Koerante, tydskrifte is voedingsbron vir Afrikaans

Geskryf deur Jana Luther Sondag, 16 Julie 2017
Gepubliseer in VivA;

In alle tale gaan ontwikkeling en verandering met nuutskepping gepaard: die vorming van nuwe woorde vir nuwe dinge. Om in hedendaagse bronne, soos die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal en die nuwe Afrikaanse woordelys en spelreëls, eietydse taalgebruik akkuraat te weerspieël, moet ons nie net speurtogte onderneem in groot korpusse van geskrewe Afrikaans nie, maar daagliks ook die gedrukte én die niegedrukte media fynkam.

Die ekserpering van nuwe woorde en uitdrukkings vir nuwe idees, gebeurtenisse en uitvindings maak van my dagtaak as leksikograaf ’n belangrike onderdeel uit: die deurblaai van boeke, koerante en tydskrifte (sowel e- as p-publikasies); deesdae ook webblaaie en blogs, plasings op Facebook en twiets en dies meer; dikwels met die radio of televisie, ’n Afrikaanse podsending, liedjie of kletsrym op die agtergrond; want vir opname in die HAT, ook in die aanlyn HAT, én in die AWS, is die vind van genoeg bewyse – dat nuutskeppings in genoeg verskillende bronne gebruik word om hulle insluiting te regverdig – ’n belangrike vereiste.

Nuuskierig oor wat alles op ’n woordeboekmaker se radarskerm verskyn?

Hier is ’n paar voorbeelde van woorde en uitdrukkings wat die afgelope week my aandag getrek het en nou op die HAT se dophoulys is (in geen spesifieke volgorde nie):

Semigrasie, semigreer, semigrant

“SA het ’n nuwe semigrasie-bestemming.” Dit is die opskrif van Elma Kloppers se berig (Netwerk24, 14 Julie) oor die Wes-Kaap wat nie meer Suid-Afrika se “enigste gewilde semigrasie-bestemming” is nie. Deesdae stroom semigrante glo ook “na die groener weivelde van die noordkus van KwaZulu-Natal”.

By nadere ontleding, ook van ander berigte en tekste, kom ek agter dat die woord “semigrasie” reeds geruime tyd in die Suid-Afrikaanse eiendomsmark gebruik word, veral met verwysing na mense uit middel- tot hoërinkomstehuishoudings in Gauteng. As dit vir hulle te duur is om die land te verlaat en hulle in ’n ander land te vestig (te emigreer), verkoop hulle hulle huise en verhuis na ander gebiede in hulle eie land (semigreer).

Paragiopagurus atkinsonae

So heet ’n “unieke kluisenaarskrap met groen oë en ’n sagte, lewende skulp op sy rug” waarvan Elsabé Brits (Netwerk24, 13 Julie) vertel. Paragiopagurus is die wetenskaplike naam van ’n familie kreefagtige diere en dié nuwe spesie – atkinsonae – is genoem na die mariene navorser, dr. Lara Atkinson, wat dit onlangs aan die Kaapse Weskus ontdek het.

Nasionale geïntegreerde assesseringsraamwerk (NIAF)

Met hierdie naam en (sy Engelse) afkorting word die nuwe stelsel benoem waarmee die Departement van Basiese Onderwys (Netwerk24 skryf departemente se name met kleinletters) sy omstrede “jaarlikse nasionale assesseringstoetse” (die “ANA’s”) wil vervang. Elaine Swanepoel berig daaroor (9 Julie): Volgens die nuwe plan sal die department leerders se wiskundige en taalvermoëns voortaan glo toets in drie verskillende eksamens, wat glo net een maal, al om die drie jaar, deur leerders in graad 4, graad 6 en graad 9 afgelê gaan word.

Soos ’n hamster op ’n trapmeul

Dié nuttige uitdrukking kom van die ekonoom Mike Schüssler. Vida Booysen (Netwerk24, 13 Julie) haal hom so aan: “Die prentjie wat jy in jou kop moet sien van die Suid-Afrikaanse ekonomie is dié van ’n hamster op ’n trapmeul – hy trap laat dit klap maar gaan nêrens heen nie.”

Soos ’n hamster op ’n trapmeul wees” dui dus vergeefse moeite aan; gesê van iemand wat hom/haar inspan, maar geen vordering maak nie; iemand wat hard werk, maar nêrens kom en niks bereik nie.

Gebrokehartsindroom, streskardiomiopatie, stresgeïnduseerde kardiomiopatie, takotsubo-kardiomiopatie, takotsubo

Ná die tragiese dood van die joernalis Suna Venter het verskeie publikasies, onder andere Netwerk24 (Elsabé Brits) en Huisgenoot (Jana van der Merwe en Jana Smit), die oorsprong nagevors van die informele woord (“gebrokehartsindroom”) waarmee die oorsaak van haar sterfte aangedui is.

“Ja, jou hart kán medies gesproke breek,” berig Elsabé (11 Julie) nadat sy by kenners gaan kers opsteek het oor dié toestand, wat (volgens die twee Janas) moeilike asemhaling, skielike borspyne en floutes veroorsaak: “In leketaal staan dit bekend as gebrokehartsindroom, maar in die mediese wetenskap word dit streskardiomiopatie of takotsubo-kardiomiopatie genoem. […] ’n Takotsubo is ’n pot waarmee die Japannese seekatte vang. En toe ’n Japannese kardioloog dié toestand in 1990 vir die eerste keer waarneem, het ’n deel van die hart [waarvan die linkerventrikel met elke hartklop soos ’n ballon opgeblaas het] vir hom nes so ’n pot gelyk, nes ’n takotsubo.”

Huisgenoot (13 Julie) verwys na dié toestand ook as “stresgeïnduseerde kardiomiopatie”.

Webskelms, kuberafpersing, afpersware, boosware, smishing, uitvissingwebtuiste

In Huisgenoot (20 Julie; die uitgawe wat tans op die rak is) doen Pieter van Zyl (bl. 22–24) deeglik en uitgebreid oor webskelms se streke verslag. Hy verduidelik onder meer wat “kuberafpersing” alles behels: “die misdaad waar skelms rekenaars of hele rekenaarstelsels onbruikbaar maak deur die inligting daarop met afpersware (ransomware) te enkodeer. Dan eis hulle ’n vet losprys om die kode te ontsluit sodat jy weer die rekenaar kan gebruik. […]

“Net soos krakers rekenaarvirusse en ander boosware (malware, afkorting vir malicious software) gebruik om te roof en plunder en lewens te versuur, is afpersware ’n magtige wapen wat selfs regerings en groot organisasies kan kelder.”

En waar daar “boosware is, het ’n mens natuurlik ook “booswarebeskerming” in die vorm van “teenbooswareprogrammatuur” nodig.

’n Kuberkraakterm wat nog ’n gepaste Afrikaanse vertaling moet kry (of gaan hy die “app”- en “sms”-pad loop?) is “smishing”. Pieter (en Huisgenoot se teksredakteurs) omskryf dié kuberroofstrik soos volg: “Dis waar sogenaamde TinyURL-skakels (verkorte internetskakels) by ’n SMS-boodskap ingesluit word waarop jy uitgelok word om te klik. Moenie klik nie!” 

Vir die term phishing, waar ’n webblad ’n mens se inligting probeer steel, word die mooi Afrikaans “uitvissingwebtuiste” gebruik.

Lees gerus dié leersame artikel en hou jou inligting veilig.

Hommeltuig

Hierdie neologisme dateer uit 2015, en is dus nou nie meer so nuut nie, maar hy bly interessant, vir my, omdat dit my telkens opval hoe vinnig hy versprei en ingeburger geraak het. Deesdae, so voel dit vir my, duik daar ’n hommeltuig op in omtrent elke koerant en tydskrif wat ek deurblaai, soos ook dié week weer die geval was:

  • In Dubai gaan die owerhede glo binnekort ’n vloot robotmotors vir wetstoepassing inspan, elk met “sy eie hommeltuig, sou hy oor ’n muur wou kyk” (Netwerk24, 13 Julie).
  • “Die jongste truuk is om ’n hommeltuig met ’n Wi-Fi-versender op ’n gebou se dak te laat land. Verbind jy daaraan, onderskep die boewe jou data” (Pieter van Zyl, Huisgenoot, 20 Julie).
  • By Schweizer-Reneke gebruik boere nou ’n hommeltuig om hulle doeltreffender te help patrolleer; en hommeltuie is ook “die valskodlingmot se moses” (Landbouweekblad, 21 Julie).
  • In SA Jagter (die Augustus-uitgawe) pryk daar ’n hommeltuigfoto wat deur ’n leser van Rooikraal geneem is.

’n Hoogs geslaagde nuutskepping, dus, wat die toets van verspreiding en frekwensie met vlieënde vaandels slaag.

meem

Ten slotte, dalk net gou nog kommentaar op Murray Louw (“Kyk: Trump en CNN takel mekaar in *meme-oorlog”) se gebruik van dié woord Vrydag. (Netwerk24 se subs kan ook maar oplet.):

Meem (meervoud: meme), soos dit opgeneem is in die pas verskene, nuwe AWS, beteken hier: een van daardie groot, lelik getekende, grynslaggende of skreeuende gesigte wat ’n mens dikwels in die sosiale media sien, wat gebruik word om honend of sarkasties met iemand of iets die spot te dryf" (vergelyk die derde betekenisonderskeiding in HAT6).

Die Engelse neologisme meme (meervoud: memes) is in 1976, lank gelede, dus, deur Richard Dawkins geskep.

In plaas van te skryf “Pres. Donald Trump is welbekend in die onvoorspelbare webwêreld van *memes” en dat die New York Times oor die vervaardiger van ’n *meme geskryf het, kan Netwerk24 gerus die gebruik van die Afrikaanse meervoudsvorm (meme) en die Afrikaanse enkelvoud (meem) oorweeg.


* * *

Van ons woordeboekmakers:

Dankie aan elke Afrikaanse joernalis, vertaler en sub wat nié maar net uit Engels oorskryf nie, maar wat in die vormingsproses van nuwe woorde steeds ’n noodsaaklike, skeppende rol bly speel; dikwels in moeilike omstandighede.

Dankie aan elke Afrikaanse publikasie, radio- en TV-stasie wat voortgaan om, binne ’n kort tyd, neologismes aan duisende Afrikaanslesers en -luisteraars te versprei.

Staan sterk! Julle is vir Afrikaans ’n onmisbare voedingsbodem.

 

Lees 372 tye Laaste modifikasie op Maandag, 17 Julie 2017 08:42

NUUSARGIEF

FACEBOOK