Die navorsingspan se primêre belangstelling is in die ooreenkomste en verskille tussen dieregeluid en mense se nieverbale uitinge (vokaliserings deur lag, huil, gil, kreun, ensovoorts). Die basiese uitgangspunt is dat sulke nieverbale uitinge baie ouer en meer basaal as gesproke taal is, en dat navorsing daaroor dus vir ons insig in die ontwikkeling van onder andere taalfunksies en taalsisteme kan gee.
Hulle data is 367 steunkrete van sewe mans en sewe vroue uit die top 30-spelers van die wêreld. Aangesien die akoestiese grondtoon (F0) met stembandtrillings tydens produksie én toonhoogte tydens persepsie korreleer, gebruik hulle die F0-inligting om bepaalde afleidings te maak.
Hier is hulle belangrikste bevindinge:
| aaa | ![]() |
| Steunkrete in aksie |
- Die toonhoogte (F0) van die steunkrete korreleer met die geslag van spelers, maar nie met ouderdom en liggaamsgrootte nie. Jy kan dus nié uit ʼn speler se steunkreet aflei hoe oud of hoe gespierd hy/sy is nie.
- Die F0 van afslane is hoër as dié van onderskeidelik voorarm- en rughandhoue.
- Die F0 verhoog na mate die wedstryd verloop. Hoe later, hoe kwater ...
- En les bes, hoe hoër die steunkreet, hoe groter die waarskynlikheid dat ʼn speler die wedstryd gaan verloor!
Die interessantste deel van laasgenoemde bevinding is dat daar nie ʼn statisties beduidende verskil tussen die verloordersteunkreettoonhoogte aan die begin of aan die einde van wedstryd is nie. Dis asof fisiologies en psigologiese faktore reeds vroeg in (of selfs voor) die wedstryd gemanifesteer word. Ons kan dus sommer gou in ʼn wedstryd voorspel wie gaan wen.
Maar, hokaai, voor jy roekeloos geld gaan begin wed op tenniswedstryde: Die wetenskaplike proses moet eers sy loop neem.
Die ink van die artikel was nog skaars koud, toe trek taalkundiges op Language Log los en fynkam die data en bevindinge. Vir Mark Liberman lyk dit asof mansverloorders se steunkrete wel ʼn hoër toonhoogte het, maar dat vroueverloorders sʼn dalk juis laer is. Boonop moet ons versigtig wees om te veralgemeen: Meer data van individuele spelers moet ingesamel word om te kyk wat die patroon oor verskeie wedstryde heen is.
Hoe dan ook, ek steun Martina Navratilova (kampioen der kampioen!) wat gesê het: “The grunting has reached an unacceptable level. It is cheating, pure and simple. It is time for something to be done.”
Verwysing: Raine, J, Pisanski, K & Reby, D. 2017. Tennis grunts communicate acoustic cues to sex and contest outcome. Animal Behaviour. 130:47-55.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 15 Julie 2017 verskyn.

