profile pic

Awendrood, môre water in die sloot

Vrydag, 07 September 2018 Geplaas deur Jana Luther

wolke’n Rooi lug in die aand, wanneer die son ondergaan; dit is soms ’n teken dat dit die volgende dag gaan reën. So het die ou mense geglo.

Vir mense wat na aan die natuur leef, dui verskeie dinge aan dat reën naby is. Natuurkinders weet watter winde reënbringers is. Die stand van die sekelmaan, byvoorbeeld, skuins met die onderste punt effens ingetrek, is volgens volksgeloof ’n aanduiding dat dit binnekort gaan reën: “Die maan gooi uit,” word gesê. As die reënpaddas kwaak, as die donderpadda – blaasop, janblom – sy geluid laat hoor, is onweer aan die kom. Vir baie is die kraanvoël ’n simbool van naderende reën. Party mense glo wanneer die petira, die hamerkop, roep of saam met ander van sy soort in ’n groep vlieg, daar groot reën aankom.

profile pic

Kwikkie

Maandag, 03 September 2018 Geplaas deur VivA-redaksie

Deur Pieter Bosman

kwikkieEk glo daar is min mense wat nie ’n sagte plekkie vir kwikkies het nie. Hierdie voëltjie lyk altyd vriendelik en gelukkig – seker maar die stertjie wat so op en af wip. Soos Boerneef sê: “Die kwikkie stap en pik kordaat / hy’s ’n pikkie na my hart.

As kleuter is ek die wolhaarstorie vertel dat mens ’n kwikkie kan vang deur sout op sy stert te gooi. (Later aan het ek gehoor dat dit eintlik van alle voëltjies gesê word.) Wat my aan hierdie storie laat glo het, is daardie etiket op die sout waar ’n seuntjie dit wel regkry om sout oor ’n voëltjie se stert te strooi.

Die eerste deel van kwikstert, nl. kwik (soms ook kweek) beteken ‘lewendig’ en kom ook voor in kwiksilwer, verkwik en kweek(gras) – daardie lewenskragtige gras. In Engels word gepraat van the quick and the dead.

profile pic

Vanwaar kom "poenankies" dan, Gehasi?

Vrydag, 31 Augustus 2018 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

“Sê nou jy glo jy is dom, vet en lelik, dan sal jy nie ver in'ie lewe kom'ie, al dink anner mense ok jy's vreeslik poenankies.”

Só preek Zita vir haar sustertjie in Anzil Kulsen se 2006-debuutroman.

Poenankies beteken ‘oulik’ of ‘fraai’, ʼn lekker alternatief vir die slengwoord cute. Dis ʼn ou bekende woord in die suideliker en westeliker vorme van Afrikaans, maar het eintlik eers onlangs meer bekendheid in die res van die land begin geniet. In die 2017-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls word poenankies vir die eerste keer as Standaardafrikaans erken.

As jy ʼn oningewyde poenankies-gebruiker soos ekke is, is dit belangrik dat jy van ʼn paar taalkundige aspekte van die woord kennis neem.

profile pic

Pediunker, peddie, nellie en wulp

Dinsdag, 28 Augustus 2018 Geplaas deur VivA-redaksie

Deur Pieter Bosman

pediunker (foto: Wikipedia)Binnelanders word dikwels deur name van seevoëls verwar. Dis waarskynlik omdat matrose nie op een plek gebonde is nie en hulle aan ander tale en kulture se benamings vir voëls (en visse) blootgestel word. 

Ek probeer om die oorsprong van die eienaardige naam pediunker te kry, en die beste wat ek kan vind, is dat dit sy oorsprong in Tristan da Cunha het – heel waarskynlik in die eerste helfte van die vorige eeu. Die naam peddie klink asof dit ’n afleiding van pediunker kan wees, maar dis my bespiegeling. Ongelukkig het geen Afrikaanse woordeboek die woord peddie opgeneem nie, dus is daar geen hulp van daardie rigting nie.

profile pic

Proe hoe soet ’n ghoukom smaak

Saterdag, 25 Augustus 2018 Geplaas deur Jana Luther

“Laat jou verhemelte die woorde proe.” Dit sê T.T. Cloete? In “Verhemelte” in sy bundel Met die aarde praat (1992). En Job 12:11: “Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte kos proe nie?”

Daaraan dink ek vandag. Die Elektroniese WAT voor my oop. Die letter "g" van die CD-ROM-uitgawe. Gelok deur die WAT se woorde van die week: “ghoef”, “ghoeliegoen”, “ghoema”. 

Ek laat my dikwels deur die WAT verlei. Woorde van allerlei soorte het ek nodig soos kos. Vandag rol ek my tong om die suigklapklanke van Namakwaland.