat volledige indekse vir elke taal met bladsyverwysings na die hoofdeel van die woordeboek om naslaan te vergemaklik. Daar is plek agter in die boek vir gebruikers om nog woorde alfabeties by te voeg. Dit is perfek vir gebruik deur onderwysers, leerders, studente, gesondheidswerkers, personeel en toeriste.

 

Oor die skrywer:

Iolanda Steadman werk vir meer as twee dekades as ’n taalpraktisyn. Sy het ’n graad in joernalistiek en ’n MA-graad in Afrikatale. Sy spesialiseer in die samestelling, vertaling, redigering en produksie van verskeie Afrikataal-publikasies.

 

Uitgewer: Pharos

Prys: R199,95 (onderhewig aan verandering)

 

Indien jy meer inligting verlang, skakel met Henk Viljoen van Pharos by:

Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

+27 12 431 7460

082 5655 145

Hier is 'n lys met Afrikaanse hekelterme, die afkortings daarvoor, en die ekwivalente terme (met afkortings) wat in Amerikaanse en Britse patrone gebruik word. Die lys is nagesien en bygewerk deur hekelghoeroe Karen Adendorff Niemand (baie dankie, Karen!). Indien jy nog terme het wat op hierdie lys hoort, of wysigings aan die lys wil voorstel, skakel gerus met my by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

 

Lekker hekel!

 

Sophia

Donderdag, 10 Desember 2015 02:00

Afrikaans vir Almal

WEN met VivA!

ʼn Belangrike nuwe naslaanbron vir leerders, Afrikaans vir Almal deur Isabel Uys, het onlangs verskyn. Dit word uitgegee deur NB Uitgewers

Hierdie splinternuwe titel is die eerste taalnaslaanbron wat KABV-gebaseer is. Dit

bestaan uit twee dele. Die eerste deel sluit taalreëls en naslaanlyste in, en die

tweede deel bevat algemene kennisfeite oor Suid-Afrika en die res van die

wêreld.

KABV-vereistes vir Afrikaans Huistaal en Eerste en Tweede Addisionele Taal

vorm die basis vir die onderwerpe wat in dié boek bespreek word. Hierdie

onderwerpe sluit onder meer die volgende in: punktuasie, sametrekkings,

woordsoorte, letterlike en figuurlike betekenis, geluide van dinge en diere, tye,

sinonieme en antonieme, homonieme en homofone, en leenwoorde, om maar ’n

paar te noem. Dit bevat ook ’n lys met handige literêre terme soos hiperbool,

klanknabootsing en personifikasie, sowel as nuttige notas oor skriftelike werk.

Die tweede deel van die boek fokus op algemene kennisfeite soos die nasionale

simbole van Suid-Afrika, wie die wêreldleiers is, en groot uitvindsels van die

wêreld.

Oor die skrywer:

Isabel Uys is ’n oudonderwyseres en -skoolboekkeurder van Stellenbosch. Sy is die samesteller van ’n hele aantal studiegidse, veeltalige woordeboeke en feitegidse. Sy het twee ATKV-pryse verower. Baie van haar boeke is topverkopers en sommige is meer as 16 keer herdruk en bygewerk.

Prys: R245

Skakel met Henk Viljoen by NB Skolebemarking vir meer inligting. Sy adres is: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Wen ʼn kopie!

ʼn Gelukkige VivA-gebruiker kan ʼn kopie van hierdie bron wen. Hou ons Facebook-blad dop vir besonderhede en skryf op ons kompetisieblad in.