As Mariëtta Kruger die doyenne van Standaardafrikaans is, is Riaan Cruywagen die doyen. (En nee, die manlike vorm van “doyenne” is nié “doyhaan” nie ...)
Met sy toestemming verwerk ek ʼn vyftal kwessies wat hy aanstip:
| aaa | ![]() |
| Die doyenne en doyen van Standaardafrikaans |
- onderweg x aan die gang: Vervang altyd “onderweg” met “op pad” in ʼn sin om te sien of dit sin maak, byvoorbeeld “die vergadering is onderweg” werk nie lekker nie, want “die vergadering is op pad” is erg raar. Ons sê liewer “die vergadering is aan die gang”, of “die vergadering duur voort”.
(Terloops, die woordjie “onderweg” is waarskynlik die rede waarom so baie mense verkeerdelik *“oppad” vas skryf. Onthou egter dat “onderweg” eintlik die uitsondering is, terwyl “op pad” (net soos “op kantoor”) die gewone patroon is. “Onderweg” kom al uit Middelnederlands (onderwēghen) en Nieuhoogduits (unterwegs). Daardie -s in unterwegs dui aan dat dit ʼn bywoord (of byvoeglike naamwoord) is. - ontruim x red: In beginsel word slegs plekke ontruim (byvoorbeeld “die polisie ontruim die saal/dorp/berg”), of soms ook poste en ampte (byvoorbeeld “die parlementslid het sy setel ontruim”). Die saak is egter kompleks, want daar is niks fout nie met “Die ... premier ... en sy gesin is ... uit hul woning ... ontruim toe die polisie gedink het dat 'n motor wat voor die huis geparkeer was, 'n bom in gehad het” (sitaat uit die WAT). Mense kan dus ook uit ʼn plek ontruim word.
- oortuig x oorreed: Jy oortuig iemand van jou standpunt of die waarheid, maar jy oorreed iemand om iets te doen. In beginsel is “ek het hom oortuig om saam te kom” dus minder juis; ons sê eerder “ek het hom oorreed om saam te kom”. Maar dié twee loop natuurlik maklik deurmekaar, want “ek het hom van my standpunt oortuig dat dit beter vir hom is om saam te kom” is natuurlik betekenisgewys baie naby aan “ek het hom oorreed om saam te kom”. Die WAT haal byvoorbeeld vir Anna M Louw aan: “Hy laat hom, soos gewoonlik, nie deur my oorreed nie en my plan sterf 'n vroeë dood.” Aangesien dit hier oor ʼn plan gaan, sou ʼn mens eerder “oortuig” verwag het.
- te danke aan x te wyte aan: Eersgenoemde word in positiewe kontekste gebruik (“die goeie gees by die SAUK is te danke aan Hlaudi se afdanking”), laasgenoemde in ʼn negatiewe konteks (“die morbiede atmosfeer by die SAUK is te wyte aan Hlaudi se heraanstelling” – die hemele behoed ons!).
- verban x verbied: “Verban” beteken ongeveer “wegstuur”, terwyl “verbied” meestal vervang kan word met “belet”. “Man verban[weggestuur] uit Spur na onderonsie” is dus korrek, aangesien gewelddadige optrede verbied [belet] word.
En so bly Riaan ons onderrig ...
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 08 Julie 2017 verskyn.

