Die Engelse werkwoord “run”, vir wanneer ’n mens jou bene op hulle vinnigste gebruik, word in Afrikaans met die werkwoord “hardloop” vertaal. In die meeste ander betekenisse, waar ’n mens nié letterlik met jou voete hardloop nie, is “run” in idiomatiese Afrikaans “loop” of word ’n ander werkwoord gebruik. (“She runs the shop” – “Sy bestuur die winkel.”)
As daar klaar ’n woord is vir ’n ding, hoekom wil ’n mens nog ’n woord hê? “Venue” naas “plek”, “app” naas “toep”, “smoothie” naas “gladdejantjie”?
“So, wat is die meervoud van meerkat?” vra tannie Vrede toe ons saam met haar kolonie kleinkinders oor die gholfbaan in Skukuza slenter, op pad om ʼn Laeveldontbyt by die klubhuis te gaan eet.
“Meerkaaie,” antwoord ek selfversekerd en skop-skop aan iets wat besonder organies lyk.
“Dan was ek verkeerd en my ou vriendin Saartjie reg. Ek dag nog altyd dis meerkatte.”
En net daar, op Skukuza se agste bof, slaan die Groot Taalkundige Vertwyfeling toe …
ʼn Gunstelingtydverdryf onder taalaficionado’s is die soeke na sogenaamde onvertaalbare woorde.
Skuinskoek, padkos, hartbeeshuis en rooibostee.
Gesoute vertalers of taalkundiges sal jou dalk gou vertel dat dit nie vreeslik interessant is nie. Ek is egter nog laf genoeg om iets sinnigs daarin te probeer soek.
Staan vanaand en kosmaak. Die student is by en ek sê: "Gee asseblief vir my die vergiettes aan." Stilte. Beweginglose stilte. "Wat is ʼn vergiettes?" vra hy. Ek verduidelik hoe dit lyk, en die ligte gaan aan. "Ooooo, ʼn colander! Nou hoekom sê jy nie dis wat jy wil hê nie? Dis mos baie makliker om die een woord te gebruik wat almal ken." (Die meisie is Engels, en dié kook lekker. En hy help haar, want hy wil nog indruk maak, dié dat hy weet van ʼn colander.)
Nou kyk, die student eet net pasta. Hy eet al pasta vandat hy sy twee tandvleise teen mekaar kon skuur, en ek dreineer pasta al in ʼn vergiettes vandat ek dit in my ma se huis leer kook het. As my eie kind nie weet wat ʼn vergiettes is nie, is dit niemand se skuld buiten myne nie.