Spontaan oor die lippe

Geskryf deur Jana Luther Maandag, 10 Julie 2017
Gepubliseer in VivA;

Spreekwoorde, uitdrukkings, gesegdes – soms enkele woorde; meestal frases – is kragtige vorme van beeldspraak (vergelykings en metafore) wat kleur verleen aan die alledaagse taalgebruik van die moedertaalsprekers van ’n taal, dikwels sonder dat hulle eens daarvan bewus is.

Omtrent elke taal wat aan ons bekend is, beskik oor sy eie skat van idiome – wyshede en waarhede wat die ervaring, kulture en gebruike van vorige geslagte weerspieël.

Van Afrikaans se uitdrukkings en gesegdes – dié wat ons daagliks gebruik – is reeds etlike honderde jare oud; baie dateer uit vorige millennia. 

Heelparty Afrikaanse idiome kan teruggevoer word na die Griekse en Romeinse mitologie: achilleshiel (die plek of punt waar ’n mens swak of kwesbaar is; na Achilles, een van Homerus se Ilias-helde); adonis (’n aantreklike, pronkerige jong man; na die mooi geliefde van die godin Aphrodite); muse (’n bron van inspirasie; na die nege dogters van Zeus, die godinne van sang, digkuns en digterlike inspirasie) en so meer.

Sommige spreekwoorde is aan oeroue fabels ontleen: die sieke dra die gesonde (uit Esopus se fabel van Jakkals wat vir Wolf met sy seer lyf oorreed om hom na ’n nooi te abba); suur druiwe (na Esopus se verhaal van Jakkals wat die druiwe bo sy kop nie kan bykom nie en sy teleurstelling verberg deur te sê dis te suur); vir iemand sy/haar kastaiings uit die vuur krap (uit die fabel van die aap wat dit met die poot van ’n slapende hond gedoen het). 

Talle Afrikaanse uitdrukkings en gesegdes kom uit die Bybel: die ware Jakob (die regte persoon of ding; na aanleiding van Isak wat sy seun Jakob geseën het onder die indruk dat dit Esau, sy eersgeborene, was) (Genesis 27); die klein jakkalsies wat die wingerd verniel (klein dingetjies wat dikwels groot skade/hartseer veroorsaak) (Hooglied 2:15); die sondebok wees (onskuldig die skuld vir iets kry; na die bok wat simbolies met die volk Israel se sondes woestyn-in gejaag is) (Levitikus 16:22).

Nog ander idiome dateer uit die Middeleeue: in die stof byt (val/verloor/sneuwel; na aanleiding van die sandbedekte grasveld waarop die ridders van ouds hulle toernooie gehou en mekaar met steekwapens die stryd aangesê het); ’n blok aan iemand se been wees (sy/haar handelinge/vordering belemmer; na aanleiding van die swaar strafwerktuig van hout wat om die bene, en soms ook die arms en kop, van ’n gevangene geplaas is); iemand/iets aan die kaak stel (iemand ontmasker; sy/haar misdrywe bekend maak; iets onthul/oopvlek; na die houtstellasie teen die muur van ’n stadshuis of gebou waar skuldiges weens misdade soos bedrog, egbreuk, godslastering of meineed vasgeketting is, waar almal hulle kon sien).

Uit die tyd toe ons voorgeslagte nog na aan die natuur geleef het, kom uitdrukkings soos die hasepad kies (vinnig weghardloop/padgee; vlug soos ’n haas); so doof wees soos ’n kwartel (glad niks kan hoor nie; na aanleiding van boere wat eens geglo het dat kwartels, wat eerder grondlangs skarrel, doof is, omdat gevaar wat dreig, hulle nie dadelik laat opvlieg nie); so taai soos ’n ratel (’n dier bekend vir sy krag en uithouvermoë).

’n Klomp Afrikaanse uitdrukkings kan na die seevaart, en die lewe van matrose ter see, teruggevoer word: iemand van bakboord na stuurboord stuur (hom/haar dan hiernatoe, dan daarnatoe stuur; ontleen aan die bakboord, die linkerkant van ’n skip, en die stuurboord, die regterkant, as ’n mens na die stewe, die voorste gedeelte, van die vaartuig kyk); iets oor ’n ander boeg gooi (iets op ’n ander manier doen; ’n saak op ’n ander manier benader/aanpak; na aanleiding van die verandering van die seile wat ’n skip op ’n ander sy laat draai om van rigting te verander); iets van stapel stuur of laat loop (daarmee begin; waar die stapel die stellasie is waarop ’n skip gebou of herstel word, waarvandaan dit uit die skeepswerf te water gelaat word).

Uit die agrariese leefwyse van ons voorouers kom idiome soos agteros kom ook in die kraal (die stadigste kom ook klaar; wie laaste is, bereik ook sy/haar doel); goeie karperde wees (gesê van mense wat goed saamwerk); die voorbok/belhamel wees (by die doen van iets wat ongeoorloof is, die leiding neem).

By baie van die uitdrukkings hier bo kan ons die verband tussen die figuurlike betekenis en die oorspronklike, letterlike betekenis nog sien. Ander uitdrukkings – wat in moderne Afrikaans nog gereeld gebruik word – bevat woorde waarvan die oorspronklike betekenis reeds in die vergetelheid verdwyn het. Vergelyk byvoorbeeld iets op die lappe bring, op die lappe komLappe? Die oorspronklike betekenis van dié “lappe” was “skoensole”. Wanneer ’n mens iets op die lappe gebring het, het jy opgestaan, op jou voete gekom om die saak onder jou toehoorders se aandag te bring.

Van party spreekwoorde raak ons uiteindelik die draad egter heeltemal kwyt. Wanneer dit gebeur, raak so ’n uitdrukking in onbruik. Jonger sprekers ken dit dan nie meer nie, gebruik dit nie meer nie. Wat ’n mens bring by die vraag: Wat baat dit om leerders, op skool, dan steeds sulke verouderde gesegdes uit hulle kop te laat leer? Die herkoms van verdwene idiome mag wel interessant wees, maar om kinders spreekwoorde te laat leer wat gewoon te oud geword het en daarom onherroeplik uit die spreektaal verdwyn het, het tog geen sin nie: In die hedendaagse leefwêreld van rekenaars en die internet, slimfone en tablette, die sosiale media, tegnologie en globalisering gaan hulle sulke idiome in hulle dag des lewens nooit gebruik nie.

Waarom hulle nie liewer aan die werk laat spring om sulke ou uitdrukkings te probeer vervang nie? Waarom nie ons idiomeskat met nuwe spreekwoorde en gesegdes aanvul nie?

Ontstaan daar vandag nog nuwe idiome?

Prof. Rufus Gouws noem ’n hele paar wat, hoewel ons hulle steeds aan hul letterlike waarde kan koppel, toenemend ook oordragtelik (figuurlik) gebruik word: vinnig uit die blokke wees, in jou element wees, onder die radar beweeg, van die skerm af wees, die gevaarliggies sien flikker, die ligte is aan maar niemand is tuis nie; die groen lig kry.

Al is sommige van hierdie uitdrukkings leenvertalings uit Engels, verander dit geensins aan hulle trefkrag nie; Afrikaans ken en gebruik ook idiome uit baie ander tale. Maar: Dit behoort ons nie te verhinder om vanuit ons eie leefwêreld ook self, nuwe, oorspronklike idiome te skep nie.

Soos die Nederlanders!

In Junie 2011 was die hutsmerk #modernespreekwoorden in Nederland boaan die gewildheidslys, toe tientalle twitterraars spontaan moderne variasies op klassieke spreekwoorde begin twiet het. Van die nuwe idiome waarmee hulle in dié maand vorendag gekom het, is onder meer: “Een dag niet getwitterd, is een dag hard gewerkt" (mens kan dit seker ook van Facebook sê); “Wie de tweet niet eert, is de retweet niet weerd”; “Een moederbord voor je kop hebben”; “De beste providers staan offline”; “Van de hash op de tag springen”; “Eén emoji zegt meer dan duizend woorden”.

Op Twitter is die speletjie daarna voortgesit, deur @modernegezegden, wat vandag steeds meer as 79 000 (!) volgers het.

Om na nog nuwe spreekwoorde en gesegdes te soek, het die Nederlanders ook ’n kompetisie van stapel gestuur: Paarse Krokodillentranen. Weekliks is bekende persone – taalliefhebbers en woordkunstenaars – gevra om vir ’n ou spreekwoord ’n nuwe baadjie aan te trek. Op Facebook het in 2015 ruim duisend mense vir hulle gunstelingidioom gestem en die beste woordkunstenaar is tydens ’n regstreekse uitsending as “Grootste Taalvirtuoos van Nederland" bekroon.

Dat 2015 se Taalvirtuoos die Nederlandse rapper Rico was, verbaas my glad nie, want by rymkletsers, vermoed ek, word nuwe spreekwoorde en gesegdes dikwels nie uitgedink nie, maar ontstaan hulle spontaan.

Gaan luister gerus na van die snitte in Afrikaans se eie Rymklets Republiek (wat ons te danke het aan die Afrikaanse hip-hop-blogger Arthur Price). Dié webwerf (’n “billboard van streeksdialekte”) bied aan Afrikaanse hip-hop-kunstenaars ’n plek waar hulle hulle musiek kan publiseer, en waar ons na ’n viering van verskillende vorme van Afrikaans kan gaan luister. Ja, nie alles op hierdie platform sál die goedkeuring wegdra van “fêncy Afrikaanse taalpuriste (daai soort wat die ateljee bel om vir Amore op RSG te korrigeer oor alles wat die arme vrou sê!)” nie, soos Anna Greenfield hier waarsku, maar gelukkig het Arthur, en baie Afrikaanses saam met hom, ’n “lekker oopkophouding oor hoe woorde en taal ontwikkel” “in dié baarmoeder van nuwe woorde”, soos die gewilde rapper Jitsvinger, in 2016, tydens ’n Woordpret-funksie van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT) op Stellenbosch, na rymklets in Afrikaans verwys het.

Hou jou plat soos die aarde”, spits jou ore, en luister hoe eg Afrikaanse uitdrukkings spontaan oor die lippe rol van rymkappers soos Churchill en Linkris, Mister DIY, Gakkie, BreiMasjien, K-Rhyme, Imie Vanie Delf, Blikskottel, SpookAsem, en talle ander wat spreekwoorde terug in die volksmond sit: Hulle “kook soos rys” en ons “hang aan hulle lippe soos pasiënte aan ’n drup” wanneer hulle rap van ’n man tussen hakies druk; die dinge wat ’n mens se brein omploeg; hoe dit voel om in jou kop gekaap te wees; hoe iemand se woorde/ondersteuning jou kan abba; van ouens wat ’n wolkie maak, soos witblits verdamp, en nommers wat hul vyande witb(i)ene los.

Het jy onlangs ’n nuwe Afrikaanse uitdrukking gehoor, of self ’n nuwe idioom geskep? Laat weet ons daarvan. Skryf dit in vir Varsgebek; vertel ons daarvan op Facebook; of twiet dit vir ons, vergesel van die hutsmerk #Varsgebek.

Lees 495 tye Laaste modifikasie op Dinsdag, 11 Julie 2017 16:42

NUUSARGIEF

FACEBOOK