As jy teen dié tyd nog nie gehoor het van die gloednuwe Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) nie, was jy waarskynlik met vakansie in die boendoe.
Donderdagaand 3 Augustus 2017 is dié eeufeesuitgawe by ’n luisterryke geleentheid op die dak van die Media24-gebou in Kaapstad bekend gestel. RSG het die bekendstelling regstreeks uitgesaai, Coenie de Villiers het ’n opreggeteelde hond uit ’n bos uit gesing, die kameras het gerol en geflits, daar is feestelik gefuif en gebras. Die uitgewer, Pharos Woordeboeke, het geen geld en moeite ontsien nie om dié Afrikaanse prestasie met luide geskal te vier.
“Karlien se twiete maak Derick lam” (Rapport, 13 Desember 2015)
As daar ʼn Madame Tussauds vir koerantkoppe was, was hierdie ene definitief daar verewig.
Waldimar Pelser (redakteur) en Andries Gouws (uitlegsubredakteur) moet die erkenning kry vir dié kreatiewe uitdinksel. Wat dit nóg snaakser maak, is dat “twiete” volgens die Afrikaanse woordelys en spelreëls eintlik verkeerd is; dit moet na regte “twiets” wees.
So 'n rukkie gelede gewaar ek op 'n taalforum 'n vieserige vraag: Hoekom is dit alewig vir Afrikaanse taalvoorskrywers nodig om die name van stede of geboue in die buiteland te vertaal? Dis so 'n simpel ding om te doen, kla die klaer – almal weet mos waar London is; die enigste mense wat omgee dat dit eintlik “Londen” in Afrikaans is, is eksaminatore wat jou met slap rieme wil vang of subredakteurs wat wil lyk asof hulle hulle salarisse verdien.
Die sanger-akteur Bouwer Bosch se mediaprofiel het die afgelope paar weke die hoogte ingeskiet. Sy #Versoening-video’s met Phindile Dhlamini en Hemelbesem het Suid-Afrikaners behoorlik aan die gons.
Daar is ʼn groepie mense wat op ʼn intellektuele vlak met Bouwer se inisiatief omgaan; vergelyk byvoorbeeld digter-joernalis Danie Marais se mening van 12 Julie 2017 op Netwerk24.
Dan is daar diegene wat hom blindelings steun met kommentaar soos “Duuuuuuude. Dis AWESOME!!!” en “Dankie Bouwer. Jesus se werk is versoening.”