profile pic

VivA stel 'n nuwe app bekend!

Woensdag, 10 Augustus 2022 Geplaas deur Sophia Kapp

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het pas ’n splinternuwe slimfoontoepassing (of app) bekend gestel wat spesifiek geskep is vir gebruikers wat sukkel om Afrikaans te bemeester.

Die app bevat tekste wat oor die skerm rol terwyl ’n stem dit hardop voorlees. Op dié manier word die verband tussen Afrikaans se klankstruktuur en die geskrewe taal vir gebruikers vasgelê. Jong lesers wat sukkel om te lees en taalaanleerders wat nie genoegsame blootstelling aan Afrikaans kry nie, kan met hierdie app hulle beheersing van gesproke en geskrewe Afrikaans verbeter.

Die app is in Afrikaans deur Gustaf Tempelhoff van VivA ontwikkel. “Hierdie app is ’n mylpaal,” sê hy. “Dit het groot uitdagings gestel, maar dit gee ook groot bevrediging om te weet ’n mens skep iets wat vir die hele taalgemeenskap nuttig gaan wees.”

Gustaf het reeds VivA se webblad onder hande geneem sodat dit meer toeganklik is vir blinde en swaksiende gebruikers, en die app is ontwikkel met skermleserbeskrywings wat met toeganklikheidsagteware versoenbaar is. Die app het ook ’n aantal eienskappe wat dit besonder gebruikersvriendelik maak – dit slaan outomaties oor na die donker modus indien dit in die aand gebruik word, en dit kan in die agtergrond speel terwyl ander apps gebruik word.

Die tekste in die biblioteek is lekkerleesstories wat deur bekende skrywers aan VivA geskenk is, en al die stories word deur professionele stemkunstenaars voorgelees. Daar is ook ’n hele aantal Wikipediatekste vir gebruikers wat meer by feitetekste aanklank vind. In hierdie tekste is daar verklarings en vertalings van sekere woorde en uitdrukkings, wat dit veral vir taalaanleerders geskik maak. Die tekste is vir kinders en volwassenes gegroepeer en in vaardigheidsvlakke gekategoriseer sodat gebruikers die tekste kan kies waarby hulle die meeste kan baat.

Die ATKV het ruim bygedra tot die ontwikkeling van die app. Gerrie Lemmer, Uitvoerende Hoof: Kultuur van die ATKV, sê: “By die ATKV besef ons watter belangrike rol boeke en letterkunde in die ontwikkeling en vooruitgang van Afrikaans speel, want dit beïnvloed ons denke, verbreed ons wêrelde en maak ons harte oop. Met hierdie toepassing maak VivA vir ons taal vriende.”

VivA hoop om met hierdie app sy aanbod aan die Afrikaanse taalgemeenskap te versterk en uit te brei. “VivA is besonder bevoorreg om die steun van ’n organisasie soos die ATKV en van die taalgemeenskap self te hê,” sê Marlie Coetzee, VivA se besturende direkteur. “Ons werk met hart en siel vir Afrikaans, en ons glo dat hierdie app die taal op ’n lekker en gemaklike manier vir al sy sprekers meer toeganklik maak.”

VivA se Lees-en-luister-app is tans vir Android-toestelle beskikbaar in jou gewone app-winkel. Gebruikers laai die app af en registreer eenmalig. Bestaande VivA-gebruikers kan aanteken met hulle bestaande besonderhede. Laai die app by hierdie skakel af.

Dit is ’n lewende projek, en die inhoud word gereeld bygewerk. Gebruikers kan dus gerus elke maand inloer om te kyk watter nuwe tekste in die biblioteek verskyn.

VivA-groete

Sophia

profile pic

Om te -de of te -te

Donderdag, 02 Junie 2022 Geplaas deur Sophia Kapp

Trefwoorde: voltooide deelwoord; verlede deelwoord

Een van die taalnavrae wat nogal baie in my virtuele inmandjie beland, is hoe ’n mens bepaal of ’n voltooide deelwoord ’n -te of -de kry.

profile pic

Hoe koel is "cool"?

Vrydag, 13 Mei 2022 Geplaas deur Sophia Kapp

Ek kry die afgelope week of wat skielik heelwat navrae oor die gebruik van die woord cool. Mag ‘n mens die woord gebruik? Wanneer mag ‘n mens die woord gebruik? Hoe skryf ‘n mens die woord as jy hom gebruik?

profile pic

Raaisels in spieëls: beeldspraak, stylfigure en retoriese middele  

Vrydag, 18 Maart 2022 Geplaas deur Stefan van Zyl

Die VivA-taaladviesspan kry onlangs ʼn navraag oor die verskil tussen beeldspraak (imagery) en stylfigure (figures of speech). Aanvanklik het ek gedink dat die antwoord redelik voor die hand liggend is, maar groot was my ontnugtering toe ek dieper begin delf. Vir die doel van hierdie blog het ek die onderskeie Kurrikulum- en assesseringsbeleidverklarings vir Afrikaans (KABV), Literêre terme en teorieë (LTT), die Nederlandse Lexicon van literaire termen (ook op die LTT-webtuiste) en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) geraadpleeg ten einde ʼn antwoord te probeer vind. Ek het ook ondersoek ingestel na die term retoriese middele/middels omdat dit met voorgenoemde terme verband hou.

profile pic

Die debat oor taalkwessies

Woensdag, 02 Maart 2022 Geplaas deur Sophia Kapp
Die afgelope week was vir taalwerkers uitdagend. Daar het in die pers en op sosialemediaplatforms ʼn bakleiery losgebars oor spelling wat ons behoorlik laat bontstaan het. Is die man nou Wladimir Poetin of Vladimir Putin, en wie of wat is jý nou as jy die een of die ander spelvorm voorstaan?