Sophia Kapp

Sophia Kapp

Ons bied tans werkwinkels oor ons grammatika aan. Lekker inligting vir onderwysers wat spesifiek help om die diskrepansies tussen ons skoolgrammatika en die inligting in (sommige) skoolhandboeke uit te wys en te bemiddel. In hierdie werkwinkels kry onderwysers die regte informasie oor die kwessies, en die geleentheid om met taalkundiges daaroor te gesels.

Ja, jy het reg geraai. Groot viesigheid oor die twee woorde. In so 'n standhoudende stroom. Druppende kraan. Dit het uitmergelend geraak om aan elke beswaarde 'n antwoord te skryf, daarom plaas ek die antwoord hier in 'n blog, sodat ons kan kyk of ons die saak vroegtydig in der minne kan skik (en daar is nou vir jou 'n Nederlandisme as jy nog nooit een gesien het nie).

Woensdag, 10 Augustus 2022 14:35

VivA stel 'n nuwe app bekend!

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het pas ’n splinternuwe slimfoontoepassing (of app) bekend gestel wat spesifiek geskep is vir gebruikers wat sukkel om Afrikaans te bemeester.

Die app bevat tekste wat oor die skerm rol terwyl ’n stem dit hardop voorlees. Op dié manier word die verband tussen Afrikaans se klankstruktuur en die geskrewe taal vir gebruikers vasgelê. Jong lesers wat sukkel om te lees en taalaanleerders wat nie genoegsame blootstelling aan Afrikaans kry nie, kan met hierdie app hulle beheersing van gesproke en geskrewe Afrikaans verbeter.

Die app is in Afrikaans deur Gustaf Tempelhoff van VivA ontwikkel. “Hierdie app is ’n mylpaal,” sê hy. “Dit het groot uitdagings gestel, maar dit gee ook groot bevrediging om te weet ’n mens skep iets wat vir die hele taalgemeenskap nuttig gaan wees.”

Gustaf het reeds VivA se webblad onder hande geneem sodat dit meer toeganklik is vir blinde en swaksiende gebruikers, en die app is ontwikkel met skermleserbeskrywings wat met toeganklikheidsagteware versoenbaar is. Die app het ook ’n aantal eienskappe wat dit besonder gebruikersvriendelik maak – dit slaan outomaties oor na die donker modus indien dit in die aand gebruik word, en dit kan in die agtergrond speel terwyl ander apps gebruik word.

Die tekste in die biblioteek is lekkerleesstories wat deur bekende skrywers aan VivA geskenk is, en al die stories word deur professionele stemkunstenaars voorgelees. Daar is ook ’n hele aantal Wikipediatekste vir gebruikers wat meer by feitetekste aanklank vind. In hierdie tekste is daar verklarings en vertalings van sekere woorde en uitdrukkings, wat dit veral vir taalaanleerders geskik maak. Die tekste is vir kinders en volwassenes gegroepeer en in vaardigheidsvlakke gekategoriseer sodat gebruikers die tekste kan kies waarby hulle die meeste kan baat.

Die ATKV het ruim bygedra tot die ontwikkeling van die app. Gerrie Lemmer, Uitvoerende Hoof: Kultuur van die ATKV, sê: “By die ATKV besef ons watter belangrike rol boeke en letterkunde in die ontwikkeling en vooruitgang van Afrikaans speel, want dit beïnvloed ons denke, verbreed ons wêrelde en maak ons harte oop. Met hierdie toepassing maak VivA vir ons taal vriende.”

VivA hoop om met hierdie app sy aanbod aan die Afrikaanse taalgemeenskap te versterk en uit te brei. “VivA is besonder bevoorreg om die steun van ’n organisasie soos die ATKV en van die taalgemeenskap self te hê,” sê Marlie Coetzee, VivA se besturende direkteur. “Ons werk met hart en siel vir Afrikaans, en ons glo dat hierdie app die taal op ’n lekker en gemaklike manier vir al sy sprekers meer toeganklik maak.”

VivA se Lees-en-luister-app is tans vir Android-toestelle beskikbaar in jou gewone app-winkel. Gebruikers laai die app af en registreer eenmalig. Bestaande VivA-gebruikers kan aanteken met hulle bestaande besonderhede. Laai die app by hierdie skakel af.

Dit is ’n lewende projek, en die inhoud word gereeld bygewerk. Gebruikers kan dus gerus elke maand inloer om te kyk watter nuwe tekste in die biblioteek verskyn.

VivA-groete

Sophia

Donderdag, 02 Junie 2022 10:55

Om te -de of te -te

Trefwoorde: voltooide deelwoord; verlede deelwoord

Een van die taalnavrae wat nogal baie in my virtuele inmandjie beland, is hoe ’n mens bepaal of ’n voltooide deelwoord ’n -te of -de kry.

Vrydag, 13 Mei 2022 10:25

Hoe koel is "cool"?

Ek kry die afgelope week of wat skielik heelwat navrae oor die gebruik van die woord cool. Mag ‘n mens die woord gebruik? Wanneer mag ‘n mens die woord gebruik? Hoe skryf ‘n mens die woord as jy hom gebruik?

Woensdag, 02 Maart 2022 10:41

Die debat oor taalkwessies

Die afgelope week was vir taalwerkers uitdagend. Daar het in die pers en op sosialemediaplatforms ʼn bakleiery losgebars oor spelling wat ons behoorlik laat bontstaan het. Is die man nou Wladimir Poetin of Vladimir Putin, en wie of wat is jý nou as jy die een of die ander spelvorm voorstaan?

Nota: Hierdie blog is geskryf met die medewete en goedkeuring van die voorsitter van die huidige Taalkommissie, me Suléne Pilon. Die inligting hierin is gebaseer op ʼn konsepweergawe van ʼn nuwe hoofstuk 20 van die Afrikaanse woordelys en spelreëls, wat handel oor die skryfwyse van woorde van vreemde herkoms.

Donderdag, 24 Februarie 2022 16:44

'n Wenk het nie tande nie

Ek wil ʼn ding sê en ek gaan hom sê.

Trefwoorde: woordeboeke; Woordeboekportaal; Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal; eHAT

Ek kry hier sommer so met die intrapslag van die nuwe jaar 'n vraag van 'n gereelde gebruiker wat ek regtig nie wil beantwoord nie: Hoe maak 'n mens met ander mense wat verkeerd skryf? Kyk nou net hoe lyk die skryfwerk deesdae op sosiale media – dis om van skeelhoofpyn te kry, so wemel dit van die spelfoute en anglisismes. Hoe kry ʼn mens hierdie klomp knoeiers om reg te skryf?

Donderdag, 09 Desember 2021 08:57

Dankie

En skielik, sommer so eensklaps, is dit Desember. Nee wag, ek is anderdag laat weet dis nie net Desember nie, dis Dezemba, want in Suid-Afrika is dit nie sommer maar net 'n maand nie, dis 'n gemoedstemming. 'n Ingesteldheid. Dis 'n tyd vir vrolikheid en feesviering, dis 'n tyd om die griewe en beswaardhede van die jaar af te lê en om moed te skep vir wat ook al vorentoe wag.

Bladsy 1 van 17