Vra Isa Marx via e-pos: “Waarom skryf ons “lankmoedig” en “blymoedig”, maar “armoedig” en nie “*armmoedig” nie? Dit lyk eenvoudig, maar het my goed aan die dink gesit.”
Die geval “armoedig” en sy basisvorm “armoede” is (vir bleeksielakademici soos ekke) gewoon vreugdeskos om dae lank serebrale rittels van te kry ... #siestog
“Armoede” is ʼn baie ou woord in die Germaanse tale en kom steeds voor in Nederlands (armoede; ook armoe, maar dan met ʼn ander betekenis), Duits (Armut), Sweeds, Noors en Deens (al drie armod), Jiddisj (אָרעמקייַט, oftewel oremkayt) en Fries (earmoed).
Een van die gereeldste (en lastigste) navrae wat ek kry, is oor intensiewe vorme. Versamelname, vergelykings en intensiewe vorme is groot griewe, vir onderwysers, vir leerders, en vir hulle ouers wat moet help huiswerk doen, want dié goed het in die taal versteen geraak en die jonger geslag moet hierdie gesteentes in hulle sakke dra ingeval hulle dit sou nodig kry. En soms beland daar 'n vraag in die toets of die eksamen waarop daar nie 'n antwoord uit 'n agtersak te haal is nie, want die vraagsteller het iets uit sy/haar duim gesuig eerder as om staat te maak op die lys relikwieë agter in die handboek.

In Neerlandistiek.nl skryf Marc van Oostendorp vanoggend, onder meer
, oor Nederlandse sinne soos die volgende:
Hij zit zich vreselijk op te winden.
(Hy sit hom vreeslik en opwen.)
Ik zit me al weken te vervelen op Vlieland.
(Ek sit my al weke op Vlieland en verveel.)
Wat is die vernaamste verskil tussen dié Nederlandse en Afrikaanse sinne?
Sug ʼn resensent by my: “Die subredakteurs is leesbaarheidskoppeltekenbehep,” toe ek hom vra waarom hy “verskroeide-aarde-beleid” (met koppeltekens) in plaas van die meer korrekte “verskroeideaardebeleid” geskryf het.
Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) probeer om so ver moontlik vir gebruikers vaste reëls te gee om in skryfwerk toe te pas. Variasie en uitsonderings is egter deel van enige taal, en daarom word hoofstuk 17 in die AWS gewy aan wisselvorme: “doktore” is korrek naas “doktors”; beide “aangehegte” en “aangehegde” is korrek; en so meer. Op ander plekke in die AWS word wisseling ook eksplisiet vermeld, soos byvoorbeeld dat “Mbombela Stadion”, “Mbombela-Stadion”, “Mbombela-stadion” en “Mbombelastadion” almal korrek is.
Dis juis die koppelteken wat dikwels tot variasie in die skryfwyse lei. In wese beteken die koppelteken dat twee woord(dele) vas aan mekaar gekoppel word: daar is geen betekenisverskil tussen “Mbombela-stadion” en “Mbombelastadion” nie.
Stormloop die egpaar Johan en Nellie de Beer my onlangs by ʼn bekendstellingsgeleentheid van die nuwe Afrikaanse woordelys en spelreëls: “Is daar ʼn fout by pom-pom en pompon in die AWS?”
“Pompon?” vra ek beterweterig. “Dis tog nie ʼn woord nie?”
“Kyk maar,” hou hulle vol, “daar op bladsy 460.”
Ek voel soos ʼn pampoen, want, jou wrintiewaar, daar staan geskrywe:
pom-pom (soort kanon), -s
pompon (blom; klossie), -s